top of page

Selfie, kom huis toe (op die wysie van Jantjie) – ‘n ode aan binnelandse sake (oor belydenisse en geboortesertifikate)

2 hours ago
12 min read


Hoe laat het ek U liefgekry,

O Skoonheid, so oud en tog so nuut, hoe laat het ek U liefgekry!

U was binne-in my, maar ek was buite myself.

En daar buite het ek na U gesoek.

U was by my, maar ek was nie by U nie.

U het geroep, U het uitgeroep,

en deur my doofheid gebreek.

U het gestraal, U het geskitter,

en my blindheid verdryf.

U het u geur versprei;

ek het dit ingeasem,

en nou smag ek na U.

Ek het U geproe,

en nou honger en dors ek na U.

U het my aangeraak,

en nou verlang ek na u vrede.


Augustinus 


Hoekom soek ek oral buite as God binne is? Hoe ver kan ek reis voor ek besef “oos wes tuis bes”? Hoekom is ek so buite myself as my diepste hunkering eintlik tuiskoms is? Ek wonder of die einste Augustinus nie ook ‘n klein aandeel dáárin het nie? 


Sy ander bekende uitdrukking het jy dalk al gehoor: “Here, U het ons vir Uself gemaak, en ons harte bly rusteloos totdat hulle rus vind in U.”


In hierdie enkele sin lê daar ’n hele verstaan van menswees en spiritualiteit opgesluit. Ons waardigheid én ons ewige rusteloosheid kom uit dieselfde bron. Daarom mag jy jouself maar die heilige toestemming gee om ’n wilde hart te hê. ’n Rustelose hart. ’n Hart wat nooit heeltemal versadig is nie. ’n Ingewikkelde hart. ’n Hart wat bly soek, bly verlang, bly hunker na meer. Te dikwels het die sielkunde én die geloofslewe ons in die steek gelaat deur ons te laat glo dat daar iets fout is met ons as ons lewens deurmekaar is, as ons onrustig voel, as ons nie altyd innerlike vrede ervaar nie. Asof ’n mens eers heel en gesond is wanneer daar geen chaos of rusteloosheid meer in jou binneste is nie. Maar miskien is jou rusteloosheid nie ’n teken dat daar iets met jou verkeerd is nie, skryf Ronald Rolheiser. Miskien is dit juis ’n teken dat daar iets diep binne jou lééf… en dat jy nie hoef weg te kruip of weg te hol daarvan nie. Augustinus het ‘n leemte beskryf – die Godgat, of die Hereholte, in elkeen van ons. Ek dink egter daar’s meer.


Dieselfde Augustinus het ook sy invloed as kerkvader gebruik om die leer van erfsonde sistematies te ontwikkel. Die uitdrukking "in sonde ontvang en gebore" het die “slag/spreuk” hiervan geword en het sy oorsprong in Psalm 51:7 wat tradisioneel aan koning Dawid toegeskryf word. Maar daar is 'n belangrike onderskeid tussen die oorsprong van die woorde en die ontwikkeling van die dogma wat ons vandag daarmee verbind. Die uitdrukking self is dus veel ouer as Augustinus. Hy het dit nie uitgedink nie, maar het 'n deurslaggewende rol gespeel in hoe die Westerse kerk dit begin verstaan het.


Psalm 51 – ‘n Boetelied van Dawid toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het – lees so: 


Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.

Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.



Dawid staan voor die verskriklike waarheid van wat hy gedoen het. Hy kan homself nie meer verdedig nie. Hy kan nie sy optrede verskoon of sy skuld op iemand anders pak nie. Hy kan nie langer voorgee nie. En dan sê hy: "Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het."

Dit is 'n mens wat tot in sy fondamente geskud is deur die besef van sy eie skuld.

Hy sê as't ware: My sonde is nie 'n voetfoutjie nie. Dit is nie bloot 'n verkeerde besluit wat ek geneem het nie. Daar is iets diep in my wat verkeerd loop. So diep dat ek nie eers weet waar dit begin nie. Maar: Dawid staan nie by 'n wiegie en beskryf 'n baba nie. Hy staan voor God en bely sy eie skuld. Ons het 'n gedig van 'n volwasse mens wat worstel met die donkerste dele van homself, en ons het dit deur die eeue ook gebruik om 'n leerstelling te formuleer oor die toestand waarin elke mens die wêreld binnekom.


