top of page

Ongetem: In pas met wie?

  • 1 day ago
  • 3 min read

Ek moet eerlik wees met julle. Die Heilige Gees het my jare lank laat kopkrap. Nie omdat ek nie geglo het nie. Maar omdat ek nie geweet het wat om met Hom te maak nie.


Ek het grootgeword in die NG Kerk. Netjies. Ordelik. Alles op sy plek. Oor die Heilige Gees is gepraat, ja — maar op 'n manier wat veilig gevoel het. Hy was daar, iewers, maar nie so naby dat dit ongemaklik word nie.


Toe gaan ek universiteit toe, en skielik is die wêreld anders. Ek kom mense teë vir wie die Heilige Gees nie 'n hoofstuk in 'n boek is nie, maar iets wat hulle elke dag beleef. Intens. Soms luidrugtig. Ek het nader beweeg. Ek was nuuskierig. Dit het my aangetrek — maar ook 'n bietjie laat skrik.


En dan land ek as kapelaan in die Weermag in my eerste gemeente in AGS Wierdapark.


Dit is daar waar dinge regtig ingewikkeld geraak het. Sewe Sondae agtereenvolgens staan die prediker nie op om te preek nie. Want, sê hulle, die Heilige Gees het oorgeneem. Sewe keer. En elke Sondag sit ek daar en vra myself af: is dit die Gees — of is dit ons? Miskien is ek te koud, te gekontroleerd, te NG Kerk. Ek het immers geweet dat die Gees laat mense verander. Hy maak mense sagter, dieper, liefdevoller. Ek soek daarna. Ek sien dit nie altyd nie hier nie.


Ná die sewende Sondag het ek die pastoor gaan sien. Ek het nie baie gesê nie, behalwe dat ek nie alles kan verstaan nie en maar ek wil my hart volg. En ek bedank. Genadiglik het my broer my beroep waar die volgende 10 jaar van my lewe kon spandeer het.


Maar die vrae — dié het saamgeloop. Hulle het nie by die deur gewag nie. En nou, jare later, leef ek met dieselfde vrae, en leef nog steeds tussen die paradoks van verstaan en ervaar, maar miskien met 'n bietjie meer vrede...


Want ek het lankal agtergekom: as jy oor die Heilige Gees begin praat, loop jy vinnig teen jou eie woorde vas. Hulle is te klein. Te netjies. Te seker van hulleself. Die Bybel gee jou nie 'n definisie van die Heilige Gees nie. Geen formule. Geen bladsy wat jy kan oopslaan en sê: dáár is Hy. Wat die Bybel jou gee, is beelde. Wind. Asem. Vuur. Water. 'n Trooster. 'n Stil stemmetjie wat jy amper moet stilword om te hoor. Elkeen van daardie beelde probeer iets sê. Nie alles nie — net iets.


Dit is soos 'n vinger wat na die maan wys. Die vinger help jou kyk in die regte rigting. Maar as jy net na die vinger bly staar, gaan jy die maan heeltemal mis.


Ons praat immers nie van 'n ding nie. Ons praat van 'n Persoon. En 'n persoon leer jy ken deur tyd saam te spandeer. Deur ervaring. Deur daardie oomblikke wat jy nie altyd kan verduidelik nie, maar wat jy ook nie kan ontken nie.


Selfs Paulus het dit so beleef. In sy vroegste briewe gaan dit oor die groot, tasbare gawes van die Gees. Later word sy skryfwerk stiller, dieper — die Gees wat in ons woon, wat ons van binne af vorm. En aan die einde van sy lewe, terwyl hy in die tronk sit, skryf hy nie oor krag of vertoon nie. Hy skryf oor die "Gees van Christus" — asof die twee vir hom een geword het.


Paulus het nie 'n handboek geskryf nie. Hy het briewe geskryf — aan mense wat sukkel, wat vrae het, wat dit nie altyd uitwerk nie. En as jy daardie briewe lees van vroeg na laat, sien jy iemand wat self onderweg was. Sy verstaan van die Gees het gegroei soos hy gegroei het. Dit maak my op 'n manier baie bly.


Miskien is dit al. Nie om te verstaan nie — maar om te vertrou.


Nie om vas te pen nie — maar om te volg. Om in pas te kom en om te leer luister na wie se pas dit eintlik is.


"As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel."

Galasiërs 5:25



Theo Geyser

bottom of page