top of page

Saam met Christus aan die kruis: die vryval van geloof...

  • 8 hours ago
  • 2 min read

Wat het gebeur? 

 

"Want as ons met Hom saamgegroei het in die gelykvormigheid van sy dood, sal ons dit tog ook wees in dié van sy opstanding." Rom 6:5

 

Sekere momente verdeel die geskiedenis. Nie net chronologies nie — maar hermeneuties. Hulle open die toekoms. Hulle herskryf die verlede.

 

In 'n wêreld voor, en 'n wêreld daarna.

 

Vir Israel was dit Egipte. Die Pasga is nie net 'n herinnering nie — dit is 'n jaarlikse terugkeer na die oomblik waarop alles verander het. In Suid-Afrika was dit 11 Februarie 1990 — die dag toe Nelson Mandela uit die Victor Verster-gevangenis gestap het. En in ons eie lewens ken ons hierdie momente: die geboorte van 'n kind. Die dood van 'n geliefde.


Oomblikke wat die lewe onherroeplik in twee verdeel.

 

Goeie Vrydag is so 'n breuklyn — en nie net metafories nie. Die kalender self dra die getuienis: 2026 nC. Elke datum wat ons skryf, is 'n onbewuste belydenis van die Kruisgebeure.

 

Maar ons het die kruis kleingemaak. Ons het dit gereduseer tot 'n historiese feit — 'n eenmalige teregstelling op 'n heuwel buite Jerusalem. En in dié reduksie verloor die kruis sy tande. Soos Ronald Rolheiser tereg opmerk: die kruis is nie iets wat bloot gebeur hét nie. Dit is iets wat altyd gebeur — 'n voortdurende patroon, diep ingeweef in die menslike en goddelike werklikheid.

 

 

Paasfees roep jou lewe na 'n breuklyn. En ons lewens het dit nodig.

 

Dit herinner ons: daar kán 'n breuklyn kom in jou pyn. In jou verraad. In jou verlatenheid. Selfs in die aangesig van jou eie dood. Die kruis is nie 'n toneel van goddelike wraak nie — nie 'n God wat sy eie frustrasies uithaal op sy Seun nie. Nee. Die kruis onthul 'n God wat geweld weier. 'n God wat geweld absorbeer. 'n God wat geweld transformeer.

 

Paasfees herinner ons dat die breuklyn nie net êrens in die toekoms wag nie. Dit gebeur hier. Dit gebeur nou. Die kruis is geen versekeringspolis vir ná die dood nie — dit is nie primêr oor waar jy eindig nie. Dit is oor waar die wêreld heen beweeg. Oor vernuwing. Oor herstel.

 

En laastens: Paasfees belowe 'n breuklyn in ons lyding. Dit nooi ons nie uit om pyn stoïsyns te dra asof lyding op sigself heilig is nie. Jesus se dood was geen passiewe berusting in onreg nie. Dit was 'n aktiewe, doelbewuste daad van liefde — om die eindelose kringloop van geweld finaal te deurboor. Hy het die volle swaargewig van menslike haat gedra — en dit nie met haat beantwoord nie, maar met vergifnis.

 

Dit is nie swakheid nie.

 

Dit is die mees radikale mag wat die wêreld ooit gesien het.

 

Die kruis is die finale openbaring van hoe ver Goddelike liefde bereid is om te gaan.

 

 "Mortification — literally, 'making death' — is what life is all about, a slow discovery of the mortality of all that is created." Henri Nouwen

 

Indien jy in die omgewing is, kom kuier Paasnaweek saam met ons by Heilsaam om 10:00.

 



- Theo Geyser

bottom of page