Die Heidelbergse Kategismus sê in vraag 6 dat God die mens goed en na sy beeld geskep het. In vraag 7 volg die uitspraak oor die mens wat in sonde ontvang en gebore word. Ons het 'n uitdrukking uit die sewende vraag van die Kategismus so diep in ons geheue ingeprent dat ons soms die antwoord op die sesde vraag vergeet het: God het die mens goed geskep, na sy eie beeld. Ek dink Kurt Darren het ‘n liedjie geskryf daaroor en anders as met “brainrot” dra die volgorde hiervan as’t ware betekenis! 6-7 … Hier lê 'n belangrike onderskeid: Psalm 51 is oorspronklik 'n gebed van skuldbelydenis. Die Heidelbergse Kategismus gebruik dit as grondslag vir 'n algemene leerstelling oor die menslike natuur. Sonder om die erns van sonde te ontken – want julle weet mos: jy kan die girl uit die NGK haal, maar nie die NG uit die girl nie – is hierdie beweging van poësie na dogma iets wesenliks om in gedagte te hou. As ons bv. sou kyk na Psalms 22, 71 en 139 kry ons ‘n baie meer volledige Bybelse beeld van menswees. 


U het my die eerste lewenslig laat sien,

my veilig laat rus aan die bors van my moeder.

Van my geboorte af is ek onder u sorg,

van die begin van my lewe af is U my God.


Ps. 22


U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.

Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.

Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.

Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge

toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie,

toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.

U het my al gesien toe ek nog ongebore was,

al my lewensdae was in u boek opgeskrywe

nog voordat ek gebore is.


Ps. 139


Ek wil nie my eie gereformeerde tradisie afbreek nie. Ek vra maar net: het ons nie dalk een deel van die Bybelse verhaal so hard vertel dat ons 'n ander deel skaars gehoor het nie? 

Wat gebeur wanneer ons 'n mens se diepste skuldbelydenis gebruik as die eerste definisie van elke pasgebore kind? 

Wat gebeur as ons die taal van 'n mens se diepste berou die eerste woordeskat word waarmee ons oor 'n nuwe lewe praat?

Wat gebeur as 'n kind se verhaal met skuld begin, voordat ons iets gesê het oor verwondering, seën of geliefdheid?

Wat gebeur wanneer ons die taal van belydenis verander in die taal van identiteit?

Wanneer ons uit ons sondigheid ‘n hele identiteit skep? 


Pelagius, een van die vroeë Keltiese Christelike denkers, het hom verset teen die leer van erfsonde soos dit deur sy tydgenoot Augustinus ontwikkel is. Pelagius het geglo dat dit ons geestelike groei eerder skade doen as bevorder wanneer ons by die negatiewe begin – by erfsonde. Om eerder by dit wat reg en goed is te begin as by dit wat verkeerd is, is volgens hom die gesondste en mees hoopvolle pad na heelheid. Pelagius het volgehou dat ons die beeld van God in elke pasgebore baba kan sien. En hoewel sonde daardie beeld kan verdof, bly dit diep in die hart van elke mens teenwoordig, waar dit wag om deur die genade van God weer na vore te kom. Hy’t eintlik gesê: ‘n Belydenis is nie ‘n geboortesertifikaat nie.


Só ’n oortuiging lei tot heeltemal ander waardes as wanneer jou hele wêreldbeskouing begin by ’n teologiese of morele probleem wat opgelos moet word. Dan gaan verlossing nie in die eerste plek daaroor om uit ’n sondige wêreld te ontsnap sodat jy hemel toe kan gaan nie. Genesis begin immers met ses uitdruklike bevestigings van God se oorspronklike seën, van die inherente goedheid van die skepping (Genesis 1:10–31). En die woorde erfsonde of oorspronklike sonde kom nêrens in die Nuwe Testament voor nie. Tog het die kerk só behep geraak met die vlieg ín die salf, dat ons die oorspronklike seën (die salf, die genesing) heeltemal vergeet het. Ná Augustinus het die meeste Christelike teologieë hulle fokus verskuif: weg van die positiewe skeppingsverhaal in Genesis 1, na die meer negatiewe verhaal van Genesis 3 – die sogenaamde sondeval: Die Probleem. In plaas daarvan om God se groot oorspronklike bedoeling met die mens en die skepping te omhels, het Christene ons verstaan van Jesus én Christus al hoe kleiner gemaak. Ons het Jesus hoofsaaklik begin sien as iemand wat ’n probleem moes kom oplos, eerder as Iemand wat die hart en die beeld van God aan ons kom bekend maak het. ‘n Probleemoplossing eerder as ‘n openbaring. 


Jy moet by ’n JA begin. Jy kan nie by ’n NEE begin nie, want dan het jy eintlik nog glad nie begin nie.



