top of page

"Waar is God... as verhoudings nie hou nie?"


Daar is tussen 20-30% meer egskeidings gedurende grendeltyd. Dink vir ‘n oomblik aan die ironie. Ons sê mos: Oos, Wes, tuis Bes! Waar jou huis is, is jou hart. Ons word geforseer om by ons huise te wees, en tog is ons huise die plek waar ons ons harte verloor...


Jesus het ‘n huis gebruik as ‘n metafoor vir liefde.  “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” (Joh 14: 23)


Waar liefde is, is daar ‘n tuiskoms.


Grendeltyd leer ons iets van hierdie liefde. Dit werk soos die storie van Marta en Maria. Marta verteenwoordig die besige maar ook verbitterde gedeelte in ons, en Maria die vervulde en volmaakte liefde wat net kan ‘wees’. Liefde het bitter en soet.


En die bitter liefde kan ons die gawe gee om ware liefde te leer ken.


Ons gesels Sondag oor hoe ons God ook kan vind en verstaan in die spanning van ons verhoudings. Hoe kan liefde ‘n tuiskoms word? Soos die verlore seun wat geen goedkeuring hoef te verdien nie, maar net kan wees wie hy is. Henri Nouwen, die bekende akademikus, het op ‘n kol ‘n loopbaanverandering gemaak. Hy het gevoel hy het net lief met sy kop en nie met sy hart nie. Hy die toe res van sy lewe gaan werk by ‘n gestremde tehuis by L’Arch waar hy die meeste van sy werke geskryf het. Hy sê die volgende : “What is so unique about living in L’Arche is that here I am loved by people who are in no way impressed with me.”


Marta se liefde kon Jesus nie laat tuisvoel nie omdat dit ‘n liefde is wat moes beïndruk en Jesus se goedkeuring moes verdien. Marta leer ons dat die verlies aan goedkeuring bring altyd 'n bitter liefde. Baie goed waarmee ons beïndruk en liefde verdien is van ons af weggeskeur gedurende grendeltyd.


Ons kry God binne hierdie verlies.


Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page