top of page

Verslaaf aan sosiale media – die prys van aandag

6 hours ago
11 min read


I don't know exactly what a prayer is.

I do know how to pay attention, how to fall down

into the grass, how to kneel down in the grass,

how to be idle and blessed, how to stroll through the fields,

which is what I have been doing all day.

Tell me, what else should I have done?

Doesn't everything die at last, and too soon?

Tell me, what is it you plan to do

with your one wild and precious life?


Mary Oliver


So watter teksvers gaan sy gebruik hiervoor? Waar in die Bybel verwys Jesus of een van sy profete of volgelinge na iets so nuut, so nóú? Sy gaan nie. En sy loop die gevaar om ‘n “preek” te vermom as ‘n TED-talk-met-‘n teksvers of ‘n wetenskaplike mini-tesis oor die biologiese gevare van hierdie verslawing. Sy wil nie. Sy weet jy weet dit tien teen een reeds. Jou selle ken die prys. 


Ons sê dikwels (en ek parafraseer Paulus in Hebreërs 4): daar is niks wat jy deurmaak wat Jesus nie ook het nie. Hy het elke moontlike tree wat jy kan gee op hierdie aarde, reeds gegee. Die Woord het vlees geword (Johannes). Die Visarendjie van God het in ons benoude vlees kom induik (van Wyk Louw). Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde (Paulus). Maar: Jesus het nie ‘n foon gehad nie. Hy’t nooit met sy duime geskryf nie. Hy’t nie geweet hoe verdoemend lekker ‘n stukkie doom scroll in die middel van die nag kan wees om te ontsnap uit jou eie kop, jou eie lewe nie. Hy’t nie geweet van die “aandag-ekonomie” nie. Of het Hy? 


Die ekonoom en sielkundige Herbert A. Simon het ook nie in 1971 ‘n idee gehad hoe waar sy woorde sou word van (give or take) 2010 af nie: “A wealth of information creates a poverty of attention.” ‘n Byna profetiese uitspraak, dekades voordat slimfone en sosiale media ons lewens begin oorheers het.


'n Oorvloed inligting skep 'n armoede aan aandag. Dit was altyd waar. Kom ons skenk vir ‘n oomblik aandag aan die storie van Martha en Maria. So bekend. Flukse mense like dit nie, lui mense love dit. Dis hoe afgewater ons dit dikwels aanwend en aanhoor. Maar daar gaan veel meer onder die oppervlak aan as hierdie soort stereotipering. Martha ontvang Jesus in haar huis. Maria sit by sy voete en luister aandagtig na Hom. Martha word vies. Sy sloof haar af om alles klaar te maak en Maria sit op haar handjies. Martha konfronteer Jesus. Maar Jesus antwoord: “Martha, Martha (oe, as iemand eers jou naam twee keer sê …), jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat nie van haar af weggeneem sal word nie.” Die Amplified-vertaling sê, “Martha was very busy and distracted with all her responsibilities.” Die Griekse woord wat Lukas gebruik om Martha se toestand te beskryf, dra die betekenis van om weggetrek, afgelei of in verskillende rigtings getrek te word. Dis 'n merkwaardige woord vir ons tyd.


Martha se probleem is nie dat sy te veel doen nie. Dit is dat haar aandag van die belangrikste ding weggetrek word. Jesus veroordeel nie diensbaarheid, gasvryheid of harde werk nie. Hy identifiseer iets diepers: die moontlikheid dat ons so besig kan raak met alles wat om ons gebeur, dat ons nie meer teenwoordig is by die Een wat voor ons sit nie.


En dis dalk die grootste paradoks van ons tyd, die een wat Herbert Simon ook aangespreek het:

Ons kan met honderde mense verbind wees en tog nie werklik teenwoordig wees by die een mens langs ons nie.

Ons kan op hoogte wees van alles wat in die wêreld aangaan, maar geen benul hê wat in ons eie hart omgaan nie.

Ons kan die hele dag na ander mense se lewens kyk, sonder om werklik ons eie lewe te bewoon.


Die gedagte is eenvoudig: In 'n wêreld waar inligting feitlik onbeperk beskikbaar is, word ons beperkte vermoë om aandag te gee 'n uiters skaars en waardevolle hulpbron. En waar iets skaars en waardevol is, ontstaan 'n ekonomie daaromheen.