Greg Boyle, ‘n Katolieke priester, vertel hoe hy oor en oor vir bendelede sê dat die God van liefde nie in die eerste plek sonde raaksien nie: “God sees son (or daughter); not sin.” Ek glo, soos Richard Rohr, dat Augustinus die leer van erfsonde met deernis bedoel het. Maar deur die geskiedenis heen het hierdie leer ons met die verkeerde voetjie uit die bababedjie laat opstaan … 


Ons het met ’n NEE begin in plaas van ’n JA. Met wantroue in plaas van vertroue.


Ons probeer nou al eeue lank om die sogenaamde probleem op te los wat, soos ons geleer is, diep in die kern van ons menswees lê. Maar wanneer jy by ’n probleem begin, is die gevaar dat jy nooit verder as die probleem kom nie. Sonde is nie die eerste of belangrikste waarheid oor ons nie. Voordat ons enigiets anders is, is ons na die beeld van God geskep. En ons is gemaak om daardie beeld deur ons manier van leef te weerspieël. Voordat die Bybel enigiets anders oor ons sê, sê dit dat ons goed is. Later sê dit ook, “Niemand is goed nie, selfs nie een nie.” En ons kan beide hoor, maar slegs wanneer ons diep gewortel is in die wete dat God ons goed geskep het, kry ons die moed om ook al die ander waarhede oor onsself in die oë te kyk – selfs die moeilike, pynlike waarhede. Liefde is die salf wat genees.


Op een manier was die leer van erfsonde tog goed en waardevol. Dit het ons immers geleer om nie verbaas te wees oor die broosheid en verwondheid wat ons almal met ons saamdra nie. Wanneer ons besef dat ons almal dieselfde verwondheid deel, behoort dit ons te help om met groter vergifnis en deernis na onsself én na mekaar te kyk. Nie as 'n aanklag teen ons voorouers of die kerk nie, maar as 'n uitnodiging om ons Bybel vollediger te lees.


Want miskien het ons albei Psalms nodig. Psalm 51 leer my om nie my sonde te ontken nie. Psalm 139 leer my om nie my wonderbaarlikheid (is dit ‘n woorde?) te ontken nie. En albei kan waar wees. In 'n 2024-artikel in die Suid-Afrikaanse vaktydskrif Old Testament Essays, getiteld Shaped in Iniquity or Knit Together by God?, ondersoek Melak A. Tsegaw juis die spanning tussen Psalm 51 en die Psalms wat van God se sorg vanaf die moederskoot getuig. Hy bespreek o.a. die moontlikheid dat Psalm 51 se taal 'n vorm van poëtiese intensivering is: die digter ervaar sy sonde as iets wat sy hele bestaan deurdring, selfs terug tot by sy geboorte. 


Dit maak die volgende onderskeid moontlik: Psalm 51 kan 'n diep waarheid oor die mens se sondigheid uitdruk sonder dat dit bedoel is om 'n volledige leerstelling oor die ontologiese toestand van elke pasgebore baba te wees.


Miskien is die belangrikste vraag nie of die mens sondig is nie, maar of sonde die diepste waarheid oor die mens is. Want die Bybel begin nie met die sondeval nie; dit begin met ’n seën. En lank voordat die mens vir God weggekruip het, het God na die mens gekyk en gesê: Dit is baie goed.


Miskien het ons te lank vir mense vertel waarvan hulle gered moet word, sonder om genoeg te vertel waarvoor hulle geskep is.

Ons het hulle vertel van die sondeval, maar te min van die skepping.

Van hulle skuld, maar te min van hulle waarde.

Van die noodsaak van bekering, maar te min van die vreugde van tuiskoms.

Ons het hulle geleer om te sê: "Ek is in sonde ontvang en gebore."

Maar het ons hulle ook geleer om te sê: "Ek is wonderbaarlik gemaak"?

En dalk is dit nie twee uitsprake wat mekaar uitsluit nie.

Dalk het ons albei nodig.

Want ek kan diep sondig wees sonder om waardeloos te wees.

Ek kan verlore wees sonder om onbemind te wees.

Ek kan herstel nodig hê sonder dat my hele bestaan 'n fout is.


God leaves me free to be whatever I like.

I can be myself, or not, as I please.

I am at liberty to be real, or unreal.

I may be true or false, the choice is mine.

I may wear now one mask, and now another

And never, if I so desire, appear with my own true face.

 

To work out my own identity in God

Which the Bible calls “working out our salvation”,

Is a labour that requires sacrifice and anguish, risk and many tears.

 

I do not know clearly beforehand what the result of this work will be,

The secret of my full identity is hidden in God.

God alone can make me who I am,

Or rather who I will be when at last I fully begin to be. 


