top of page

Meer As Genoeg: Om Tevrede Te Wees


Ek het ‘n nuwe gunsteling woord, AUTARKEIA. Dit is ‘n Griekse woord wat Paulus o.a. gebruik in sy briewe. Dit beteken om "genoeg te hê vir al jou behoeftes en tevrede te kan wees". Filosowe in antieke Griekeland, veral die Stoïsyne, het autarkeia geprys as ‘n deug, ‘n karakter eienskap wat begeer en na gestreef moet word.


Dit klink goed. Dit sal lekker wees as ons almal heeltemal self-onderhoudend kan wees en daar aan al ons behoeftes voorsien was. Ek sien alreeds my nuwe kar en die lang vakansie wat ek so ‘nodig’ het.


Die ding is, ons ‘behoeftes’ kan nogal ‘n lekker lang lys word. Daar is ‘n stroom bemarking wat vir my en jou elke tref om ons te oortuig hoe baie ons ‘n nuwe R20 000 foon of R500 000 kar ‘nodig’ het, byvoorbeeld. Hierdie ‘behoeftes’ van ons is gereeld onbehaalbaar en lei tot angs, spanning, depressie of selfs erger.


Autarkeia beteken gelukkig nie dit nie. Dit beteken nie dat ons moet aanhou stoei sodat elke moontlike behoefte vervul is nie, eerder gaan dit oor net jou basiese behoeftes en om dan tevrede te wees en gelukkig te wees, wanneer net dit gedek is. Met ander woorde: Met hoe min kan jy tevrede wees? Om kos te hê om te eet, ‘n dak oor ons kop en klere aan ons lywe (1 Tim 6:6) is volgens Paulus genoeg.


Hoeveel van ons kan opreg sê dat ons gelukkig sal wees met net daardie?


Nie veel van ons nie is my raaiskoot, ek dink meeste van ons sal dit armoede noem.


Wat leer die teks ons oor tevrede wees? Hoe kan ons tevrede wees met minder in ‘n wêreld wat konstant vir ons vertel hoe ontevrede ons elke dag moet wees?


Kom kuier Sondag middag saam by InVia Kaapstad om 17:30, daar sal kinderaktiwiteite tydens die diens wees.

bottom of page