top of page

Lent: In die Wildernis in



Welkom by Lent 2019.

Vir die volgende 40 dae onderneem ons `n reis waarin jy genooi word om die wildernis-lesse van versoeking, lyding, eensaamheid en gestroopdheid met Jesus te deel.

Elke week begin met ‘n kort oorsig en ‘n gedig wat verband hou met die inhoud. Daagliks word jy met ‘n kort oordenking en ‘n gebed begelei, jy kan die Lent boekie by die Sondag dienste in Kaapstad en Stellenbosch aankoop teen R50. Aan die einde van elke week is daar ‘n begeleiding om te reflekteer oor die tema. Besluit hoe jy daagliks met die gedeelte wil sit (oggend of aand) en met wie jy hierdie reis wil meemaak (alleen, met jou lewensmaat, jou gesin, lewensgroep of vriende).

Week 1, Sondag:

Jenny Baker skryf oor die wildernis-seisoene van ons lewe:

Deserts are harsh, inhospitable places; places of danger and risk where death walks close behind you.

Die Griekse woord vir woestyn is heremon, en dit beteken letterlik ‘n afgesonderde plek of ‘n stil plek. Dit is wat die woestyn ook vir Jesus was. Dit was ‘n voorbereiding. Toe Hy eenkant kom en wegkom van alles en almal, toe word Hy (deur wat met Hom gebeur en wat Hy doen in die woestyn) voorberei vir Sy bediening.

Die wildernis is nie altyd ‘n baie aangename ervaring nie. Dis leeg, vreemd, pynlik, eensaam. Maar die ervaring is nie alleen nie. Jy is nie alleen nie. Saam met Jesus gaan jy die wildernis in…

Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword… Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.”

Matt 4:1-2,11 (AOV)

GEDIG:

Meister Eckhart

En nou, omdat ons almal volmaaktheid nastrewe,

moet ons ophou om te kla voor God,

besef dat die aanloop God en hemel toe

in die sélf en in die stilte lê.

Een ding is nodig Martha, vertel dit aan die susters,

en dit is die alleenloop deur woestyne.

Die liefde is nie groter as dit wat jy daar sal vind nie –

al kon Paulus dáároor liries skrywe vir die Grieke.

God is ín jou. Van Hom staan niks apart nie

en as jy alleen is, is sy geselskap nader.

Afsondering is nodig, na aan die Niks en die Niet

waar God is. En, moet jou nie vermoei met óp beur,

óp na God nie. Hy sal wel áf-kom na jou toe.

Hy streef ook na die mens, sy woonplek.

Gaan dus na die woestyne, maar moet nooit

die woestyn dra in jou hart nie.

Want woestyne groei totdat alles

stil en koud en dood is.

M. M. Walters

 

Kom reis saam met ons deur Lent vanaf hierdie Sondag by Invia Kaapstad, ons kom bymekaar 17:00 by 2 Derry rd, Rondebosch. Daar is ook kinderaktiwiteite vir jong kinders tydens die skoolkwartaal. Hoop om jou daar te sien!

Pierre

bottom of page