top of page

Geloof in Sekerheid: Wanneer Geloof my Verstrengel




Ons geloof is ‘n reis en nie ‘n bestemming nie. Altyd, op pad. Ons moet dan vra waarheen neem die pad ons? Na grootword! (1 Kor 13:11). Frieda het Sondag gesels oor die begin van die geloofsreis wat maklik en eenvoudig is omdat alles vir jou gedoen word. Jou geloof word verseël deur outoriteitsfigure. Maar dan kom die moeilikheid. Daar is groeipyne, onsekerhede, paradokse, voorbereiding, en alles wat gewone menslike ontwikkeling ook van ons vra. Soms voel jou geloof maar skraps, en jy vra na meer sekerheid. Die frase “Jy moet soos ‘n kind glo” werk nie meer vir jou nie, bloot omdat jy nie meer ‘n kind is nie. Jou aanvoeling is reg, en die soeke na sekerheid is ‘n belangrike reis in geloof. Die soeke na sekerheid, en om vir jouself te dink, lei na ‘n verstrengeling. Ons gesels Sondag oor hierdie belangrike fase van geloof. Verstrengeling beteken dat ek worstel met God en nie noodwendig teen God nie. Die Here sê immers “Come now, and let us reason together” (Jes 1:18), waar ons uitgenooi word om binne ‘n verhouding met God ons geloof te probeer verwoord. Brian McLaren het in sy eerste boek oor die geloofreis dit baie mooi verwoord: “Gradually now, I’m starting to realize what th great mystics of the past knew: God can be experienced through doubt and other spiritual “diseases”. So, I am learning more and more to doubt with God, instead of against God.” Tweedens beteken dit nie die verwerping van jou geloof nie, maar eerder die herbesoek van jou geloof. Ons kan nie alles vir soetkoek opeët nie, maar moet krities ook die moeilike vrae vra. Jesus sou dikwels verwys na geloofsoortuigings en dit herbesoek en ook nuwe betekenis gee met die woord "maar". Matt 5:21-22 “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is… Maar Ek sê vir julle…” Wanneer ons moeilike vrae vra of twyfel dui dit nie op ‘n veharde skeptisisme nie, maar eerder op die nederige bewustheid dat my interpretasies menslik is, gekoppel aan my groeifase en reeds daarom moet dit herbesoek word. Laastens gee verstrengeling my die gawe om my eie stem in God te vind, my eie pad te loop en op my eie voete te staan. "Expressing or even entertaining doubt sometimes takes so much courage that we may say it takes real faith to doubt." Lloyd Geering



- Deur Theo Geyser

bottom of page