top of page

Ek het Hoop... al is my familie feilbaar


Ek hoop nie jy glo in bloedlynvloeke nie. Indien jy nie weet wat dit is nie, dit is wanneer daar in geslagte sekere probleme is soos alkoholisme, of owerspel, of enige ander sonde, en iemand dan die vloek oor jou breek sodat jy dan nie meer sukkel met daardie probleem nie. Dit word deur gebed en soms duiweluitdrywing gedoen. ‘n Gewilde teks is Eks 20:5, wat sê dat God die sondes van die Vaders toereken aan die kinders tot in die derde en vierde geslag.


Eks 20:5 sien ons duidelik in die geslagsregister wat aan Jesus se geboorte gekoppel word. Die sondes van die vaders word deur die kinders geleef. In die geslagsregister inkarneer bittermin mense God se liefde. Uit 14 konings dien net twee die Here. Die groot patriarg, Abraham, jaag sy vrou en kind weg. Jakob steel sy broer se eersgeboortereg. Josef word in ‘n put gegooi. Tamar slaap met haar skoonpa. Ragab is ‘n hoer. Rut is ‘n Moabiet, en Betseba pleeg owerspel. Dan is daar baie name wat jy niks van weet nie. Is dit om ons te ontmoedig? Nee, eerder te bemoedig! Jesus word te midde van ‘n gebroke bloedlyn gebore. Ons wil eerder ons lewe en die gebrokenheid idealiseer of met Harry Potter vloeke breek en met towerwoorde alles vinnig regmaak. So asof Jesus nie genoeg is nie, net ekstra bevryding plus Jesus kan dit doen!


Christenskap is nie net vir die reines, talentvolles, nederiges en liefdevolles nie! Die storie van Jesus word ook geskryf deur hulle wat ons dink buite staan! Niemand is so sleg dat hulle buite die sirkel van geloof kan val nie! Niks ontspoor God se liefde nie.


Sy sirkel sluit selfs die in wat jy uit die bloedlyn wil uithaal!

bottom of page