Sosiale mediaplatforms wat op advertensie-inkomste staatmaak, het 'n finansiële aansporing om ons so lank moontlik op hulle platforms te hou. Hulle ontwerp daarom funksies soos eindelose blaai, outomatiese video's, kennisgewings en algoritmiese aanbevelings om ons aandag te lok en te behou. Hierdie stelsels is natuurlik nie noodwendig daarop ingestel is om vir ons te wys wat waar, goed, mooi of heilsaam is nie. Dit gaan oor betrokkenheid. ‘n Vals vorm van teenwoordigheid. Want betrokkenheid is nie betekenis nie. 'n Woedende mens kan baie betrokke wees, 'n angstige mens kan ure lank bly blaai, 'n mens wat haarself voortdurend met ander vergelyk, kan keer op keer terugkeer vir nóg 'n kykie. Wat ons aandag vasvang, is nie noodwendig wat ons siele voed nie.


Ons het 'n wêreld geskep waarin ons aandag so waardevol geword het dat groot maatskappye miljarde bestee om dit te bekom. En tog gee ons dit dikwels weg asof dit niks werd is nie. Wanneer ons gewaarsku word daarteen, is die wortel voor die neus gewoonlik: jy gaan beter kan fokus, harder kan konsentreer, sterker word, dieper werk kan doen, meer geld verdien … daai soort ding. En dit mag alles waar wees, maar daai was heel moontlik Martha se speelveld ook. Téén die aandag-ekonomie, maar nog nie vír die genade-ekonomie nie. En, soos alle addicts weet en veral dié wat in AA-meetings sit: Wilskrag kry jou net sover. En nie verder nie.


Maria se aandag is nie bloot 'n vorm van ontspanning of mindfulness nie. Sy sit aan Jesus se voete – die tradisionele posisie van 'n dissipel wat onderrig ontvang.

Dit gaan oor meer as konsentrasie. Dit gaan oor dissipelskap as die keuse om ons aandag aan Christus te gee. Maria se aandag is 'n daad van liefde, maar ook 'n daad van weerstand teen alles wat aanspraak maak op haar teenwoordigheid.


Jesus roep Martha (en my) nie bloot tot minder afleiding nie, maar tot 'n ander middelpunt. Jy kan op jou kinders (of jouself) skree tot jy blou in die gesig is: “Klim van die foon af! Gaan raak gras! Weg met screen time!” As die “Nee” vir iets nie vloei uit ‘n veel groter “Ja” vir iets anders nie, sal dit geen inslag vind nie. Veral nie met hierdie soort dwelm, wat in ons almal se bloedstrome is nie. En, maak geen fout nie, dit is ‘n dwelm. Dit is so ontwerp en word so aangewend. En die mees tragiese ding is nie net dat ons tyd “verloor” nie – ons verloor ons aandag. 


Aandag het so ‘n gonswoord geword en ons gebruik dit meestal in verband met aandagafleibaarheidsindroom en dan meestal in kinders. As ons die volgende in gedagte hou, word dit veel meer as ‘n diagnose en ly meeste van ons eintlik daaraan:

Jou aandag is nie net een van die stukke gereedskap wat jy gebruik om jou lewe te leef nie; in ‘n sekere sin IS aandag jou lewe. Jou ervaring van “om lewendig te wees” bestaan uit niks anders as die som van alles waaraan jy aandag skenk nie. Aan die einde van jou lewe, as jy terugkyk, watookal jou aandag getrek het – van oomblik tot oomblik – is eenvoudig wat jou lewe sou beslaan. Die bestaan van baie goed hang daarvan af of kan bevraagteken word, as jy nie aandag daaraan gee nie. Het jy werklik ‘n vriendskap as jy eintlik nooit daaraan dink of aandag daaraan gee nie? Het jy werklik ‘n probleem as dit nooit jou bewustheidsveld betree nie? En as aandag, in hierdie sin, die stof is waarvan ons lewe gemaak is, volg dit logies dat enigiets wat hierdie stof wegneem, enigiets wat ons aflei van hoe ons hierdie aandag – hierdie lewe – leef, stukkies van ons lewe neem. So as jy aandag gee aan iets, gee jy jou lewe … of sagter gestel in Engels: “If you are paying attention to something, you really are paying with your life.” (Oliver Burkeman, 4000 weeks – Time Management for Mortals)


Dis interessant hoe verskillende mense in verskillende lande die “doen” van aandag beskryf. In Engels betaal jy daarvoor (want dis kosbaar). In Spaans leen jy dit (want jy soek dit terug). In Frans maak jy dit (want anders was dit nie daar nie). In Rusland, draai jy dit. In Viëtnam kyk jy dit. In Finland heg jy jou aandag en in Afrikaans (soos in Duits) skenk of gee ons dit. In Hebreeus beteken dit letterlik “sit jou hart op iets”, so in die Bybel is dit grootliks ‘n hartsaak en nie ‘n kopdoktertoestand nie.


Die Latynse wortel vir aandag kom van die woord “attendere” wat beteken om jou uit te rek of uit te strek. Later het die betekenis van “behou” bygekom wat verder omvorm het tot “om jou met sorg toe te wy”. 


