Ware en Vals Self: Los jou selfie

Jesus gebruik ‘n pragtige beeld om ons te help om te verstaan wie ons werklik is: ‘n huis.
“As iemand My liefhet, sal hy my woord ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” (Johannes 14:23)
Om te weet wie jy is gaan nie bloot dat ons reg moet glo, meer moet weet of beter moet doen nie. Kennis en verstaan word uit liefde gebore. Liefde beweeg dan ons hart (of huis) wat plek maak dat God daar kan woon.
Kom ons dink vir ’n oomblik aan jouself as ‘n huis.
Ons begin almal baie vroeg in ons lewe aan ’n huis bou. Ons kry nie eers die eerste bouplanne nie! Ons ouers gee vir ons die eerste boumateriaal: ons naam, liefde, waardes, woorde en soms ook wonde. Later voeg die skool, vriende en die wêreld hulle materiaal by. Ons ontdek dat ons aanvaarding kry wanneer ons sekere rolle speel: die slim een, die sterk een, die sportman, die goeie kind, die behulpsame een of die gelowige een.
Nie al die materiaal is goed nie. Ek het byvoorbeeld ’n pa gehad wat ’n alkoholis was. Ek het hom eers behoorlik leer ken toe ek in my laat twintigs was omdat hy in Engeland gebly het, en kort daarna is hy in ’n vliegtuigongeluk oorlede. Ek het baie min bou material gekry. My stiefpa was gewelddadig. Vandag kan ek sien hoe ek die kamer vrees gebou het en daarbinne weggekruip het. Ek het ook nog die klein Theo wat my gereeld na die kamer toe neem.
Teen die tyd dat ons volwassenheid bereik, staan daar dikwels ’n redelik bewoonbare huis. Die voorkamer is netjies, die gang vol beleefde woorde en die voordeur staan oop vir besoekers. Ons het geleer om mense met ’n glimlag te ontvang. Dit is ’n huis waarvan ander mense dalk hou.
Maar soms het ons daardie huis nie gebou om werklik te leef nie.
Ons het dit gebou om te oorleef.
Dink aan jou lewe as ’n huis met verskillende vertrekke:
Die voorkamer: Die fasade. Die mens wat ek aan ander wys.
Die kamers met sleutels: Die rolle waarin ek veilig voel: die sterk een, die slim een, die goeie een, die behulpsame een.
Die kelder: Die dinge wat ek liewer nie wil sien nie: skaamte, woede, vrees, jaloesie en onvervulde verlange.
Die toegespykerde kamer: Die kind wat ek eens was, met behoeftes en drome wat dalk nie ruimte gekry het nie.
Die fondament: Wie ek reeds is voordat ek iets doen of bewys: ’n mens wat na die beeld van God geskep is, geken en geliefd.
God sê vir Jeremia: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken.” (Jeremia 1:5)
Die vraag is dus: Is dit nie onbillik om ’n huis te bou met soveel tekortkominge nie? Moet ons alles afbreek en van voor af begin? Ek dink nie dit is die beeld wat die evangelie vir ons gee nie. Tog word bekering soms juis só aan ons voorgestel: Jy is in sonde gebore, die ou mens moet sterf en jy moet as ’n nuwe mens van voor af begin.
Daar is natuurlik waarheid hierin.
Bekering beteken wel dat iets in ons moet sterf en dat ons lewe nuut gemaak word. Maar dit beteken nie dat God die hele huis wat ons oor soveel jare gebou het, kom platstoot nie. Die kamers is deel van ons lewensverhaal. Die vraag is nie hoe ons daarvan ontslae raak nie, maar hoe ons God daarin verwelkom. Hoe ons Hom toelaat om saam met ons deur die vertrekke te beweeg – ook na die kelder, die donker hoeke en veral die toegespykerde kamer. Want dalk is dit juis daar waar ons die mens ontmoet wat ons lankal moes wegsteek: die ware self wat onder al die rolle, maskers en verwagtinge begrawe geraak het.
Die evangelie is nie ’n slopingskontrak nie. Dit is ’n uitnodiging om God in elke vertrek van jou lewe tuis te laat kom.
Nie ’n nuwe huis nie, maar ’n nuwe manier van tuis wees

Sondag gesels ons oor die gelykenis van die verlore seun en gaan kyk hoe ons dieselfde kamers bou as die twee broers in die storie. Dit is maar selfies van wie hulle is. En dan die ongelooflike ontdekking van ‘n self en lewe wat in God gevind word. ‘n Ware bekering is nie gedragsverandering nie. Die ouer broer het dit reeds in die sakkie gehad en alles reg gedoen. As jy ophou geld mors, maak dit jou vrygewig? As jy ophou steel, is jy dalk nog ‘n dief, jy oefen dit net nie meer uit nie. As jy ophou kritiseer, beteken dit nie jy aanvaar mense nie.
Die ware self word nie gebou nie, dit word gevind: verborge in God, soos ’n beeld in marmer wat net wag om ontdek te word. Michelangelo het na bewering oor sy beroemde Dawid-beeld gesê: “Ek het die engel in die marmer gesien en gekap totdat ek hom bevry het.”
Wanneer die kamers nie meer my naam is nie, maar die vensters waardeur ek sien hoe ek gemaak is, dan staan ek soos die verlore seun voor die regte deur, en dit is oop.
Dit is tuiskoms. - Theo Geyser




