top of page

dis-koers


Dis-koers deur Wilma Enslin-Geyser


“Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer.” Psalm 119:59


Ek luister na ‘n podcast van Richard Rohr en ‘n vraag wat opkom is “who do I want to be after this pendemic?” Dit is 'n goeie vraag wat elke mens kan vra in hierdie tyd omdat die isolasie en stilte ons met ‘n vergrootglas na ons eie lewensverhale kan laat kyk.


Ek het besef ek (en dalk meeste van ons) is so gefokus op ‘Wat gaan ek DOEN in hierdie 21 dae?’ maar dat die fokus dalk eerder moet val op ‘hoe gaan ek WEES?’ Hoe gaan ek teenwoordig wees vandag – vir my man of vrou, my kinders, vir die aarde. Vir myself?


Te midde van die verwoesting van die pandemie, het ons ‘n wonderlike geleentheid om ‘n nuwe manier van lewe, ‘n nuwe ritme vas te maak. ‘n Nuwe manier van ‘wees’. Mag ons nie hierdie nuwe kans om my lewe te ‘reset’ laat verbygaan nie.


Eerstens moet ons dink oor hoe ons lewens werklik is. Ondersoek julself of julle in die geloof is…2 Kor 13:5. Ons drang na DOEN word gebore uit die ego se behoefte na aanvaarding, sekuriteit en mag. (En hoe ironies is dit nie dat wat ek besit of bereik of wat mense van my dink ons in elk geval niks kan help in hierdie tyd nie…)


Indien dit ‘n lewe is wat nie gebalanseer word met WEES nie, verrnietig ons onsself en alles om ons. Die terugkeer na God se woorde sal wees om te hoor hoe ek uit my Ware Self kan leef. Daardie woorde van Hom leef reeds binne my!


Kom ons oordink die koers en manier hoe ons lewe in hierdie tyd, en keer terug na woorde wat ‘n nuwe koers en diepte bring!


Geloofsgewoonte vir die dag:


Stel gerus jou alarm vir 12 uur met die wete dat ons almal dan op hierdie manier ook verbind is aan mekaar deur dieselfde oefening te doen.  Andersins kan jy dit ook enige tyd van die dag doen.


Stap uit jou blyplek en gaan staan by ‘n boom. Gebruik ‘n paar minute om net na die boom te kyk en te waardeer. Waarom is ‘n boom net ‘n boom? Hoekom probeer die boom nie ‘n struik wees nie? Of die grond? Sit met die vraag: Waarom is die mens nie tevrede met wie hy/sy is nie?


Vir gesinne: Nooi jou gesin om saam met jou uit die huis uit te gaan en by of rondom ‘n boom te gaan staan. Werk met dieselfde vraag oor die boom.


Vir die ouers (en hierdie vra eerlikheid!!!) Deel ‘n storie met jou kinders waar jy nie regtig JY was nie. Waar jy dalk te hard probeer het om in te pas, of dalk oordryf het toe jy ‘n storie vertel het, ens. Deel wanneer is jy die gelukkigste.  En wanneer ervaar jy, jy is werklik jy? As jy hoe is? Vra jou kind wanneer voel hulle die naaste aan hulleself en wanneer is hulle die gelukkigste? (Spieël net jou kind, moenie preek of raad gee nie! Daar is nie 'n regte of verkeerde antwoord nie. 😉)


Herhaalgebed:


Here, maak my meer myself.

bottom of page