Mary Oliver, een van my heel gunsteling digters, het baie geskryf oor aandag. Nie net inligting oor aandag nie. Sy het met aandag geleef. Sy het iets verstaan van wat Burkeman verwoord het. Haar gedigte is altyd vol van die spanning tussen die menstyd op ons polse en die ewigheid in ons harte. Sy begin met die oneindige vrae, gaan kyk dan aandagtig na ‘n ander eindige wese, skenk haar volle aandag aan hierdie sprinkaan, val in die gras, gaan stap deur die velde, besin oor die dood wat uieindelik en altyd te vroeg kom en vra dan die vraag: Wat beplan jy om met jou een wilde, kosbare lewe (wat bestaan uit omtrent 4000 weke, as jy 80 gaan haal) te doen?


Haar eenvoud sny tot op die been: 

Instructions for living a life:

Pay attention. Be astonished. Tell about it.


Dit voel vir my sosiale media begin agterstevoor. Die aandag-ekonomie vra: Hoe kan ons mense se aandag bekom, behou en in geld omskep? Mary Oliver vra: Wat gebeur wanneer ons ons aandag met liefde aan iets of iemand gee?

Die een beskou aandag as 'n kommoditeit. Die ander beskou aandag as 'n vorm van toewyding. Die aandag-ekonomie wil ons aandag besit, terwyl Jesus se genade-ekonomie (as ‘n metafoor, natuurlik) ons uitnooi om ons aandag te skenk.


Die aandag-ekonomie verkoop nie net ons tyd aan adverteerders nie. Dit beïnvloed ook hoe ons na onsself, ander mense en die wêreld kyk. En dit bring ons by die dieper geestelike vraag: Wat het aandag met aanbidding (of toewyding) te doen? Hoekom praat ons hieroor by die kerk, of as ‘n geloofsgemeenskap?


Mary Oliver skryf natuurlik vanuit haar eie verwondering oor die natuur en die wêreld. Sy beskryf hoe diep aandag aan die gewone werklikheid 'n mens se verhouding daarmee verander. Jy kyk nie bloot na 'n boom nie. Jy begin dit raaksien.

Jy sien die lig deur die blare, die vorm van die takke, die kompleksiteit en verweefdheid van die lewe daarin. En hoe langer jy aandag gee, hoe minder word die boom bloot 'n ding in die agtergrond. Dit word iets wat jy liefkry.


Dit is die dilemma en die wonder van hoe ons aanmekaar gesit is:  Ons gee nie net aandag aan dit waarvoor ons lief is nie; ons leer ook liefhê deur aandag te gee.

Iemand het een keer gesê, as jy lank genoeg vir ‘n klip water gee, gaan jy die klip leer liefkry. Dit wat jy versorg, of in stand hou, word dit waarvoor jy sorg en in stand hou. Of in Jesus-taal: Waar jou skat is, daar sal jou hart wees. In die Message-vertaling: The place where your treasure is, is the place you will most want to be, and end up being.


As aandag die begin van toewyding is, moet ons baie ernstig nadink oor wie en wat ons aandag ontvang. Waaraan word ons toegewyd wanneer ons elke dag ure lank ons aandag aan vergelyking, verontwaardiging, bewondering en begeerte gee?

Dit beteken nie dat elke minuut op sosiale media 'n vorm van aanbidding is nie. Maar herhaalde aandag kan ons gewoontes, ons verlangens en uiteindelik ons lojaliteite vorm. 

En dan kry Mary Oliver se woorde 'n amper ontstellende betekenis:

“Attention is the beginning of devotion.”


As aandag die begin van toewyding is, aan wie of wat wy ons onsself dan toe?


Ek dink die rede hoekom dit so moeilik is om aandag te skenk, om besluite maak en om FOMO te vervang met JOMO is omdat ons sukkel om ons oneindigheid en eindigheid te vereenselwig met mekaar. Om jou aandag te skenk aan iets of iemand wat regtig vir jou saak maak bring jou op onvermydelike wyse in kontak met jou eindigheid. Jy word onderwerp om oor te gee aan sekere feite oor die realiteit en jou beperkte beheer oor realiteit – miskien gaan die projek of die verhouding nie perfek wees nie (dit gaan definitief nie voldoen aan jou perfeksionistiese idees daarvan nie), miskien gaan jy ‘n sperdatum mis en iemand teleurstel wie se goedkeuring jy soek, maar om enigiets te begin wat werklik vir jou saak maak, moet jy jouself onderwerp aan die onbeheerbare onsekerheid wat altyd teenwoordig is in skeppende werk. Dis g’n wonder dat dit makliker is om eerder weg te kruip of afleiding te soek nie. Die ongemak daarvan om onsself te gee aan betekenisvolle aktiwiteite is net deel van die ervaring daarvan om ‘n eindige, sterflike mens in ‘n liggaam te wees wat ‘n geesvervulde lewe wil lei.


