top of page

wanneer daar nie meer vye is nie


Toe hulle vroeg die môre van Betanië af terugkom, op pad Jerusalem toe, het Jesus honger gekry. Hy sien toe op ‘n afstand ‘n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien ‘n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie. Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie. Sy dissipels het dit gehoor. ” Markus 11:12-14 Die volgende week gaan ons Jesus se laaste paar dae volg na die kruis. In die geskiedenis van die kerk het hulle Jesus se handelinge in Sy laaste week op aarde (voor Sy opstanding), histories en kronologies probeer rekonstrueer. Die doel was om die week dan te herdenk deur elke oggend bymekaar te kom en weer te gesels oor wat Jesus daardie spesifieke dag gedoen het en wat met Hom gebeur het. Die week het in die kerk bekend begin staan as “Heilige week” of in ons tradisie as “die groot lydingsweek”. Die week begin gewoonlik met Palmsondag (gister) en eindig die Saterdag voor Opstanding Sondag. Wanneer ons Jesus se handelinge in die week dophou is dit nie net om Jesus te bewonder vir wat Hy vir ons gedoen het nie. Wanneer ons dit doen kan ons maklik Jesus op 'n afstand hou en die gebeure geen inpak op ons eie lewe maak nie. Die uitnodiging is dieper. Dit is om in Jesus se lewe iets van die patroon van óns lewe te sien. Jesus sê op 'n stadium Hy is die weg, die waarheid en die lewe… dit wys dat ons in Jesus se lewe die pad sien wat ons ook moet loop. Gister, op Palmsondag, kom Jesus Jerusalem in op 'n donkie. Die skare juig hom toe, sing Hosannas en gooi palmtakke voor Sy voete. Hierdie gebeurtenis was die vervulling van ‘n profesie wat ons in Sagaria 9:9 vind. Na die optog in Jerusalem het Jesus verkies om in Betanië, 'n klein dorpie net buite Jerusalem, te oornag. Op die Maandagmôre draai Jesus uit na ‘n vyeboom wat in die vroeg somer met ‘n weelderige blarekleed uitgedos staan. Markus meld uitdruklik dat dit nog nie vyetyd was nie, maar dat Jesus desondanks hoop om vye aan die boom te vind. Hoe moet ons dit verstaan? Soos baie mense wat die koronavirus sien as God se straf? Omdat ons ongehoorsaam is, die aarde vernietig, geldgierig en selfsugtig is en geen vrug van die Heilige Gees dra nie, pluk ons nou - soos die vyeboom - die straf? Die boom staan eerder in die konteks van ‘n groter protes. ‘n Onregverdige politiese en godsdienstige bestel wat Jesus nou na die vloek van die kruishout dwing. Dis ook belangrik om te onthou dat hierdie gebeurtenis direk na die reiniging van die tempel gebeur. Dink vir ‘n oomblik aan jou lewe as ‘n tempel en hoe dikwels ons dit verruil vir geldwisselaars? Jesus maak ook elders die verband met ‘n vyeboom wat begin te blom in die somer wat die teken sal wees dat die koninkryk naby is (Luk 21:29-33). Daar is seker baie interpretasies, maar vir my verwys 'n vyeboom wat vrug dra, na jou ware self. Die vrug verwys na die lewe van oorvloed en liefde wat Jesus belowe het. Die vyeboom se bestaansdoel is om vir ander vrug te gee en net so kan ons nie net vir onsself bestaan nie. Adam en Eva het immers vyeblare gebruik om hulleself daarmee te bedek en hulle (ware) self weg te steek! My ware self is gemaak om vrug te dra. Dit word nie aangeleer nie, dit is die gawe van ‘n vyeboom se geskapenheid. Maar soms dra dit nie vrug nie, wat beteken ek beweeg dan buite my eie geskapenheid en ek gee iets prys van wie ek regtig is. Dan is die koninkryk van God (wat Jesus gesê het binne in jou is volgens Luk 17:21) vêr. Dit is ‘n vals lewe wat nie die moeite werd is om te lewe nie. Ons kan soos Adam en Eva ook wegkruip agter blare. Dan kan jy nog wegkom omdat mense beïndruk is deur die baie blare en glo dat daar vrug is. Hoe dikwels leef ons die woorde (blare) maar nie die vrug (dade) nie? Of, hoe maklik is barmhartigheid of medelye maar hoe moeilik is regverdigheid (justice)?

