top of page

Verslawings: Adrenalien

22 minutes ago
3 min read

Die Romeine het ‘n gesegde gehad: brood en sirkusse. Die digter Juvenalis het dit later geskryf, maar die keisers het dit lank vantevore geweet. Gee die volk iets vir die maag en iets vir die oog om na uit te sien, en hulle vra nooit moeilike vrae nie. Brood is die onmiddellike bevrediging. Sirkus is die opwinding om na uit te sien.


Maar die probleem: ons raak gewoond aan die volgende hoogtepunt.


B.B. King se bluesliedjie The Thrill Is Gone vertel van ’n liefde waarin die opwinding verdwyn het. En dit gebeur nie net in liefdesverhoudings nie. Dit gebeur wanneer die nuwe werk nie meer nuut is nie, wanneer die avontuur verby is, wanneer die wedstryd klaar is en wanneer die adrenalien uiteindelik bedaar.


Aanvanklik gee die ervaring ons ’n gevoel van lewe. Maar wanneer die gevoel verdwyn, begin ons wonder wat volgende gaan kom. Dan soek nog ’n hoogtepunt om die vorige een te vervang.


Die woord thrill (beteken deurboor of iets wat deur jou gaan) beskryf mooi hoe so ’n ervaring deur ons kan trek: dit ruk ons uit die gewone, laat ons hart vinniger klop en laat ons vir ’n oomblik intens bewus voel van ons eie lewe. Maar daardie oomblik kan nie vir altyd duur nie.


Die gevaar ontstaan wanneer ons die kortstondige gevoel begin verwar met die volheid van die lewe. Dan raak ons rusteloos wanneer dinge gewoon word, ongeduldig wanneer niks gebeur nie, en afhanklik van die volgende ervaring om weer goed te voel. 


Adrenalien is die liggaam se alarmstelsel. Dit help ons om vinnig te reageer wanneer gevaar of uitdaging opduik. Die probleem is nie dat die alarm bestaan nie. Die probleem is wanneer ons begin leef asof daar altyd ’n noodgeval moet wees.


Party soek dit in extreme sport. Dis ‘n vorm van beheer: ek kom so naby as moontlik aan die dood, en ek oorwin dit.  Ander in drama, nuus en konflik. En party van ons doen dit baie meer alledaags: ons stel werk uit totdat die sperdatum ons amper verswelg. Dan skakel ons skielik oor na vyfde rat, kry alles klaar en dink: “Sien, ek werk die beste onder druk!”


Wanneer jy 2 Timoteus 3 lees, kan jy dalk ongemaklik raak. Verse 2–5 bevat wat ons ’n ondeugdekatalogus kan noem — ’n bekende literêre vorm in die Griekse en Joodse morele tradisie (vgl. Rom. 1:29–31; Gal. 5:19–21; 1 Tim. 1:9–10; Tit. 3:3; 14:25–26). Paulus teken hiermee nie bloot ’n lys individuele sondes nie, maar beskryf ’n bepaalde sosiale en morele klimaat.


Hier’s iets wat ek eers na jare raakgesien het. Paulus se lys in 2 Timoteus 3 is nie ‘n lys van verbode dinge nie. Dis ‘n lys van liefdes. Liefhebbers van die self. Liefhebbers van geld. Liefhebbers van genot. Dieselfde woordjie, phil-, drie keer.

Wat sê dit vir jou en my? Die kernprobleem is nie ons gedrag nie. Dis ons liefde. En Augustinus het dit 1600 jaar gelede reeds geweet: wat jy liefhet, bepaal wie jy word.


Miskien lê die diepste verband tussen liefde en verslawing hierin: ons word gevorm deur dit wat ons liefhet. Augustinus het eeue gelede reeds verstaan dat die probleem nie bloot is dat ons verkeerde dinge doen nie, maar dat ons liefde soms wanordelik raak. Ons begin dinge liefhê asof hulle ons kan gee wat net ’n dieper bron van vervulling kan gee.


Ons raak nie noodwendig verslaaf omdat ons te veel liefhet nie, maar omdat ons van iets ’n bron van lewe maak wat nie die gewig daarvan kan dra nie. Ons verwag dat ’n verhouding, prestasie, ervaring of adrenalien-kick ons leegheid moet vul, ons waarde moet bevestig of ons moet laat voel dat ons werklik leef.


Verslawing begin waar ons liefde iets word waarsonder ons voel ons nie kan leef nie. Vryheid begin wanneer ons weer kan liefhê sonder om besit te word deur dit wat ons liefhet. 


Sondag gesels ons oor Paulus se oplossing in vs 10-11: “Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding…“ Hy gee nie ‘n  resep vir ‘n gemaklike lewe nie. Dit is ook dieper as blote selfbeheersing. Die doel is nie net om ’n verslawende gedrag te stop nie, maar om die mens te word wat nie meer op dieselfde manier daardeur beheer word nie. Die teenvoeter vir verslawing maar vorming; nie net die onderdrukking van begeerte nie, maar die herordening daarvan; nie net die vermoë om nee te sê nie, maar die groeiende vryheid om ja te sê vir dit wat werklik lewe gee. Hy beskryf ’n ander manier van leef, ’n ander manier van begeer en ’n ander manier om gevorm te word.



- Theo Geyser

bottom of page