Daar is twee radikaal verskillende maniere waarop aandag in ons wêreld funksioneer. In die aandag-ekonomie word aandag getrek en vasgehou; in die genade-ekonomie word aandag vrylik geskenk. Die aandag-ekonomie sê jou aandag het kommersiële waarde; die genade-ekonomie sê jou aandag het verhoudingswaarde. Die aandag-ekonomie benader jou as ‘n verbruiker; die genade-ekonomie sien jou raak as mens. Die aandag-ekonomie se doel is om jou vas te bind en langer te laat bly ; die genade-ekonomie se doel is om jou vryer te laat leef. Die aandag-ekonomie se vraag bly by “hoe hou ek jou aandag?”; die genade-ekonomie vra “hoe kan ek jou liefhê?”


Jesus was natuurlik nie so gefokus dat Hy nie onderbreek kon word nie. Sy dagboek was nie van uur tot uur so vol bespreek dat Hy nie plek gehad het vir walk-ins nie. Dis asof Hy juis dié raakgesien het wat nie kon instap nie, wat nie kon stap nie, nie kon sien nie. Ons lees dikwels in een of ander vorm, “Jesus het gaan staan.” Of “Jesus het omgedraai.” In die aandag-ekonomie is stilstand ‘n verlies. Jy moet aanhou beweeg, geraas maak, blaai, kyk, reageer. Stilstand, in Jesus se geval, is dikwels die begin van ‘n wonderwerk. Hy laat hom onderbreek. Mens sou kon sê: Onderbrekings is sy bediening (soos Henri Nouwen tot sy eie frustrasie ook besef het). Dis dalk die grootste kontras tussen die twee “ekonomieë”. Die algoritme probeer my aandag voorspel en vasvang. Jesus gebruik sy aandag om mense (gewoonlik eerder ‘n mens) raak te sien en te bevry. Die een wil my langer laat bly. Die ander sê uiteindelik vir Bartimeus: “Gaan, jou geloof het jou gered.”


Jesus se lewe word nie gekenmerk deur 'n desperate behoefte om aandag te trek nie, maar deur 'n buitengewone vermoë om aandag te skenk. Aan kinders, siekes, vreemdelinge, mense wat deur die samelewing geïgnoreer word, 'n vrou by 'n put, 'n tollenaar in 'n boom, 'n blinde man langs die pad. Simone Weil se woorde gaan deur my: “Attention is the rarest and purest form of generosity.” 


Daar is ‘n groot verskil tussen sigbaarheid (hoe’s jou visibility?) en raak-ge-sien word. Tussen bekendheid en ge-ken-wees.


En Jesus (wat ook hiermee moes saamleef) herinner ons in Matteus 6:


What I’m trying to do here is to get you to relax, to not be so preoccupied with getting, so you can respond to God’s giving. People who don’t know God and the way he works fuss over these things, but you know both God and how he works. Steep your life in God-reality, God-initiative, God-provisions. Don’t worry about missing out. You’ll find all your everyday human concerns will be met. Give your entire attention to what God is doing right now, and don’t get worked up about what may or may not happen tomorrow. God will help you deal with whatever hard things come up when the time comes.


Mary Oliver skryf in haar essay Upstream: "In this universe, we are given two gifts: the ability to love and the ability to ask questions." Wat die digter Rilke genoem het, "living in questions," beskryf Oliver as "keeping attention on eternity." Om in verbondenheid met jou ware self en die dinge wat werklik ewigheidswaarde het te leef. Ons het die ewigheid (die Goddelike) en die tyd (die menslike) in ons. God het die ewigheid in ons harte geplaas (sodat ons nooit heeltemal tevrede sal wees om net binne tyd te leef nie), maar dan ook vir ons lekker liggame met velle gegee wat honger en dors en moeg raak en net 24 uur ‘n dag het, nie op twee plekke gelyk kan wees nie en nie die 8 biljoen ander lewenservaringe kan hê wat ek nie het met my een lewe nie. Maar as wat as dit nie ‘n fout is nie? Nie ‘n val nie? Wat as hierdie frustrerende reëling presies die regte kondisies is vir die uitdrukking van iets wat op geen ander manier uitgedruk sou kon word nie? 


Cynthia Bourgeault vra die vraag: 

Suppose there is some quintessence of the divine heart that can reveal itself only under these conditions, only when thus tensioned, like a cello string pegged between heaven and earth? And if so, what might this quintessence be? What if it is love?


Ons weet, ons kan dit in ons waters voel, soos sy en Mary Oliver:


“Something is wrong, I know it, if I don't keep my attention on eternity.”



- Frieda van den Heever

bottom of page