top of page

Op 'n punt van Her-orde


Die manier hoe die Here ons en die hele skepping transformeer is deur ‘n vaste patroon: Orde, wanorde en her-orde. Die natuur en ons eie lewens sal dit vir ons leer. Ons vermy die wanorde maar wanneer dit kom, korrigeer dit met ‘n kunsmatige orde. Loer maar na hierdie grafiek van pandemies. Die ego of hero duld geen mislukkings nie. In Rohr se woorde: “The ego hates losing, even to God”.


Walter Brueggemann sê dat die rede hoekom die Here hierdie patroon in ons lewe toelaat is omdat God ons wil red. Dit is soos die Israeliete wat binne ‘n kunsmatige orde leef in Egipte. Nadat God hulle verlos het sou mens dink hulle is vry, maar dan beland hulle in wanorde. Hulle verlang selfs terug na die vleispotte en die kunsmatige orde wat die Farao (hero) beloof. Die doodloopstraat voor die Rooi See word nou ‘n ooploopstraat na die nuwe lewe en orde in Kanaän.

Her-orde is God se werk.

Ons aandeel in geestelike vorming is minimaal. Dit is om alles te laat los (ontlediging) sodat ek in God se hande kan val. God doen die herskepping. Dis moeilik binne ons kultuur omdat ons dink dat ons alles moet verdien. Dit is nie omdat ek meer bid, of reg glo, of meer moreel leef nie. Dit sal eerder die resultaat van jou herskepping wees. Geloof is eerstens ‘n vaste wete (nie bewys!), en jy kan ‘n wete nie “doen” nie!

Ons gesels Sondag oor hierdie ongelooflike gawe wat God gee. Ons gaan kyk na die beelde en verhale in die Bybel wat ons herinner aan God se skeppingswerk binne ons, en dat ons nooit tevrede sal wees met ‘n kunsmatige herskepping nie. 


Geskryf deur Theo Geyser


bottom of page