top of page

wanneer alles leeg loop, loop die liefde in…


“Go after a life of love as if your life depends on it, because it does. “ 1 Kor 14:1

Hoe kan ‘n boompie die Here eer? Deur liedjies te sing? Of deur eerder ‘n struik of 'n dier te word?

Nee, deur net ‘n boompie te wees.

‘n Boompie val in by God se kreatiewe liefde. Die boompie is 'n uitdrukking van iets van God, dit wys die idee wat God gehad het en modelleer God deur net ‘n boompie te wees. Hoe meer boompie dit is, hoe meer sal dit iets van God wys.

Ironies dat in die hele skepping dit net die mens is wat ontevrede is met die manier waarop God hulle geskape het. Ons is gedurig onbewustelik besig om onsself te verander en lewens te leef wat nie ons eie is nie. Ons wil die hele tyd iemand anders wees.  Die media herinner jou ook elke dag dat wie jy nou is of hoe jy nou leef nie voldoende is nie maar dat jy produkte en ervaringe nodig het om die liefde van ander en jouself te wen.

In hierdie tyd van isolasie word ons nou gestroop van al die stemme wat ons die hele tyd vra om iemand anders te wees. Die gawe van isolasie is om nou te luister na my eie stem wat ek in God kan kry.

Die beste plek om te soek en agter die liefde aan te loop, is om jou eerste tree na jou eie geskapenheid in God te loop. Dit is waar liefde begin. “Jou naaste soos JOUSELF…” Matt 22:37-40.

Geloofsgewoonte vir die dag:

Maak ‘n lys van al die dinge wat jou laat voel dat jy lewe. Vra dan die vraag: Watter van die dinge bring my nader aan die liefde van God, en watter trek my verder van die liefde van God af.


Dink aan gebeurtenisse in die Bybel waar Jesus gewys het hoe om liefde te leef.  Dink aan die sorg vir armes, honger mense, mense in die gevangenis, straatvrouens, tollenaars en almal wat geen staanplek in hierdie lewe het nie. Waarom koppel Jesus ons liefde vir onsself as ‘n voorwaarde om ander liefde te hê?

Vir ouers: Reflekteer weer oor die oefening van Dag 2. Waarom is ons nie tevrede met onsself nie? Probeer dan ook om die vraag te antwoord: Waarvan hang ons lewe af? Dink aan alles wat ons nou nodig het om in hierdie tyd van isolasie te oorleef. Gesels ook oor die dinge wat ons nie kan sien nie, wat ons nodig het om leef (soos liefde, omgee, ons aandag, ens.) Wat kan ons almal op hierdie stadium vir mekaar en ander gee? Probeer die punt maak dat ons net kan gee wat ons het (liefde soos jouself).

Herhaalgebed:

Here, ek kies U liefde.


Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page