top of page

Lent: Leiding na die Wildernis



Daar is versteekte paaie oral om ons. Daar is paaie wat duidelik uitgemerk is. Paaie vir ons voete en paaie vir ons harte. Wanneer ons oë oop is, sal ons hulle ontdek.

Jesus is met baie paaie in die wildernis gekonfronteer – versoekingspaaie, dwaalpaaie, afdraaipaaie, roepingspaaie, waarheidspaaie en bedieningspaaie.

Hierdie week is ons saam met Jesus oppad die wildernis in. Die spore is daar. Ons kan volg. En so kan ons die weg ontdek, en ook vir Hom wat sê Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe.

Die gedig wat ons gebruik as teks die week is Sheila Cussons se "Gebed van die Loot aan die Wingerdstok.

Ons gaan nie alleen die wildernisse en woestyne van die lewe binne nie. God is by ons, Jesus is by ons. Ja, dit is moeilik en ons sal liewer gemaklike uitgewerkte paaie wil stap, maar dit is juis in dié woestyn waar ons die kans kry om te kies en die kans kry om te groei. Tyd in die Wildernis vra vir fyn onderskeiding, sodat ons kan herontdek wie God ons gemaak het om te wees.

Die vraag is, hoe klink God se stem in my lewe?

Gebed van die Loot aan die Wynstok

Solank as wat die mens sy gewaarwordinge in taal bly formuleer Here, laat my taal leef en dat U hom nooit van die liggaam van Afrika sal amputeer nie - en waar U moet terugsnoei, Heer, laat ons U hand herken en rustig weet U sal uit die vurige sap wat U nou tot besinning kasty iets wat helder en edel is eindelik distilleer.

Sheila Cussons

Kom kuier hierdie week saam met my die oggend om 10:00 by die Protea Hotel in Stellenbosch en laatmiddag, 17:00, by 2 Derry rd, Rondebosch. Invia Kaapstad kom nou in die NG Rondebosch se kerkkompleks bymekaar.

bottom of page