top of page

Getrou aan die aarde

  • 1 hour ago
  • 4 min read


Ag dis lekker om te droom oor die lotto. Dis nie die eerste keer dat ek daaroor skryf nie. Ek sal byvoorbeeld nie kla oor hierdie dilemma nie: In sommige plekke, as jy die lotto wen, moet jy kies hoe hulle dit uitbetaal. Alles gelyk, of liewer soos ’n maandelikse salaris (minus die werk)?


Ek wil met hulle ’n deal maak. Gee vir my net genoeg dat ek met so min of meer vyf van my grootste drome kan klaarspeel. Daarná is ek reg vir die getroue, effens meer vervelige, gereelde uitbetalings.


Is dit nie eintlik hoe die lewe ook vir ons gegee word nie? Nie alles op een slag nie. Meer soos ’n bietjie van alles in elke dag.



Die Message vertaling van Prediker 3:11 sê:


True, God made everything beautiful in itself and in its time – but he’s left us in the dark, so we can never know what he’s up to, whether he’s coming or going.


Die kom en die gaan. Die begin en die einde. Die skoon bladsy. Die boerpot wat alles vir eens en vir altyd uitstryk. Dis nie waar die meeste van die lewe geleef word nie.


Die goeie is deel van elke gewone dag. Saam met dit wat al afgesaag voel, wat moeite geword het. Dit klink nie altyd so bevredigend soos die groot ommeswaai of regruk nie. Nie dat die regruk onmoontlik is nie. Dit is net geneig om op te daag op maniere wat ons nie noodwendig self sou kies nie.



Every one of us is called upon, perhaps many times, to start a new life. A frightening diagnosis, a marriage, a move, loss of a job… skryf Barbara Kingsolver. Daarom voel dit veiliger om te hunker na ’n nuwe, mooier, beter lewe. Iewers anders, eendag.


In die fliek Groundhog Day ontdek Phil Connors dat hy dag na dag wakker word en dieselfde dag weer moet deurmaak. Boonop in ’n dorp waar hy nie wil wees nie. Hy kan doen wat hy wil, goed of sleg, sonder werklike nagevolge. Elke nuwe dag begin dieselfde gister maar net weer van voor. Aanvanklik lyk hierdie oop spyskaart eintlik lekker. Tog kom Phil mettertyd agter hy kan maak wat hy wil, maar waarna hy regtig smag, is nie groot partytjies, wetteloosheid, romanses, rykdom, wraak of maklike oplossings nie. Hy kan met enigiets wegkom, maar hy kan nie uit hierdie kringloop wegkom nie.


Hy smag uiteindelik na verandering, vernuwing. Al wat hy miskien regtig kan verander is hyself. Nie vinnig nie. Ironies is dit juis ontelbare afgesaagde, identiese dae in ’n ry wat hy moet deurmaak om te leer om dieselfde dorp, mense en gebeure ánders te beleef. Dit klink nogal na Prediker (alhoewel dit die moeite werd is om te noem dat die fliek se regisseur sê deur die jare is hy al gekontak deur priesters, rabbis, Boeddhiste en selfs psigoanaliste wat almal dink die storie is geskoei op dit wat húlle verkondig).


Wat ook al gebeur het, was lankal daar; en wat gaan gebeur, het lankal gebeur. God haal weer na vore wat verby is.

Prediker 3:15 (2020 Vertaling)


Al is ons nie heeltemal vasgekeer in ’n kringloop van identiese dag en datum nie, vat die Prediker se woorde dit tog raak. Dinge is soos wat dit is. Al wil ons ook wegkom. Die waarheid is, hier is ons nou.


“On the highest throne in the world, we still sit only on our own bottom.”

― Michel de Montaigne


“Wat as jy vanaand sou sterf en by die poorte van die hemel moet verduidelik hoekom hulle jou moet inlaat?” Carel Anthonissen herinner ons in die week wat kom se Lent-oordenkings aan hierdie bekende vraag van ’n gewilde evangeliseringsbeweging. Hy onthou ’n vrou wat reageer het met: “Wat as jy môre wakker word met nog 'n dag voor jou en as mens daarin moet gaan leef?”


Is dit nie waaraan die Prediker ons eintlik herinner nie? Ons kan wat wil doen om weg te kom van waar ons is, tog is ons wortels in hierdie aarde. In Markus 1 kom Jesus uit die woestyn en vra eerstens vir verandering, die bekende “metanoia”. 


Ronald Rolheiser gee vir ons ’n behulpsame manier om “metanoia” aan te gryp: Dis die teenvoeter vir “paranoia”. Meta kan vertaal word as verder, ruimer. Verruim jou afgesaagde uitkyk. Dis hoe jou lewe verander.


Selfs al koester jy nie drome om op Mars se eerste huiseienaarsvereniging te dien nie, kan jy waarskynlik allerhande maniere raaksien waarop jy verder as die aarde waarop jou voete staan probeer kom. Al is dit nie ruimte toe nie, verwar ons dit maklik met verruiming. Ons alewige strewe na dit wat ons nét nie kan bykom nie. Tog is die voorbeeld wat ons in Jesus self sien dat hy hiernatoe gekom het. Die ruimer uitsig is nie net op enige troon of hoogtepunt nie. Dit kan hier gebeur waar ek is.


Hoe? Wanneer ek ruimer as die gejaag na wind kan leef. Wanneer ek kan raaksien waar ek probeer wegkom van die aarde. Én as ek nogtans saam met die Psalmdigter kan waardeer: Ek kan hoe hoog ook klim of hoe laag ook wegkruip, maar van God se Gees kan ek nie vlug nie. Ek kan eerder my toevlug in God vind.


My dae kom en gaan meestal soos die see se getye. God se uitnodiging is om my belewenis daarvan te verruim in liefde en so te sien hoe daardie herhaling my kan vernuwe.


True love is not in the magnificent ecstasy, not in the spiritual heights, nor in the technological paradises we construct. It is in the tough choice to return from these high places to be grounded in the earth, skryf Kester Brewin oor sy eie hunkering na hoër plekke. Hy gaan selfs verder:


It is in withdrawing the hand Michelangelo painted stretching out to touch God, and reaching instead for those around us.



As ek kyk na Jesus se voorbeeld, as die een wat ons op hierdie aarde kom ontmoet het, wil ek dit waag om Brewin se effense agterdog uit te daag en te sê: Dis waar ons nader aan Jesus kan kom. Getrou aan hierdie aarde, ruim genoeg vir elke skepsel om ’n plek te hê. As ek sal waag om so te leef.



- Deon Meiring

bottom of page