top of page

Geringe Helde: Dorothy Day - Heilige en Moeilikheidmaker


“The final word is love”

Dorothy Day


Dorothy Day was ‘n aktivis, moeilikheidmaker en heilige. Haar protes as tiener en jong vrou was soos ‘n skreeuende luidspreker wat haar herhaaldelike kere in groot moeilikheid laat beland het. Sy veg vir vroueregte, menseregte en veral vir arm mense wat deur die samelewing verstoot en misbruik is. Sy glo in verset, eetstakings, protesaksies en ken die binnekant van tronkselle goed.

Soos wat Dorothy ouer word kom daar ‘n groot keerpunt in haar lewe.

Sy word diep geraak deur die geboorte van haar dogter, Tamma, en neem die Katolieke geloof aan. Sy kom in aanraking met die lering van Johannes van die Kruis op ‘n retreat wat haar lewe en idees oor die lewe radikaal verander. Hier word Dorothy Day die geestelik reus gebore. Sy bly nog steeds aktivis en moeilikheidmaker, maar nou verander die motivering en ook die manier hoe sy haar lewe gee vir die transformasie van sosiale ongeregtighede.

Sy gebruik haar pen om duisende mense te besiel en te inspireer om nuut te dink oor sosiale geregtigheid. Haar koerant, The Catholic Worker, gee geboorte aan ‘n beweging wat tot vandag toe nog in verskeie lande haar werk voorsit.

Sy lewe met ‘n liefde vir die Bybel, leef in solidariteit met die armes, en beywer haar vir vrede. Ondanks die feit dat sy nooit as ‘n heilige wou bekend staan nie, het sy vas geglo dat ‘n geloofsgemeenskap die pyn van die wêreld kan aanspreek. Ons gaan Sondag gesels oor hoe sy geglo het dit kan gebeur. Haar verstaan van gasvryheid, liefde, nederigheid en ook opoffering bring 'n nuwe blik op Christus se lewe wat ons soms vergeet.

Ons kuier Sondagoggend by die Protea Hotel om 10h00 saam met Theo en Pierre preek die aand om 17h00 in Rondebosch.

Comments


bottom of page