Wegkruip van die Liefde: Selfbeskerming
- 2 days ago
- 2 min read

Die eerste verhaal in die Bybel begin nie met helde nie. Dit begin met mense soos ons — mense wat moed verloor het vir liefde.
En wegkruip.
Weg — want daar moet afstand wees tussen hulle en die een wat liefhet. Kruip — want dit moet stil en laag en onopgemerk gebeur. Saam vorm die twee woorde 'n beweging wat ons almal ken: myself opsetlik verklein, sodat niemand my kan vind nie.
Wat is die teenoorgestelde van wegkruip?
Om gesien te word.
Hagar is die eerste persoon in die Bybel wat aan God 'n naam gee. Sy is slaaf. Vrou. Vreemdeling. Drievoudig onsigbaar in haar wêreld. En tog — sy noem Hom.
El-Roi. Die God wat sien.
Nie die God wat straf nie. Nie die God wat oordeel nie. Die God wat jou naaktheid sien, jou vlug sien, jou wegkruip sien — en bly. Ons heling begin waar Hagar se heling begin het: Om raakgesien te word deur Hom wat al lankal gesien het. Ons kies die illusie van alleen wees — omdat alleen wees veiliger voel as liefgehê word. As daar niemand is nie, kan niemand my seerkry nie. As ek die enigste akteur op verhoog is, hoef ek nie my teks te deel nie. Ek verduidelik myself aan myself. Ek beskerm myself teen myself. Ek hanteer alles — alleen. Dit is nie vryheid nie.
Dit is 'n solo-drama in 'n leë teater.
Die sonde van Genesis 3 is nie die vrug wat geëet is nie. Dit is die wêreld wat daarna gebou is — 'n wêreld met net een karakter. Jouself. Omring deur jou eie verduidelikings, jou eie beskerming, jou eie verhaal. C.S. Lewis beskryf die hel nie as 'n plek waar God mense heen stuur nie — maar as die logiese eindpunt van wegkruip. 'n Wêreld waar elke mens al verder beweeg van die ander af. Elke seerpry lei tot nog meer afstand. Elke afstand maak die volgende seerkry groter.
Wegkruip het altyd 'n sneller.
Iets gebeur — klein, skynbaar onbeduidend — en jy verdwyn. Die meeste mense sien net die verdwyning. Maar die geheim lê in die oomblik daarvoor. En jou lyf ken daardie oomblik. Voor jou kop besluit het, het jou maag al saamgetrek. Jou bors het swaar geword. Jou asem het vlak geword. Jou senuwees laat jou hyg.
Dit is die eerste taal van wegkruip. Die gevaarlikste wegkruipplek is nie die een wat sleg lyk nie. Dit is die een wat niemand bevraagteken nie. Agter besigheid. Agter diens. Agter verantwoordelikheid. Agter 'n lewe so vol goeie dinge dat niemand ooit sou dink om te vra: maar waar is jy regtig? Wat gebeur regtig binne-in jou?
Die vraag is: leer jy om dit te lees?
Sondag gesels ons oor daardie plekke.
- Theo Geyser




