top of page

Godsdiensverslawing

6 minutes ago
4 min read

Jare gelede kry ek 'n e-pos van 'n jong vrou. Sy het geskryf oor haar lewe voor haar bekering — dwelms, seks, rock and roll — en hoe sy op 'n dag in 'n Charismatiese kerk op Stellenbosch tot bekering gekom het. Sy het later self pastoor geword. Maar op 'n dag, het sy die woord "verslaaf" weer teëgekom — nie in haar verlede nie, maar in haar hede. In haar woorde:” Ek het net die kruk verruil – my dwelm is nou godsdiens.Wat moet ek nou doen?” Sy het gevoel die kerk dink en besluit namens haar en sy het geen lewe van haar eie nie. Subtiel is die wêreld rondom haar verdag gemaak  — elke mens 'n bedreiging, elke vryheid 'n sonde, 'n hele skepping wat God liefhet, as boos bestempel. Ek dink die meeste van ons het al hierdie toegewyde dissipels ontmoet.


Wat ongelooflik was, was nie net haar verwarring nie — maar hoeveel sy reeds oorleef het om by hierdie vraag uit te kom.


En my antwoord vir haar was nie wat sy verwag het nie: moenie nou die kerk bedank nie. 'n Verslawing aan godsdiens is steeds 'n genadiger tronk as een aan dwelms en seks. Wag totdat die klein dogtertjie diep binne jou  — die een wat  'n pa (wettiese kerk) nodig gehad het, 'n hand, 'n reël, of 'n sterk grens  — groot en sterk word. 


Dan, nadat sy haar eie stem gekry het, sal dit die regte tyd wees om te gaan.


So baie van ons het dalk as kinders te veel vryheid gehad, en te min struktuur — en juis daarom vind ons later so maklik aanklank by kerke wat amper soos 'n pa vir ons word: wat vir ons sê wat mag en nie mag nie, wat vir ons dink sodat ons dit nie self hoef te doen nie. Dit is waardevol en kan seker help. Vir 'n seisoen. Maar nooit as 'n permanente woning nie. Ons is nie hier om vir ewig kinders te bly nie — ons is hier om ons eie stem te vind, ons eie roeping, ons eie unieke pad met God. En as ek dit nooit doen nie — as ek nooit my eie stem, my eie grense, binne-in God self ontdek nie — sal ek 'n slaaf bly, my hele lewe lank, ongeag hoe godsdienstig dit lyk. 


Ons gaan die volgende paar weke oor verslawings gesels.


Kom ons begin by die eenvoudige, kliniese definisie: verslawing is 'n herhalende patroon van gedrag, saam met 'n verlies van beheer daaroor.


'n Geestelike lens op verslawing ontsluit iets wat die kliniese definisie alleen nie kan wys nie. Verslawing is nie net 'n gedragsprobleem nie — dit is 'n aanbiddingsprobleem. Dit is 'n begeerte wat in die verkeerde rigting wys. Ronald Rolheiser se kernstelling is dat elke mens gebore word met ’n onblusbare, onrustige vuur van verlange — nie ’n opsie vir sommige mense nie, maar die grondstof van élke spiritualiteit, goed of sleg. Spiritualiteit, sê hy, is nie eerstens wat ’n mens glo nie, maar wat jy met hierdie vuur (begeerte) doen. Dit sluit ook aan by  Augustinus se onrustige-hart-idee, maar Rolheiser maak dit funksioneel: verslawing — aan godsdiens sowel is ‘n poging om hierdie vuur te bestuur. Wanneer ons begeerte op onbeduidende of oppervlakkige dinge gerig word, die resultaat nie bevrediging is nie, maar voortgesette eensaamheid en wortelloosheid.


Johannes skryf aan die einde van sy eerste brief: "My liewe kinders, bly weg van die afgode" (1 Joh. 5:21). En moet nie dink hy praat van Boeddha-beeldjies, Hare Krishna-krale, of 'n Hindoe-god Shiva nie. Die Amplified-vertaling maak dit duidelik: "hou julleself weg van afgode — van enigiets wat God se plek in jou lewe sou inneem." Tim Keller noem dit in sy boek Counterfeit Gods net so: 'n afgod is enigiets wat belangriker word as God — 'n plek waar ons redding soek, maar dit nooit vind nie.


En moet asseblief nie nou dink ons praat oor die alkoholis, die dwelmverslaafde nie. Selfs Gabor Maté, een van die wêreld se voorste kenners oor verslawing, erken openlik sy eie stryd — 'n dwangmatige aankoop van klassieke musiek. Ons praat oor ons werk. Ons aandag wat aanhoudend afgelei word. Ons stokperdjies. Hoe ons geld spandeer, en die lys hou nie op nie. 


En dan, die plek waar jy dit seker die minste verwag: godsdiens.


Hooglied 2:15 sê dit pragtig: "Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in bloei." Dit is nie die groot ramp - soos die magtige olifante wat inhardloop - wat 'n wingerd vernietig nie. Dit is die klein jakkalsies, ongesiens, terwyl alles pragtig lyk.


Kyk na Gideon (Rigters 8:24-27). Hy het juis Baäl se altaar afgebreek. Maar toe maak hy van die goue oorringe wat as buit geneem is, 'n efod (spesiale preisterlike kledingstuk) — waarskynlik as 'n gedenkteken van God se oorwinning. Alles goed bedoel. Maar die teks sê: "die hele Israel het daaragter aan gehoereer." 'n Godsdienstige voorwerp, goed bedoel, word 'n strik — "dit het vir Gideon en sy huis 'n strik geword" (v. 27). Selfs vir die man wat afgodediens self bestry het.


Sondag gesels ons oor godsdiensverslawing en die vreemde paradoks dat selfs geloof ’n afgod kan word—wanneer ons nie meer deur geloof leer vertrou nie, maar dit gebruik om God, onsself en die lewe te beheer.

bottom of page