top of page

Advent: Verwondering


Die basis van alle hoop is verwondering. Verwondering kan jy nie beplan of uitdink nie. Jy kry dit nie in bewyse nie. Dit werk nie soos Sherlock Holmes wat al die onmoontlike scenario's uitsluit en wat dan oorbly word die waarheid. Jy kry God nie in die redusering van die onmoontlike nie, maar reeds in die onmoontlike.


Jy kry hoop waar niemand dit verwag nie.


Daarom word jy verras en oorweldig want die onmoontlike word nou moontlik. Dan moet jy steun op engele wat vir Maria herinner dat alle dinge by God moontlik is!


Die kersverhaal begin te midde van haat en konflik, vrees en onsekerheid waar mense al vir 600 jaar van hulle eie land vervreemd is. Dan verras God die mensdom, nie met kitsplanne nie, maar met ware hoop te midde van wanhoop.  Binne ‘n stal, ‘n vuil krip waar diere die hoofgetuies word van Christus se geboorte. Sterrekykers word ook vertrou en ‘n mens sou seker eerder wou luister wat sê die Rabbi’s by die Universiteit van Jerusalem. Die engele koor sing ook nie vir ‘n gehoor nie, maar die ope veld ontvang en verwelkom die nuwe Messias!


Maria en Josef se ervaring van Jesus verwoord die wese van ons geloof: Hulle het hulle verwonder (Luk 2:33).  Die woord wonderbaar in Jesaja 9:6 beteken letterlik: Meer as wat ek verwag het!


Maak reg vir die God wat jou verras!


Hy kom!

bottom of page