top of page

"Waar is God ... as my gebede nie beantwoord word nie?"






‘n Tannie wat by Hangklip bly het haar huis aan die  anderkant van die berg gebou. Sy het die son beswaarlik gesien. Die winters was koud en sy het die berg elke dag verwens. Toe lees sy eendag Jesus se woorde in Markus 11: 23 ”Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur.” Sy stap toe kombuis toe, pluk die gordyntjie oop en bestraf die berg: “In die Naam van Jesus, hef jou op en werp jou nou in die see!” Sy maak die gordyntjie toe en gaan sit by die kombuistafel. Na 'n rukkie skep sy haar moed bymekaar en pluk die gordyntjie weer oop om te kyk of die berg nog daar is. Dan sê sy:

Jou vabond! Ek het geweet jy sal nog daar wees!"


Elke persoon wat bid ken hierdie twee kante van gebed. Die eenkant, waar God ons uitnooi om te bid en belowe dat ons gebede verhoor kan word, en dan die anderkant wat ons laat twyfel en ook soms los met onbeantwoorde gebede.

Dan vra ons: “Waar is God?”


Dit was ook nie anders in Jesus se lewe nie. Hy kon geen wonderwerke in Kapernaum doen nie, tog het hy gebid. Hy bid vir ‘n blinde, maar dan lyk die mense soos bome en sy gesig het nie dadelik herstel nie. Hy sluit sy lewe af met 'n onbeantwoorde gebed: “My God waarom het U my verlaat?" Waarom het God nie al sy gebede beantwoord nie? Of waarom het God nie vir Paulus gehelp in sy gevangenisskap, skipbreuk, honger, naaktheid, steniging en al sy ander ontberinge nie?

Wat ons kan help met hierdie vrae is om eerstens ‘n behoorlike definisie van gebed te kry.


Jesus moes baie oor gebed praat, bloot omdat sy dissipels ook soos ons gedink het oor gebed: Ons soek ‘n gemaklike Alladin-god. Gebed is soos ‘n lampie wat jy vryf, en dan verskyn God en ons gee Hom bevele en versoeke om te doen. In die kerk baklei ons oor hoe die lampie gevryf moet word: Charismaties, Kontemplatief of Gereformeerd ens. Jesus bid dat ons bewaar moet word van die bose wanneer ons bid, bloot omdat gebed ook ‘n donkerkant het.

The world is full of so-called prayer warriors who are prayer-ignorant. They’re full of formulas and programs and advice, peddling techniques for getting what you want from God. Don’t fall for that nonsense. Matt 6:7 MSG

Ons gesels Sondag oor die oudste definisie van gebed wat ons kan bevry van ons 'harder probeer' of selfs ons teologie oor gebed.  Iemand vra Sint Teresa van Lisieux of dit sonde is om aan die slaap te val wanneer ons bid. Haar antwoord was ‘n ma is lief vir  haar kinders wanneer hulle wakker is, maar ook wanneer hulle slaap. En soms verkies die ma dat die kind eerder slaap! Die wonder van gebed is dat God deur ons kan bid, en soms is ons “slaap” die hoogste vorm van gebed.


Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page