top of page

Alles, oral tegelyk

4 minutes ago
4 min read

Ons ken almal die uitdrukking: “Jy is oral, maar nêrens.” Dit verwoord dalk die moderne mens se bestaan beter as enigiets anders. Ons liggame sit by die tafel, maar ons is by almal behalwe die mense voor ons. Ons doen alles, skakel oral in, en verloor onsself in die proses. Die kalender is vol, die kop voller, en die hart, dit probeer net bybly. 


Te veel dinge. Te min tyd. Te veel verwagtinge. Te min asem.


Dit nie in die eerste plek ’n tydsprobleem nie. Of selfs net ’n kulturele probleem nie. Dit ten diepste ’n identiteitsprobleem. Ons is so besig om alles te probeer wees, dat ons nie meer weet wie ons is nie.


Die fliek Everything Everywhere All at Once (2022), wat sewe Oscars gewen het, speel op ’n absurde en briljante manier met hierdie vraag. Evelyn Wang is ’n ma wat onder die gewig van die gewone lewe kreun: ’n wassery, belastingprobleme, ’n huwelik onder druk en ’n gespanne verhouding met haar dogter Joy. Dan ontdek sy dat daar ander weergawes van haarself in ander heelalle bestaan. Deur tussen hierdie heelalle te beweeg, kan sy die vaardighede en moontlikhede van al die ander lewens wat sy kon geleef het, benut. Sy kan ’n kung-fu-vegter, kunstenaar of ster wees. Byna enigiets!


Waarom net een lewe leef as jy duisende kan hê? Waarom een identiteit kies as jy almal kan wees?


Maar haar dogter Joy is oorweldig deur die eindelose moontlikhede. Een van die fliek se treffendste beelde is die sogenaamde “Everything Bagel”: alles word daarop gepak – elke ervaring, gedagte, emosie, teleurstelling en moontlike uitkoms. Alles. Oral. Tegelyk. Maar uiteindelik verander hierdie alles in ’n swart gat wat alles insluk. 


Die absolute alles word die absolute niks.


Dit is ’n merkwaardige beeld. Wanneer elke moontlikheid oopstaan, raak dit al moeiliker om te kies. Wanneer alles betekenis moet hê, loop ons die gevaar dat niks meer betekenis het nie. As ek alles kan wees, behoort ek mos vry te wees. Maar as ek voel ek móét alles wees, verloor ek myself.


Augustinus het eeue gelede reeds ’n taal gehad vir hierdie innerlike diaspora. Hy beskryf die menslike siel as distentio animi – ’n siel wat uitgerek en oor tyd versprei word. Ons leef in gister se spyt, môre se bekommernis en vandag se eindelose eise. Ons aandag is oral, maar ons is nêrens werklik teenwoordig nie.


Die vals self het eintlik net een groot projek: om die holtes vol te maak. Met prestasie, besittings, erkenning, verhoudings, ervarings en mense se goedkeuring probeer ons genoeg voel. Ons probeer iemand word, onsself bewys en seker maak niemand sien hoe onseker ons soms is nie.


Die verlore seun besoek ander “heelalle” in die hoop dat hy daar iemand sal word. Maar sy maer siel en leë maag bring hom terug na wie hy werklik is. 


Hier kry jy jou ware self.


Advent leer ons hierdie pad. Die God wat oral teenwoordig is, kies om in Christus op één plek teenwoordig te wees. Die Ewige tree die tyd binne. Die Een wat hemel en aarde vul, word ’n menslike liggaam. Die Woord deur wie alles ontstaan het, word ’n kind in ’n krip.


Frederick Buechner skryf in The Magnificent Defeat oor die twee groot gevegte van ’n mens se lewe. Die eerste gaan oor oorlewing: jou beroep, jou kinders, jou verantwoordelikhede, jou rekeninge en die daaglikse stryd om kop bo water te hou. Die tweede geveg gaan oor iets moeiliker: om mens te word. Om op te hou probeer om meer as mens te wees. Om nader te kom aan jou eie stryd en innerlike gevegte. 


Waarom is ons so bang om onkundig te wees? Waarom moet ons altyd die antwoord hê – asof ons alwetend moet wees? Waarom sukkel ons om ons magteloosheid te aanvaar – asof ons almagtig moet wees? Waarom is dit so moeilik om afhanklik te wees? Waarom moet ons alles beheer? En waarom is dit so ontstellend om ’n fout te maak – asof ons onfeilbaar moet wees?


Ons probeer God se eienskappe leen om ons menslike onsekerheid te besweer. 


Ons wil alles weet, alles beheer, oral wees en nooit verkeerd wees nie. Maar die evangelie nooi ons nie om meer goddelik te presteer nie. Dit nooi ons om mens te word.


En tog praat die Bybel van ’n merkwaardige volheid wat ons ontvang. Romeine 8 beskryf ons as erfgename van God en mede-erfgename van Christus. Kolossense 2:10 sê: “Julle het die volheid in Hom.” In 2 Korintiërs 6:10 lees ons van mense wat “niks besit nie en tog alles het”. En 2 Petrus 1:4 praat daarvan dat ons deelgenote van die goddelike natuur word.


Beteken dit dat ons tog alles, oral en tegelyk kan wees?


Nee. Ons ontvang die volheid, maar word nie self die Volheid nie. Ons deel in God se lewe, maar neem nie God se plek in nie. Ons hoef nie die Bron te wees om uit die Bron te leef nie. Soos die kind in Psalm 131 bly ons die kind. Ons word nie skielik die moeder nie. 


Maar hier is dalk die verrassende vraag: Wat as ek alles, oral en tegelyk kan ontvang, sonder om alles, oral en tegelyk te probeer wees? Of dalk makliker gesê: Wat as ek nie alles hoef te wees om ’n vol lewe te hê nie? 


As die Almagtige tevrede was met ’n krip in Betlehem, kan ek dalk tevrede wees met my tweedehandse motor en my bekommernisse oor my aftrede? Die Een wat alles gemaak het, het gekom sonder om iets saam te bring. Die Een wat oral is, het Hom op één plek laat vind.


Die ware self weet dat die geheim van ’n vol lewe: nie om alles te besit of oral te wees nie, maar om te ontdek hoeveel reeds aan ons geskenk is.


Sondag gesels ek oor wat dit beteken om in en vanuit jou ware self – jou oorspronklike geskapenheid – te leef. Nie om méér as mens te word nie, maar om méér mens te word. Nie deur jouself voortdurend te probeer oortref nie, maar deur die lewe ten volle te ontvang wat God jou gegee het.


- Theo Geyser


bottom of page