Wanneer het jy ophou sing? - Inleiding


Ons harte klop nie net in ritme nie, maar sing ook saam. As jy naby aan daardie lied kom dan word die spreekwoordelike frases: “lied in hart” of “huppel in my stap” waar. Dan neurie ons. Ek verstaan dat gorillas neurie wanneer hulle die regte kos kry. Dit is seker ook so met ons. Die regte “kos” of medisyne van die lewe laat ons neurie.


Maar ongelukkig gee die lewe ons soms nie die kos of medisyne wat ons nodig het nie. Die lewe deel ons kaarte wat ons nie wil laat sing nie, maar ook wil laat huil en ophou sing.


Die boek Psalms is ‘n versameling liedere wat oor ‘n lang tydperk ontstaan het. Die Psalms gee ‘n venster om die hart van binne te sien en help ons om te verstaan waarom ons hart soms ophou sing en hoe ons harte weer kan begin sing.


Die volgende paar weke gesels ons oor die Psalms en sit met die vraag: “Wanneer het jy ophou sing?”. Dit is belangrik om die vraag te antwoord want dan kan ek dalk beter verstaan waar God my wil ontmoet.


Ons skop Sondag met David wat wegkruip in ‘n grot, Adullam. Hy vrees vir sy lewe en staar die dood in die oë. Hier skryf hy ‘n paar Psalms oor verlatenheid, teleurstelling en wanhoop. Maar in dieselfde grot sonder dat sy omstandighede verander, skryf hy ook een van die mooiste Psalms wat ons almal ken - Psalm 23. Niks het in sy omstandighede verander nie, maar wel binne sy hart.


Sy hart het begin neurie met hoop.


Daar lê ook so Psalm in jou hart...