top of page

ONS DROOM | MANIFESTO

InVia Manifesto

In die WEG

Die pad kom deur eeue heen. Hier dink ons diep na oor wie ons is en waaroor die lewe gaan.

Hier vind ons sin.
 

Hier ontdek ons wat dit beteken om saam met Jesus te leef en...
...proe ons dit waarna ons dors.

 

Die soeke na en die afdwaal van hierdie pad...
...som mense deur die eeue se verhaal op.

 

Weg van dié pad loop ander paaie, paaie waar mense hulself verloor met geld, goed en godsdiens. Op daardie paaie kry ons seer en raak ons mank.

InVia beteken om oppad te wees.

Ons sien alles en almal om ons deur ons eie gebreek-wees en daarom soek ons saam na die pad van een-word met:

  • Die Een wat die pad IS en ken,

  • mense vir wie die pad 'n nuwe soort lewe kan bring,

  • die aarde wat weer kan asemhaal as ons haar omhels as skepping van God.

 

Die pad sal altyd oppad wees, 'n reis en nie 'n plek waarby ons aankom nie.

'n Uittog eerder as 'n aankoms.

Dit is bedoel vir mense wat soek en nie mense wat settle nie. Vir brawe praters en roekelose doeners en nie net getroue troosters of 'n bevoorregte binnekring nie.

Op dié pad is die binnekring ook die buitekring, en elke einde 'n nuwe begin. Erens het Iemand gekom en gesê dat Hy nie net die pad ken nie, maar dat Hy die pad Is.
 

InVia glo dat híérdie pad die duidelikste in Jesus gesien kan word.

In die WAARHEID
 

InVia loop ook die pad met ons hele menswees.

Denke wat hul drakrag oorskat, word soos afgode. Wanneer die ware meer waar gemaak word as wat dit is, dan word die pad kamma-waarheid.
 

Drome, gesigte en stories wys ook die pad.

Die pad word nie net uitmekaar gehaal en oordink nie, maar word ook liefgehê, want dit is die beste manier vir lewens om te groei.

Die pad deur die hart erken die geheim wat in elk van ons opgesluit is waarbinne ons ons eie unieke — deur God gegewe — aanmekaarsit kan uitleef. Dit gaan nie soseer oor die mens wat ken nie, maar eerder om geken te word deur Iemand. Net soos wat babas deur moeders vasgehou word en nie hul moeders regtig kan verstaan nie, maar wel ervaar dat hul geken word.
 

Die verstaan van onsself word nie net aangeleer nie. Dit is soms ook die afleer van alles wat nie 'ek' is nie. Ons verstaan van God is dikwels iets anders as wie God regtig is.

 

InVia wil daarom ook in ons verstaan van God erken dat ons nog op pad is.

Ons aanbid nie ons eie idee van God nie, maar die God wat ons idees gee. Hoe ek glo is net so belangrik as wat ek glo. Alles in ons moet die taal van geloof leer ken.

 

Daarom wil ons by InVia die pad saam met God loop.
 

Ons strewe om aan die een kant die wonder van die verrassende, vrye paaie van die Gees te beleef — fluisterende winde wat kom van en gaan na plekke wat niemand ken nie. Aan die ander kant omarm ons die rustige ritmes van orde, ritme en oor-en-oor doen — duidelike, vaste, eeue-oue spore.

InVia strewe ons om wat KOM met wat WAS te omhels. Dit beteken dat paaie waarvan ons al vergeet het, weer geloop kan word. In die gisters lê die môres.

Ons wil leer uit die skatte van die verlede en hoop op gawes van die toekoms.
 

In die LEWE

Ware verandering vind plaas wanneer ons doen wat ons glo.

InVia loop stroom-op na die lewe.


InVia wil deel met die regte seer van leef in 'n "land" wat nie my eie is nie. Die vreemdheid van op soek wees na 'n eie plek in 'n wêreld in die skadu van 'n kerk-empire wat geval het.
 

Ons wil waak daarteen om nie net weer te raak waarteen ons reageer nie. Ons wil nie in ons "anders"-wees net weer mense verstaaf nie. Ons wil 'n plek wees waar bevrydes nie weer slawe sal word nie. Waar mense nie in die naam van god mag en voorspoed aanbid en net vra wat daarin vir hulle is nie. InVia loop stroom — op — altyd weg van die empire.

 

InVia loop die pad van liefde, vrede en regverdigheid.
 

Dit is nie net saam met mense nie, maar ook vir mense. Ons wil leef vir die vrymaak van mense en besef dat mense nie net slagoffers van hul eie seer en swak keuses is nie, maar ook van groter foute en boosheid in die sisteem. Daarom wil ons ons beywer dat die vryheid ook sal uitkring na die besighede en instansies van ons tyd. InVia kan daarom nie in stilte 'ontvang' nie, maar wil 'n stem wees wat uitroep teen die uitbuit en uitsluit van mense.

 

Liefde en vrede is 'n lugspeëling as daar nie reg geskied nie.

 

InVia loop die pad met die grond tussen ons tone. Die aarde moet weer rus anders sal ons kinders nie hier kan woon nie. Die wêreld IS ons woning. Ons is nie net op pad hemel toe nie maar ook terug aarde toe. Gelowig-wees is mens-wees en mens-wees is rou en eg en aards. Daarom sal InVia lig loop op die aarde en haar minder opgebruik.

Ons sal op soek wees na eenvoud sodat wat God geskep het, weer kan blom.

InVia loop stadiger.

God se tyd kom nie in spoedpakkies nie en jaag nie gespanne na meer nie. Die kortpad is die langpad en die langpad is die kortpad. Kitskos, kits-antwoorde en kits-geloof is die las van ons tyd.

Binne stadige etes, lang gesprekke en lui kuiers word tyd heilig en ewig.

bottom of page