top of page

Ruswoorde: In Sak En As



Woensdag is Valentynsdag en ook die begin van As-Woensdag. Dit is ‘n rare kombinasie en ek is ‘n bietjie verlore oor hoe die twee mekaar kan omhels. ‘n Moontlike kombinasie is dalk as ek my meisie of vriend afsê…?! Waar Valentynsdag die sensuele beklemtoon is die idee met As-Woensdag om eerder die sensuele onder die mikroskoop van geestesfeer te bring en te verstaan hoe elke begeerte, verlange en behoefte ‘n uitnodiging is om my meer en meer aan God te verbind. ‘n Goeie manier om dit te doen is deur weerhouding. Die woord Lent beteken om te ‘bedek’ of te ‘vas’. Liefde werk ook so. Dit is soms eers wanneer ons weg is van mekaar dat ons werklik besef wat ons vir mekaar beteken. Die term ”in sak en as” dui gewoonlik op ‘n tydperk van verlies en diep pyn. In die Bybel word die term ook verbind aan bekering en vas in ‘n tyd van selfrefleksie, ‘n tyd van agterlaat en prysgee. Die prysgee gaan nie oor ‘n morele oorwinninkie oor sjokolade of alkohol nie. Die prysgee is veel groter en seerder. Die verlies is jou ego. Dit is ‘n verlies van al jou gehegthede (attachments) wat die ego probeer instand hou. Paulus ken hierdie pad wat die ego moet loop. ‘’Ek (Griekse woord is ego) leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” (Gal 2:20) Ons nooi jou uit om saam met ons te reis vir hierdie volgende 46 dae van Lent. Die Lent-gids, Ruswoorde vir Lent, is te koop Sondag. Dit bevat baie sinvolle en praktiese dagstukkies met Skrifgedeeltes asook ‘n geloofsgewoonte vir elke dag. Probeer gerus ook vas op As-Woensdag. Daar is vroegoggend ‘n byeenkoms in Kaapstad en die kantoor in Stellenbosch gaan die hele dag oop wees waar ons jou kan bedien met nagmaal en ‘n as-seremonie indien jy sou wou.

bottom of page