top of page

Grendelam aan't fynkam: bouers en brekers


Max du Preez het iets baie waar gesê net voordat ons grendeltydperk aangekondig is: “Nou gaan ons die mooi en die lelik in mense sien.” Ek noem hulle: Bouers en brekers. Mense wat in moeilike tye binne en buite hulleself of opbou of afbreek.


Met enige radikale verandering word die mens se oer-instink na oorlewing geaktiveer. Dit is net natuurlik. ‘n Stukkie paranoia skop in en die oer- of reptielbrein neem die kognitiewe funksies oor. Daar is geen logika, verbeelding of geloof nie en vrees eet soos kanker deur die emosies. ‘n Reptiel is koudbloeding, en so word ons ook.


Brekers.


Dit vra moed en durf in tye van radikale verandering, en God wil dit graag aan ons gee. Nehemia kon dit regkry om te midde van groot hervormings en teëstand, ‘n bouer te word. Hy wil sy hart en roeping uitleef en God gehoorsaam om die mure van die tempel te herbou wat vir 70 jaar in puin gelê het. Oornag word hy van buite omring met haat, sarkasme en woede deur die goewerneur van Samaria in die Noorde, die Ammoniete in die Ooste, Arabiere in die Suide en die Filistyne in die Weste. Binnekant begin die werkers ook bang word, hulle kragte kwyn en wil moed opgee (Neh 4:10). Dit is die perfekte storm.



Skaakmat.


Wat doen Nehemia? Eerstens, hy hardloop nie weg nie, demoniseer niemand en dreig ook niemand met God nie. Hy kan sy vyande ook liefhê. Hy lewe in die teenoorgestelde gees van die oer-instink wat daar heers. Dis ook Paulus se raad. “Ons word uitgeskel, en ons antwoord met seënwense; ons word vervolg, en ons verdra dit; ons word beledig, en ons bly vriendelik.” (1 Kor 4:12-13)


Tweedens, hy bid. Elke hoofstuk in Nehemia is ‘n venster op gebed. Gebed verbind die mens met God. Gebed aktiveer en stimuleer gemeenskap met God. In Calvyn se woorde: “If we invoke God, he will reveal himself.”  By Nehemia is dit nie ‘n meganiese handeling nie maar ‘n manier van leef. As hy sy memoir skryf dan sê hy: “I was fasting and praying before the God of heaven.” (Neh1:4) Hy bid nie vir die teenwoordigheid van God nie, hy bid in dit. Die woord teenwoordigheid beteken “gesig”. Gebed help ons om te leef met die wete hoe God na jou en die wêreld kyk.


Dit is lewensveranderend.


Laastens hou hy net aan bou. Hy bid ook hierdie woorde: “Onthou my asseblief Here…” (Neh 13:14). Hy weet dat die grootste gawe wat ons kan los is die herinneringe om soos God te kan leef in moeilike tye. Dit is die mense wat onthou word. Die bouers saam met hom byt vas en bou die muur. Een hoofstuk word gewy aan die families wat by die Skaappoort, Dalpoort, Waterpoort, Vullispoort, Oupoort en Vispoort die mure moes bou. Hulle name word genoem en sal verewig saam met Nehemia onthou word.


Bouers word nie vergeet nie.


Geloofsgewoonte


Gaan sit met die vraag: Wat word binne en buite my afgebreek en opgebou?


Waarheen nooi die Here my uit?



- Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page