top of page

Jesus Se Mees Irriterende Stories: Onkruid



Dink vir 'n oomblik aan InVia as ‘n klomp Jode wat die laaste 900 jaar saam is. Hulle het na Suid-Afrika getrek, met baie bloedvergieting, en glo vas dit is die beloofde land. Maar intussen was daar ‘n groot revolusie en InVia moes hulle land 20 jaar gelede afstaan en glo nou hulle gaan dit terugkry omdat daar ‘n nuwe regering gaan wees. Hulle glo alle nasionaliteite gaan soos hulle word, m.a.w. Jode wat by InVia aanbid. Indien jy die nuwe leraar van InVia is en vir hulle moet sê dat die regering reeds gekom het, en dat nie almal soos InVia hoef te glo of te word nie, maar dat hulle Jesus binne hulle kultuur kan volg, hoe doen jy dit? Dit is min of meer die situasie waarin Matteus was toe hy aan ‘n groepie Jode wat Jesus probeer volg, moes skryf. Hy gebruik Joodse metafore, beelde en stories wat elke Jood sou ken, en hy vertel die storie van Israel nuut en kom elke keer by ‘n paradoksale konklusie. Hy vertel nie verhale hoe dit gaan wees nie, maar hoe dit nou is. Hy vertel ‘n storie van onkruid na aanleiding van die gelykenis van die saaier. Met sy skryfstyl en Griekse grammatika laat hy jou dadelik verstaan dat die regering reeds gekom het. Hy wys dan hoe die hart werk. Dit werk met koring en onkruid. Ons is almal in Luther se bekende woorde: tegelyk regverdig en sondaar. Hierdie gemengde stuk grond binne ons vra na erkenning en aanvaarding, anders sal ons met woede leef. Dit beteken nie dat ek boosheid of die toksiese onkruid binne my aanvaar nie, maar eerder leef met ‘n diep bewustheid daarvan. Dit vat baie meer guts om met vergifnis, medelye en omgee te leef as goedkoop volmaaktheid of die blindheid van ons foute. Wanneer ons die onkruid en die koring binne ons kan onderskei, help dit dat ons onsself nooit sal oorskat nie, maar eerder gegrond te bly in nederigheid voor ander en God. Dan hanteer God die onkruid self.

bottom of page