Wegkruip van die liefde: Wat die oog nie kan sien nie
- 4 days ago
- 4 min read

Dis ’n gewone, gemiddelde weeksdag en ek ry in ’n gewone, gemiddelde straat. Uit die hoek van my oog sien ek ’n duif wat vlieg. Sy vlerke fladder fyner wanneer hy sy spoed breek voor hy op ’n tak land. Vir een of ander rede raak dit my diep. Die duif is maar net besig om te doen wat duiwe doen, maar vir ’n paar sekondes is dit asof daar liefde deur die duif straal.
Dan ry ek aan en dink weer aan my to do list, my bekommernisse en wense en so aan.
Hoekom dit in daardie oomblik met die duif was weet ek nie, maar ek het per ongeluk vir ’n oomblik anders gekyk as wat ek gewoonlik kyk. In Johannes 3 praat Jesus oor ’n krisis in die wêreld. Die krisis het te doen met lig, of hoe ons sien:
“This is the crisis we’re in: God-light streamed into the world, but men and women everywhere ran for the darkness.“ (John 3:19, MSG)
In my ervaring is mense eerder geneig om ná lig toe te hunker, nie andersom nie. Wat help dit in elkegeval om te wil weghardloop van iets wat teen die spoed van lig instroom? Dieselfde met die liefde. Is dit nie waarna ons smag nie? Tog wil ons daarvoor wegkruip.
“They went for the darkness because they were not really interested in pleasing God.” (John 3:19, MSG)
Nóg iets wat eintlik vreemd is, want ek kan taamlik gereeld nogal heelwat belangstelling wys om ander te “please”. Hoekom dan nie sommer vir God ook “please” nie?
To please God...to be a real ingredient in the divine happiness...to be loved by God, not merely pitied, but delighted in as an artist delights in his work or a father in a son—it seems impossible, a weight or burden of glory which our thoughts can hardly sustain.
C.S. Lewis
Ek sou dink ek vermy dit om vir God te behaag (of “please”) omdat dit dalk nie ooreenstem met wat mý sal please nie. Tog skryf C.S. Lewis in dieselfde essay waaruit die aanhaling hierbo kom dat dit dalk eerder is om soos ’n kind te wees wat modderkoekies kies bo ’n vakansie by die see. Bloot omdat die kind nog nie kan weet wat die vakansie by die see regtig is nie.
Jesus praat ook dan hier van hoe ons die lig vermy omdat ons nie God se werk kan sien vir wat dit is nie:
“But anyone working and living in truth and reality welcomes God-light so the work can be seen for the God-work it is.” (John3:21,MSG)
Die woord wat hier uit Grieks as “waarheid” vertaal word, aletheia, het te doen met Lethe. Dis ’n rivier in die Griekse mitologie waaruit mense moes drink ná hulle dood sodat hulle kon vergeet wat hulle moet agterlaat. Aletheia is die omgekeerde. Dis nie bloot waarheid soos ’n feit wat ons moet bewys nie, dis om die valsheid waarin ons gedurig vaskyk te “onvergeet”.
Dis my belewenis van wegkruip van liefde. Dis ’n soort vergeet wat al te maklik gebeur. Dis dalk hoekom dit soms deurskyn in ’n duif se manier van land op ’n tak, maar ook in ander groter en kleiner oomblikke. Dis omdat ek so af en toe dit regkry om te “onvergeet”. Dis omdat die liefde nie heeltemal met die blote oog gesien kan word nie, maar tog is God se liefde ook allesomvattend, sodat dit op allerhande onverwagse plekke soms sigbaar word.
Jong wasbeertjies is bekend daarvoor dat hulle hulle hande oor hulle oë sit as hulle bang is. Kinders kruip soms op dieselfde manier weg. In ’n studie by Cambridge Universiteit het die navorsers agtergekom kinders kan selfs weet dat ander mense alles behalwe hulle oë kan sien. Tog kruip hulle so weg, want hulle voel dat daar in ’n gedeelde kyk tussen twee mense iets anders sigbaar word. “Ek” word sigbaar, nie net my fisiese voorkoms nie.
Dis baie keer hoe my wegkruip van die Liefde lyk. Ek is bang ek gee iets van myself weg. Ek’s bang dis nie genoeg nie. Ek vergeet dat ek min of meer net soveel hoef te doen om vir God tevrede te stel as wat daai duif moes doen om vir ’n oomblik vir my iets van liefde te wys. Die duif het nie probeer liefde wys nie. Die duif was nie skielik liefde nie, die duif was net die duif.
Dis maklik om te vergeet, want ek bly ook maar ou gewone ek en deel daarvan is klaarblyklik om te wil vasklou aan die modderkoekies waarvan ek seker voel. Tog is die liefde by ons soos water. Dis maklik om vir dae en selfs weke dit mis te kyk. Ons drink tee, koffie, wyn en koeldrank, maar vergeet dat dit “gewone” water is wat eintlik die wonder van lewe onderhou. Mag ons onthou dat God se liefde oorgenoeg is en mag ons onthou om dit in te drink.
- Deon Meiring




