top of page

"Waar is God... in my onsekerheid?"


Sal jy ‘n Tata of Fiat wil toetsbestuur as jy weet jy kan ‘n Rolls-Royce koop en dat dit beste motor is? Ek is seker jy sal nie jou tyd mors nie! Sal jy ‘n saak ondersoek wat reeds opgelos is? Weereens, is ek seker jy sal nie jou tyd mors nie.  

Wanneer toets of ondersoek ons iets? Slegs wanneer ons onseker is of twyfel oor iets.

Twyfel is nie ‘n aanduiding van ‘n defek in iemand se geloof nie – dit is dikwels bloot ‘n gesonde bewuswording dat ons as mense beperkte begrip het wanneer dit kom by iemand soos God. Die woord 'toets' in die Antieke tyd is gebruik om metaal te beskryf wat getoets word of dit eg is. Muntstukke is soms vervals en is dan verhit om vas te stel of dit eg is.

Geloof is nie ‘n saak wat reeds vir ons opgelos is nie. Die meeste Christene verwar geloof met sekerheid en dis ook die hoofrede hoekom so baie Christene so gou hulle geloof verloor. CS Lewis sê: “If you examined a hundred people who had lost their faith in Christianity, I wonder how many of them would turn out to have been reasoned out of it by honest argument? Do not most people simply drift away?”

Enige geloof dryf weg sonder ‘n anker.

Twyfel kan ook ‘n gawe van God wees wat ons kan help om te groei en ook te breek uit ons beperkte begrip wat soms ons geloof demp. Dit help ook om die onderskeid te tref tussen twyfel en skeptisisme. ‘n Christen se twyfel kan beskryf word as ‘n plek vanwaar iemand as gelowige vrae het omdat hulle nie op daardie oomblik kan verduidelik waarom hulle iets glo nie. Skeptisisme, aan die ander kant, is die plek vanwaar iemand vrae vra oor dit wat hulle nie glo nie en dikwels ook nie belangstel om te glo nie. ‘n Christen se twyfel moet dus nie met skeptisisme verwar word nie. Skeptisisme is eerder  ‘n vorm van ongeloof wat van buite af vyandige vrae oor geloof vra.

Ons gesels Sondag oor hoe ons ons geloof kan ondersoek en toets. Ware geloof sal jou altyd by twyfel uitbring, en ware twyfel sal jou weer altyd die gawe van geloof gee. Os Guiness sê dit mooi:

"Of course, faith is much more than the absence of doubt, but to understand doubt is to have a key to a quiet heart and a quiet mind. Anyone who believes anything will automatically know something about doubt. But the person who knows why he believes is also in a position to discover why he doubts. The Christian should be such a person.”


Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page