Verslawings - Aanvaarding

Ek wens ek was ’n klip
Ek wens ek was 'n klip wat heeldag net sit
So hou ek van dit
Op sy gemak, in die son en bak
'n Klip sit heeldag op sy bas
– Zirk Bergh
As dinge te veel raak kry ek partykeer sulke klip gedagtes soos hierdie liedjie. Die bekende naam Simon Petrus sou in sy tyd meer soos “Simon Klip” geklink het. Interessant genoeg is daar heelwat name in die evangelies wat amper soos byname lyk. Judas Iskariot, Jakobus en Johannes die seuns van donder, Simon Kananeus, Matteus die tollenaar… Party van hierdie name het voor die hand liggende betekenisse en ander (soos Iskariot) kan ons vandag nie vir seker verduidelik nie.
Wat ons wel weet is dat Petrus vir een of ander rede bekendgeword het as Simon Klip. Die hoogtepunte van sy storie kan nogal lees soos ’n soeke na watter soort klip hy veronderstel is om te wees: Die een wat graag op water wil loop, maar dan sink soos ’n klip. Die een van wie Jesus sê dat hy die rots sal wees waarop sy gemeente gebou word, maar in dieselfde episode noem Jesus hom ook ’n struikelblok (Matt.16). Hartverskeurend, die een wat oortuig is dat hy nie anders sal kan as om rotsvas agter Jesus te staan nie. As ons weer sien sê hy van Jesus: “Ek ken Hom nie, vrou!” (Luk.22:54).
Nou lyk die lewe van ’n klip nie meer so eenvoudig soos in Zirk Bergh se liedjie nie. Petrus se storie is so aangrypend omdat dit so kenmerkend menslik is. Selfs al was ek ’n klip, was ek meer as net een ding. Soms is ons beste bedoelinge die klippe waarteen ons, ons tone die hardste stamp. Soms berou ons bitterlik dat ons teen ons eie grein opgetree het. Dikwels doen ons dit omdat ons so maklik smag na aanvaarding.
Die Here het omgedraai en stip na Petrus gekyk, en Petrus het die woorde van die Here onthou, dat Hy vir hom gesê het: “Voordat 'n haan vandag kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil.
Lukas 22:54-62, AFR2020
By ’n braai, by die werk, in ’n gesprek met vreemdelinge, dit maak amper nie saak waar nie, om te doen en te sê wat nodig is om aanvaar te word en in te pas kom sommer vanself. Selfs in die kleinste interaksies jaag ons aanvaarding na, want in die groter prentjie is dit lewensbelangrik. Wanneer Petrus maak asof hy nie vir Jesus ken nie, selfs al het hy gesê hy sal dit nooit doen nie, is sy lewe immers op die spel. Ek wens beslis nie ek nie ek was Simon Klip nie.
I don’t wanna be the bad guy anymore […] is it turbo to want a friend, or a medal, or a piece of pie once in a while? Is it turbo to want more out of life? - Wreck-it-Ralph
Om turbo te gaan in die fliek Wreck-it-Ralph, is om nie die rol te speel wat vir jou gegee is om te speel nie. Dis om dalk selfs uit die speletjie waarin jy vasgevang is te probeer breek. Wreck-it-Ralph erken aan sy AA-agtige ondersteuningsgroep, Bad-Anon, dat hy ook maar net soms smag na die dinge waarna almal soms smag. Hulle waarsku hom dadelik dat hy net nie moet dink hy kan verander wie hy is, of wie die speletjie vir hom voorskryf om te wees nie.
Luke Burgis glo dat ons in ’n tyd leef waar dit makliker as ooit te vore is om iewers te vind om in te pas. Die moeilikheid is dat ons saam met die behoefte aan aanvaarding ook ’n onmiskenbare behoefte aan opregtheid het. Die twee behoeftes trek tou, en soms wil ons eerder net wegkom van die spanning. Dan gryp ons na die een punt of die ander, want dit voel soms onmoontlik om albei vas te hou.
Dis maklik om te dink Petrus was eintlik maar een van die slegte appels in die sakkie wat nou maar eenkant toe moes skuif ter wille van die res. Dis nou maar die rol wat hy moes speel. Wat as Simon Klip nie so slegte ou was nie? Dalk net ’n gewone ou? Wat na die gewone goed smag? Simon Klip se storie wys wat Wreck-it-Ralph ook sê: Kan ek nie aanvaar word met al my teenstrydighede nie? G’n mens pas net in een kategorie nie. Kan ons dit nie ook maar erken nie?
Wie en wat ook al ek kies om weg te steek of mis te kyk het gewoonlik ook iets belangrik om vir my te wys. Al is ek bang om soos die bad guy te lyk, kan ek gerus by Petrus leer dat dit menslik is om nie sommer maklik te weet wie ek moet wees nie.
Die bekende Serenity Prayer het veral gewild geword danksy die waarde wat Alkoholiste Anoniem daaraan heg. Dit het te doen met aanvaarding:
God, gee my die gemoedsrus
om te aanvaar wat ek nie kan verander nie
die moed om te verander wat ek wél kan
en die wysheid om die verskil tussen die twee te ken.
Die soeke na aanvaarding én dit wat ek moeilik aanvaar, in ander én in myself. Dis alles deel van die pad wat ek stap om saam met God te ontdek wie ek is. Jesus gooi nie vir Simon Klip eenkant toe nie. Hy word nogtans die rots waarvan sy unieke naam praat. Wanneer hy hoor die klip voor Jesus se graf is weggerol, steur hy hom nie aan die mense by hom wat dit as nonsens afmaak nie. Hy hardloop na die graf toe, hy sien vir homself. Vandaar gaan hy huis toe vol verwondering (Luk. 24:12).
It was my life – like all lives, mysterious and irrevocable and sacred.
So very close, so very present, so very belonging to me.
How wild it was, to let it be.
– Cheryl Strayed
Mag ons genade vind daarin om ons eie, besonderse lewens te ervaar en te aanvaar. En mag ons daardie aanvaarding vir die mense wat oor ons pad kom ook gun.
- Deon Meiring




