Lent: Die Pad van Geloof
- 3 days ago
- 3 min read

Die pad van geloof is selde 'n reguit lyn van sekerheid. Soos Carel in sy Lent-dagstukkies uitwys, is dit eerder 'n reis deur verskillende landskappe van die siel. Psalm 23 dien as die perfekte padkaart vir hierdie reis. Die beweging van die psalm is as volg:
Die psalm begin op 'n afstand. “Hy laat my neerlê. Hy lei my. Hy verkwik my siel.” David skryf in die is derde persoon.
Hy.
God word beskryf soos iemand oor wie jy vertel. Dit is mooi. Dit is waar. Dit is troosryk. Maar daar is nog ’n afstand — soos ’n kind wat herhaal wat hy in kategese geleer het. Ek weet dit. Ek is dit geleer. Ek sê dit na. Dit is wat Paul Ricoeur die eerste naïwiteit noem: ’n voorkritiese geloof. Nie vals nie. Net nog nie deur die vuur of woestyn nie.
En dan kom vers vier, 'n nuwe beweging...
’n Doodskaduwee.
Die Nuwe vertaling sê bloot: “donkerste dal”. 'n Plek so gevaarlik dat dit lyk na die dood. ’n Dal in die Judese landskap was nie ’n idilliese vallei nie. Dit was ’n nou kloof, deurdrenk van risiko en brose kwesbaarheid. As dit reën, word jy oorstroom. Roofdiere skuil in die skeure. Jy is kwesbaar van alle kante. Maar die dal is ook innerlik. Dit is die depressie wat nie wil lig nie. Die sinloosheid wat jou in die nag wakker hou. Die Godverlatenheid wat Dawid in Psalm 22 uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Die eksistensiële wanhoop wat geen maklike antwoord het nie. Hier gebeur wat Ricoeur die kritiese moment noem.
Die eenvoudige geloof van vers 1 is nie meer genoeg nie. “Hy sorg” klink te ver vir ’n pyn wat nou so naby is. Die dal ontwrig sekerheid. En dit moet so wees. In die mistieke tradisie word die donker nag van die siel nie gevrees nie — dit word herken as die smalste punt van die deurgang na God. Die dal van Psalm 23 is presies dit: nie 'n straf nie, nie 'n vergissing nie, maar 'n inwyding. Die poort is smal. Maar dit is 'n poort.
En dan — stil, amper ongemerk — verander die grammatika. Nie meer Hy nie, maar…
U.
“U is by my. U stok en U staf — dit vertroos my.”
Dit is nie meer ’n lesing oor God nie. Dit is ’n gesprek mét God. Die teologie of praat oor God word nou ‘n ontmoeting. Ricoeur noem dit die tweede naïwiteit. Maar dit is alles behalwe kinderlik. Dit is nie ’n terugkeer na wat was nie. Dit is ’n geloof wat deur twyfel en donkerte gehamer is. Gelouter. Persoonlik toegeëien. “U is by my” is nie ’n formule nie. Dit is ’n ontdekking. Ronald Rolheiser help ons om hierdie beweging nog dieper te sien. Hy wys hoe die Ou Testament reeds God se besondere sorg vir die eensames en uitgeworpenes toon. Maar Jesus neem dit radikaal verder: Hy identifiseer Homself met hulle:
“Jesus takes this a notch further: In his teaching, not only does God have special sympathy for those whom society deems least important and most expendable, but God’s very presence is identified with them: “Whatsoever you do to the least of these, you do to me!” Jesus identifies God’s presence with the outcasts, with the excluded ones, and he tells us that we have a privileged experience of God in our contact with them.”
Dawid weet wat dit is om die skreiende verlatenheid van Psalm 22 te beleef — daardie roep wat uit die diepte opstyg na ’n hemel wat stil bly.
In Psalm 23 leer hy dat verlatenheid nie die afwesigheid van God beteken nie, maar juis Sy teenwoordigheid veronderstel. Die eensame donker word, in die lig van die Psalm, ’n heilige ruimte waarin God Homself stil en getrou laat vind. Daarom kan hy sing — nie omdat die seer verdwyn het nie, maar omdat hy in die skaduwee die sagte voetstappe van die Herder hoor.
- Theo Geyser