Thomas Merton


Volgende Sondag begin ons weer die kerklike seisoen waarin ons wag op die koms van Christus. Miskien ken ons die Kersverhaal so goed dat ons vergeet hoe vreemd dit eintlik is!

Wat doen God met hierdie mensdom wat wegkruip?

Wat doen God met mense wat skaam is vir hulleself?

Wat doen God met mense wat nie eers meer weet wie hulle werklik is nie?

God word een van hulle. Nie 'n engel nie. Nie 'n bonatuurlike wese wat van 'n veilige afstand af vir ons wys hoe om beter mense te wees nie. 'n Mens. 'n Baba. Met vel en bene en bloed. Met honger en dors. Met 'n liggaam wat koud kry. Met 'n lewe wat volkome afhanklik is van iemand anders se arms.


Die God vir wie ons wegkruip, kom na ons toe as 'n kind wat self vasgehou moet word.

In Hebreërs 2:11 lees ons: "Hy skaam Hom nie om hulle sy broers te noem nie."

Dis amper asof die hele Kersverhaal in daardie paar woorde opgesom word.

Die mens wat in Genesis wegkruip omdat hy skaam is, word in Christus tegemoet gekom deur 'n God wat sê: "Ek skaam My nie vir jou nie."


God skaam Hom nie vir jou menslikheid nie. Nie vir jou afhanklikheid nie. Nie vir jou kwesbaarheid nie. Nie vir die feit dat jy nie alles onder beheer het nie. Jou ego is dalk skaam daaroor, maar (in die onsterflike woorde van alle selfhelpgurus): your ego is not your amigo!


God het gekom om jou te ontmoet waar jy is. En ja, daar is dinge in jou lewe wat skeefloop, daar is sonde wat bely moet word, daar is wonde wat versorg moet word, daar is verhoudings wat herstel moet word. Maar jy hoef nie eers 'n ander mens te word voordat God in jou kom woning maak nie.


En miskien is dit die uitnodiging waarmee ons Advent kan binnegaan.

Nie om nog harder te probeer om 'n beter weergawe van onsself te word nie.

Nie om nog 'n mooier selfie te neem nie.

Om op te hou wegkruip.

Om huis toe te kom. 

En dan, soos Jakob (en Augustinus) te besef: Waarlik, die Here was op hierdie plek en ek het dit nie geweet nie!





KOM SEBLIEF HUIS TOE


Kom seblief huis toe. Kom seblief huis toe.

Vind die plek waar jou voete die pad ken 

en volg jou eie spoor terug huis toe.


Kom seblief huis toe. Kom tog tuis in jou eie lyf,

jou eie vaartuig, jou eie stukkie aarde.

Kom woon weer in elke sel van jou wese,

en wees voluit hier, in die ruimte wat jou omring.


Kom seblief huis toe en wanneer jy uiteindelik daar is,

bly seblief ’n rukkie.

Kom tot rus.


Koester hierdie tuiste van jou.

Wees lief daarvoor. Omhels dit.

Leer ken die gevoel, 

die diep, diep gevoel 

van werklik tuis wees.


Kom seblief huis toe en wys ons ook die hoekies en draaitjies van jou binneste          wat uitroep om gesien te word.

En as jy regtig-egtig gereed is, en jy ’n onmiskenbare hunkering voel om uit te asem, kom dan seblief uit.

Kom huis toe en kom dan nader.


Wys ons wie jy is.

Vertrou ons seblief om jou te sien, te hoor en jou aan te raak,

om jou te herken so goed ons kan.


Kom seblief huis toe, en wys ons wat daar nog méér in jou skuil, 

wat wag om uit te kom.


Kom seblief huis toe, want jy hoort hier.

Hier tussen ons.

Kom neem jou plek voluit in, sodat ons by jou kan leer – 

deur jou stem en jou woorde, 

maar veral deur jou teen-woordigheid.


Kom seblief huis toe. Kom seblief huis toe.

En wanneer jy tuis voel, verwelkom ons ook seblief.

Want ons vergeet ook maar dat ons iewers hoort dat daar vir ons ook plek is,

dat ons ook welkom is,

en dat ons ook geroep word 

om voluit te wees wie ons is.

Kom seblief huis toe. Jy en jy en jy. En ek ook.


Dankie, Aarde, dat jy vir ons plek maak.

En dankie vir die aanraking

van oë en ore en vel,

vir die aanraking van liefde

wat ons telkens weer verwelkom.


Mag ons wakker word en onthou wie ons werklik is.

Kom seblief huis toe.

Kom seblief huis toe.

Kom seblief huis toe.


Jane Hooper (vry vertaal)



Frieda van den Heever

bottom of page