top of page

plasebo-liefde



'Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.” ' Luk 10:41


Oorlede Oom Ockert Brits het my geleer van plasebo.  Oom Ockert was jare lank 'n mediese doktor en ook ouderling in Mosaïek Gemeente. Hy het met beide sy voete plat op die aarde geleef. Nederig, hartlik en vol humor.  Ek het my eerste rooiwyn in Stellenbosch saam met Oom Ockert gedrink, Julie 1999 – dit was 'n goeie jaar.


Oom Ockert het geglo in gebed. Daarom het hy ook vir al sy pasiënte gebid. Hy het altyd gespot dat die grootste gedeelte van sy praktyk bestaan uit tannies wat hul weeklikse plasebo-fix kom haal. Oom Ockert sou baie keer in 'n ligte luim spot met plasebo-christene. Plasebo is 'n substans wat geen pharmaseutiese gevolge of voordele het nie. Dis soos ‘n suikerpilletjie wat jou gesond maak. Die geloof is met ander woorde meer in die geloof van die produk, as die produk self. 


Op hierdie stadium het almal van ons 'n voorskrif nodig! Die isolasie is baie lank en die ontrekkingssimptome van vriende, die wye ruimtes, en selfs werk, wys duidelik in ons irritasies met mekaar. Nou moet ons die regte medisyne gebruik om die regte siekte mee te doktor! Ons is besig om te genees van besige lewens! Die grootste gevaar van die isolasie kan ook plasebo wees. Ons maak ruim beloftes, en herwaardeer al die dinge wat ons besig lewens agterweë gelaat het. En dan val ons weer terug op die ou weë.


Een van die mooi stories in die Bybel is dié van Marta (Luk 10:38-42). Sy nooi Jesus na haar huis om te kom eet. Gasvryheid was in die midde Ooste nie net goeie maniere nie, maar deel van mense se geloofsgewoontes. Hulle het geglo dat jy God binne die vreemdeling ontmoet. Daarom herinner die Hebreërskrywer ons dat ons gasvryheid nie moet vergeet nie want sommige van ons het engele as gaste geherberg (Heb 13:1). Indien Jesus by jou kom eet, kry jy sy dissipels saam met Hom. Vir Marta was dit nie te veel moeite nie. Marta het een passie: Om Jesus te behaag. Die Latynse betekenis van plasebo is: “Ek sal behaag”


Maar haar liefde en oorgawe aan Jesus gee nie vir haar die lewe waarna sy verlang nie.  Sy doen die liefde – maar ervaar dit nie. Sy projekteer hierdie leegheid en 'hard probeer' op haar sussie Maria, wat aan Jesus se voete sit, met die woorde: "Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!"  (vs 40). Marta se goeie dade het slegte gevolge. Sy wil beheer en voorskryf en oordeel. Plasebo word nosebo. Nosebo beteken in Latyn: “Ek benadeel”. Kunsmatige liefde skakel altyd oor in donker liefde.


Maria kan ons help om ons plek by God beter te verstaan. Dit is om aan die voete van Jesus te sit sonder om iets te MOET doen, om net te wees! Die isolasie bied ons die ruimte, tyd en plek om 'n les by Marta en Maria te leer.


Terug na Oom Ockert. Oom Ockert het op sy sterfbed geweier dat ek vir hom moet bid vir genesing  – hy wou doodgaan. Hy het sy vrou, Tannie Joey, te veel gemis nadat sy 'n paar maande gelede oorlede is. Hy het alle medikasie geweier. Hy het ook in die hospitaal vir my gesê dat ek nie hom moet pla met besoeke nie, hy sal my self bel voordat hy doodgaan omdat hy my wou groet.


Dit was ook so.


Saterdagaand lui my foon. Dit was Oom Ockert.  Oom Ockert sê dankie vir mooi jare wat ons saam vir die Here kon leef. Ek het gehuil – en diep in my hart het ek gehoop en gewens dat ek ook eendag so kan doodgaan.


Sonder plasebo.


Geloofsoefening


Dink vir 'n moontlik aan al jou projeksies in hierdie tyd. Net soos Maria blameer ons baie keer mekaar, ander mense. Ons wil God voorskryf wat om te doen. Watter projeksies kan help om my behoefte aan God beter te sien en te verstaan? Maria leer ons om waarlik teenwoordig te wees. Deur te sit. Om net te wees. Sonder om iets te probeer verdien. Hoe kan ons in hierdie tyd saam met God sit? Wat verhinder jou om net in God se liefde te sit en dit te aanvaar (en ervaar)?


Vir gesinne: 


Hoe kan jy vandag teenwoordig wees vir jou kind? Wil jy nie doelbewus meer tyd met hulle spandeer nie, maar nie net fisies iets saam doen nie, maar ook emosioneel regtig teenwoordig te wees? Spieël ook hulle woorde want daardeur voel hulle dat hulle gehoor word.  Dink aan maniere om jou kind te beloon sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien. Kinders leer al vroeg dat die lewe baie voorwaardes het vir bv om goed te doen op skool moet jy hard leer of hard oefen, alles kom nie verniet nie, jy moet werk daarvoor. Maar maak hulle bewus en wys hulle dat julle liefde geen voorwaardes het nie... julle gaan nie meer of minder van hulle hou as hulle beter of slegter presteer nie. Alhoewel daar 'n tyd en plek is wanneer ons soos Marta moet werk - is ons selfwaarde en liefde nie daaraan gekoppel nie. 


Herhaalgebed


Here, help my om aan U voete te sit.


Geskryf deur Theo Geyser.

bottom of page