top of page

Boomkastele: St. Francis-Dag


Ek het nog altyd geglo dat ek na lelies moet kyk, dat die bome en riviere die Here loof en dat die uitspansel ook Sy handewerk verkondig, maar nog nooit eerstehands ervaar hoe dit my eie lewe omdop en tot stilstand bring nie. Dit het eers 7 jaar terug gebeur op my eie Onderskeidingstydperk van 12 dae in die Anysberge saam. Ek kon vir die eerste keer verstaan waarom die kerk glo dat die die natuur en skepping God se eerste en primêre openbaring is. Dit maak sin, want hoe anders kon mense God “lees” en hoor vir duisende jare voordat ons ons eerste Bybel uit die meganiese drukpers kon kry?

Deur die natuur.

Daarom leer Jesus jou kyk na mossies, berge, bome, lelies en leer jou om in afsondering tyd met God in die natuur te spandeer.  Ons vier Sondag, saam met mense regoor die wêreld, die lewe van St. Francis. Hy is gebore in die twaalfde eeu en is die Katolieke Kerk se Beskermheer van diere en die ekologie . Hy het die skepping en alles daarin beskou as die liggaam van God en homself as ’n integrale deel daarvan. Hy het sy liefde vir God uitgedruk deur sy verwondering en bewaring van die natuur en ook ‘n spesiale band en vriendskap tussen hom en diere. Hy sou die inspirasie wees soos wat Craig Foster van “My Octopus Teacher” of Anna Breytenbach wat bekend is vir haar werk “How Diablo became Spirit”, nou vir miljoene mense regoor die wêreld is. Iets binne elke mens roep uit en verlang na die genade en verbintenis wat God deur sy skepping aan ons gee.

Ons gesels Sondag oor hierdie brose planeet en hoe God ons uitnooi om die genade en woorde van God ook deur die skepping te ontvang.  Psalm 145:9 “Gods mercy is upon all creation”. 


Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page