top of page

Sterf voordat jy moet…

  • 1 day ago
  • 3 min read

Wat doen jy as jy weet jy het nog net ’n paar dae oor — miskien net ure? Probeer jy alles regmaak? Bel jy mense? Eet jy die beste kos? Probeer jy die lewe vinnig inhaal?


Of… leef jy eenvoudig soos wat jy nog altyd geleef het?


Daar word vertel dat hulle vir Martin Luther gevra het: Wat sal jy doen as jy weet die wêreld vergaan môre? En hy antwoord: Ek sal vandag nog ’n appelboom plant. Nie omdat hy die einde ontken nie — maar omdat hy iets verstaan het: die waarheid van jou lewe word nie eers aan die einde sigbaar nie… dit was nog altyd daar.


Wanneer ons na Jesus se laaste dae kyk, sien ons iets opvallends.

Daar is nie paniek nie. Geen haastige regmaak van dinge nie. Geen dramatiese verandering nie. Hy leef… soos Hy nog altyd geleef het.


En juis daarin lê die geheim.


Want vir Jesus is die dood nie net ’n eenmalige gebeurtenis nie.

Dit is ’n pad. “Neem jou kruis op, elke dag.” Hy leer jou om te sterf voor jou dood. Hy praat oor sy fisiese dood — ja. Maar nog meer praat Hy oor ’n ander soort dood:

die dood van die self wat alles wil beheer, alles wil beskerm, alles wil wees.


‘n Ego-dood.


Die evangelie — die goeie nuus — is nie net dat jy eendag hemel toe gaan nie. Jesus het nie net gekom om ons gewone lewe ná die dood te verleng nie, om ons gewone lewe met buitengewone lewe vol te maak. Dit is dat die lewe van God nou al in jou kan begin. Dat hemel nie net ’n bestemming is nie, maar ’n werklikheid wat deurbreek —in jou lewe, in jou verhoudings, in hierdie wêreld. Ons het die evangelie kleiner gemaak. Ons het dit gereduseer tot ’n ontsnappingsplan vir die siel — ’n soort versekering teen die hel. Ons het die dood ’n bestemming gemaak.

Maar Jesus maak dit ’n manier van leef. En hier raak dit persoonlik:

Hoe ons eendag fisies sterf, het alles te doen met hoe ons nou leer sterf.


En skielik word die vraag nie meer: Hoe kom ek eendag hemel toe? nie —

maar: Hoe laat ek die hemel nou hier inkom? In die buurman. In die vyand.

Aan ‘n tafel waar almal welkom is.


Nie eendag nie — nou. Nie aan die lewe nie — maar aan dit wat die lewe keer. Hy leer in Joh 12:24 dat die saad (die self) moet eers in die grond val en sterf. Die saad sal veg om bo die grond te bly. Sigbaar en beskerm. Ons het twee Griekse woorde geërf: bios en zoë. Die een is die lewe wat hospitale meet. Die ander is die lewe wat geen apparaat kan meet nie. Die lewe (zoë) kom in ‘n val en nie ‘n klim nie. In die val van ‘n verhouding wat eindig, of werk wat ek verloor het, of die mislukking wat jou naam verander. Die ego is die korrel se instink om nie te val nie: besig wees en behep te wees met die uiterlike lewe.


Die Weste ken die bios goed. Ons het zoë vergeet. En in hierdie vergeet — het ons die aarde verloor. Die liggaam verloor. Die nou verloor. Die buurman verloor. Die tafel verloor.


Jesus kom nie sê: vlug uit hierdie bose wêreld en wag net totdat jy eendag in die hemel kom…. Hy sê: bly hier. Steek jou hand uit. Die koninkryk is hier. Nie iewers bo die wolke nie. Hier — in die hande wat brood breek, in die oë wat die vreemdeling herken, in die hart wat oopbly selfs as dit seer kry.


Soos in die hemel — so ook op aarde.


Dit is nie 'n gebed nie. Dit is 'n opdrag. En dit begin nou.


Met die dood.



- Theo Geyser

bottom of page