Geloofsoefening vir die dag

Probeer jou lewe sien as ‘n vyeboom. Hoe sal jou boom lyk? Indien Jesus my gemaak het om vrug te dra, hoe word my lewe uitgenooi om my skeppingsdoel te verwesenlik? Waar sukkel ek? Wat wys hierdie moeilike tyd my oor myself?


Vir gesinne (of wie ookal voel hulle wil dit saam doen):

Vir Heilige Week gaan ons elke dag 'n aktiwiteit uitstuur wat julle as gesin saam kan doen om hierdie laaste week van Jesus meer relevant vir almal van ons te maak - ook ons kinders. Onderaan hierdie epos gee ek ook 'n lys van dinge wat julle gaan nodig hê vir hierdie aktiwiteite. Aangesien ons nie elke dag winkels toe moet gaan nie, sal dit goed wees om dit alles op een slag te koop - of nog beter, gebruik sommer goed wat jy by die huis het. Vertel die gebeurtenis van Jesus en die vyeboom.

Aktiwiteit:

Maak voor die tyd klei (maklike resep onderaan epos - selfs ek, Wilma, kon dit regkry...😉) of gebruik sommer modder.

Elkeen maak hulle eie skepping met die klei of modder.

Terwyl elkeen besig is om iets te maak, gesels oor wat elkeen maak, hoekom jy dit maak, en wat die doel is van elke voorwerp wat gemaak word. Bv as ek 'n hond maak, ek dink honde is gemaak om vir ons te wys wat regte, onvoorwaardelike liefde is - hulle bly nie kwaad vir ons as ons lank weg was nie, 'judge' ons nie, gee vir ons baie plesier. Hulle leer ons ook verantwoordelikheid ens ens.


Vra aan elkeen:

  • Waarvoor dink jy is JY gemaak? (Daar is nie regte of verkeerde antwoorde nie, maar as 'n kind dalk iets sê wat jy nie mee saamstem nie, vra eerder: hoekom sê jy so? Of: hoe pas dit in by Jesus se lewe op aarde of wat Hy geleer het?)

  • Hoekom dink julle, is Jesus gemaak? Wat het Hy vir ons kom wys? Wat het Jesus gesê is die belangrikste ding op aarde? (Om lief te hê).

  • So, hoekom is elkeen van ons gemaak? Om lief te hê!

  • Hoe pas dit by die storie van die vyeboom? (Die vyeboom is gemaak om vye te dra, die vrugte wat ons dra is liefde ens.)

  • Maar net soos die vyeboom partykeer nie vye dra nie, het ons altyd lief? Bv as iemand jou goed vat of nie met jou wil speel nie, voel jy dan lief vir daardie persoon? Nee, maar dis hoekom Jesus gekom het, Hy is liefde, Hy is binne-in ons. Hy sal ons help om lief te hê - al is dit nie vir ons maklik nie. Ons hoef nie die liefde of vrugte te 'maak' of produseer nie. Dit is reeds in ons DNS. Ons is liefde!

Herhaalgebed

Here, laat my vrug dra. - Geskryf deur Theo en Wilma Geyser

Wat nodig is vir Heilige Week se aktiwiteite as gesin:


  • Druiwesap of enige rooi sap vir nagmaal (Donderdag)

  • Paaseiers om weg te steek (Saterdag)

  • Hol paaseier (Sondag)

  • Eiers om te versier - dit kan gekookte eiers wees of wit lekkergoed eiers. (Sondag)


Maklike klei resep:


  • Verhit op stoof en roer:

  • 1 koppie water,

  • 2 eetlepels kookolie,

  • 2 koppies meel,

  • 2 koppies sout.

  • (Julle kan dan enige kleur voedselkleursel byvoeg soos julle wil - pasop net, dit vlek jou hande, maar dis deel van die pret).

bottom of page