Die môrester in ons harte
- 1 hour ago
- 5 min read

Gebed
Hoe sal ek U ooit ken?
U is te naby, U is te ver,
U klewe aan my kyker vas,
Wykende, wyderende ster –
en om u stersyn kring u ruim,
en om u ruimtes – Wie?
Die gees verleng tot laser, leng ...
en brand deur Wie; deur wat; deur Nié ...
dan snap ek die genade –
suiwerder as weet, duideliker as pyn –
van wyk dat ek moet nader,
altyd verder nader ...
O, verborge Wonder,
Magneet, wat ek sal ken!
Die koninkryk van God is nóú en nog nie. Dis reeds en dis aan’t kom. “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” (1 Kor. 13:12)
Iemand het gesê, “When the complete arrives, our incompletes will be canceled.” Maar tussen die ooievaar en die eendagdaar, is dit soms swaar.
Dis die Sondag voor Heilige Week – die week wat ons lei van palmtakke … na ‘n kruis … na ‘n oop graf. Daar is vreugde, maar ook ‘n skaduwee. Ons hoor die mense roep, “Hosanna!” maar ons weet reeds: “Kruisig Hom.” Tussen lig en donker. Tussen verwagting en vervulling. Tussen begin en einde … en weer begin?
Ons skrif vir Sondag kom uit 2 Petrus en ek moet eerlik sê dat ek nog nooit daarop ag geslaan het voor ek dit in hierdie week se dagstukkies teëgekom het nie.
Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie. Inteendeel, ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid. Nadat Hy van God die Vader eer en heerlikheid ontvang het, toe die luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê, “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly,” het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was. En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte.
Carel (Anthonissen) skryf so daaroor:
Dit bly verbasend hoe Petrus op die vooraand van sy dood, terwyl die uurglas vir hom begin leegloop, skielik terugdink aan die dag toe hy Christus se verheerliking op 'n hoë berg meegemaak het. En dit kort voordat hulle daarna sou afdaal na onder om Jesus se pynlike lydensweg mee te maak. Ook om die pynlike verleentheid van sy eie verloëning van sy Heer en Meester deur te maak. En sekerlik ook sy herstel daarna deur die opgestane Heer by die see van Tiberias. So groot en bevrydend was die impak op sy lewe van dié gebeure op die berg en wat daarna alles met hom gebeur het dat hy hierdie herinnering nou in sy oudag as sy finale testament, ja, sy kosbaarste besitting aan die gemeentes in Klein Asië agterlaat.
Is dit nie een van die mooiste beloftes en beelde in die Bybel nie? Die môrester in ons harte.
Paar goed oor die môrester: die môrester is eintlik ook die aandster. Die einste lig wat skyn wanneer die son sak is die lig wat weer verskyn wanneer die son opkom. Die term phosphoros word in die Griekse literatuur nie net gebruik om te verwys na die “môrester” nie, maar ook na koninklike of heilige mense. Christus word twee keer in Openbaring “die môrester” genoem. Die woord phosphorescence se etimologie beteken: die essensie / geneigdheid om lig te dra.
Hierdie week in Jesus se lewe is tekenend van die menslike kondisie – wat Jesus nie vrygespring het nie. Avery Dulles het geskryf dat Jesus se geboorte (en sy dood en sy opstanding) ons nie ‘n leer gee om uit menswees te klim nie, maar ‘n boor om te grawe tot in die hart van alles wat is en te vind dat dit glinster van Goddelikheid. Petrus onthou in hierdie skrifgedeelte die verheerliking op die berg waar Jesus wéér gehoor het, “Jy is my geliefde seun in wie Ek my verbly” (soos toe Hy gedoop is net voor sy foltering in die woestyn waarmee ons Lydenstyd begin het). En tussen “Jy is my geliefde seun ...” en “My God, my God waarom het U my verlaat” beliggaam Hy die volle omvang van menswees. Die reeds en die nog nie. Hy gaan die menslike hart binne – nie deur die donker te vermy nie, maar deur dit te deurboor van binne af.
Thomas Merton, wat ook nie lyding vrygespring het omdat hy beskou is as ‘n man van God nie – hy is as’t ware doodgeskok deur ‘n foutiewe waaier in ‘n hotelkamer in Bangkok waar hy ‘n konferensie bygewoon het – skryf so:
“And in that day you shall possess the solitude you have so long desired. And your solitude will bear immense fruit in the souls of men you will never see on earth."Do not ask when it will be or where it will be or how it will be: On a mountain or in a prison, in a desert or in a concentration camp or in a hospital or at Gethsemani. It does not matter. So do not ask me, because I am not going to tell you. You will not know until you are in it."But you shall taste the true solitude of my anguish and my poverty and I shall lead you into the high places of my joy and you shall die in Me and find all things in My mercy which has created you for this end and brought you from Prades to Bermuda to St. Antonin to Oakham to London to Cambridge to Rome to New York to Columbia to Corpus Christi to St. Bonaventure to the Cistercian Abbey of the poor men who labor in Gethsemani:"That you may become the brother of God and learn to know the Christ of the burnt men.”
Christus is nie net die blink lig van oorwinning nie, Hy is ook die een wat die verbrande plekke binnegaan, wat die brand aan sy eie lyf gevoel het. Iewers tussen “My God, my God, waarom het U my verlaat?” en “In U hande gee ek my gees oor” moes Hy dalk weer en weer die diep bevestiging in sy selle hoor eggo het, “Jy is my geliefde seun in wie Ek my verbly.”
Wanneer die vurigheid of die “voorlopigheid” van hierdie lewe – die nou en die nog nie – jou in donker hul, weet dat Hy voorgeloop het. Dat Hy die môrester in jou hart is.
En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was
Sheila Cussons (ook ernstig vermink in ‘n brand), in haar gedig “Christ of the burnt men”…
die avontuur van jóú – die opwinding, die onsekerheid, die gevare, die bruising van bloed deur die are wat ‘n avontuur inhou.
Ek sluit af met Rilke se gedig wat ‘n soort lewensmotto vir my pad is …
God speaks to each of us as he makes us,
This is my beloved son who brings me great joy (my invoeging … miskien?)then walks with us silently out of the night.
These are the words we dimly hear:
You, sent out beyond your recall,
go to the limits of your longing.
Embody me.
Flare up like a flame
and make big shadows I can move in.
Let everything happen to you: beauty and terror.
Just keep going. No feeling is final.
Don’t let yourself lose me.
Nearby is the country they call life.
You will know it by its seriousness.
Give me your hand.
- Frieda van den Heever




