top of page

Advent: Wag


‘n Vriend van my bel hier aan die begin van Oktober, ‘Ek het die kersboom opgeslaan’ verklaar hy. ‘Ek kan nie meer met 2019 nie, dit moet nou end kry.’ Ek moet erken, ek verstaan wat hy bedoel, 2019 was nou nie juis die maklikste van jare vir baie van ons nie en meeste wil net klaar maak en alles agter ons sit.


Dit is juis hier waar die kerktradisie en die eeue oue ritmes ons kan help. Die kerk jaar begin so maand of wat voor die res van die wêreld se nuwe jaar. Ons begin ons jaar hierdie week met die eerste Sondag van Advent. Advent praat oor die koms van Jesus en Advent leer ons ook die waarde van wag.


Wag is moeilik vir meeste mense, veral in ons kits samelewing waar ons amper alles onmiddelik kan kry (ek het self al ‘n Uber gekanselleer omdat dit langer as 4 minute sou neem om ons te kom oplaai). Om deesdae te moet wag vir iets is onaanvaarbaar.


Aan die een kant moet ons vrede daarmee maak, want ons spandeer meeste van ons lewens deur te wag vir iets. Ons wag vir die einde van die jaar, die maand, die week. Ons wag vir ons bonus, vir die vakansie, vir die een wat ons ons lewe mee sal spandeer, ons wag vir die uitslae, die aanstelling, die geboorte, die huwelik, die partytjie, die verhouding, of wat ookal ons dink ons sal gelukkig en heel maak. Die ongemaklike waarheid is dat hierdie ‘wag vir iets’ die einste ding is wat ons so ongelukkig maak, want ons kry nie altyd wat ons voor wag nie, ons kry dit eintlik bitter min.


As wag so onvervullend is, hoekom is wag dan intensioneel deel van die kerk jaar, deel van Advent? Hoekom het ons vier Sondae voor Kersfees wat ons juis uitnooi om te wag, om nie nou reeds die persente oop te skeur nie?


Daar is dalk ‘n gawe in die dissipline van wag, om oor te gee aan die wag, om beheer te laat gaan, om met ‘n oop gemoed te vertrou dat God sal doen wat nodig is, dat Hy getrou sal wees, om nie te wag op iets nie, maar op God self en dat Hy ons sodoende vorm?


Kom kuier saam hierdie Sondag by die Protea Hotel in Stellenbosch om 10:00 en die aand by 2 Derry rd, Rondebosch om 17:30 waar ek meer sal deel oor die geloofsgewoonte van wag.

bottom of page