top of page

Jesus Se Mees Irriterende Stories: Talente & Werkers In Die Wingerd



Jesus draai dinge op hulle kop. Wie eerste is gaan laaste wees, en laaste eerste. Draai die ander wang, loop die ekstra myl, laat staan die onkruid net so tussen die koring, gee al jou geld weg en volg My. Hy eet saam met sondaars, hoere, en korrupte politici, maar ook saam met godsdienstiges, vromes, priesters, en regsgeleerdes. Jesus breek die grense af van beide kante af.

Jesus maak almal de-hel in.

Tog is ons geneig om Jesus maklik te maak - ons teken hom mooi in kinderbybels en laat hom lyk soos ‘n goeie laerskool meneer. Jesus die kinderoppasser.

Liewe Jesus.

En Jesus is dit – maar dis net die een kant van Hom. Hy is ook meer as dit.

Liewe Jesus is nie altyd so lief nie. Was dit liewe Jesus wat mense met ‘n sweep uitgehaal het in die tempel? Liewe Jesus wat mense vervloek het en gesê het hulle is slange, en wit grafte, vrot van binne? Elke keer wanneer ek liewe Jesus se uitsprake lees oor familie soos ‘haat jou Vader en jou Moeder’ (Luk. 14:15) dan wonder ek altyd oor hoe pas hy nou in jou standaard familiekerk?

‘n Liewe Jesus het nie vyande wat planne maak om hom uit te haal nie. ‘n Liewe Jesus word nie tot die dood veroordeel nie. Jesus sterf die dood van ‘n rebel, ‘n dief, ‘n moordenaar.

Ons prentjie van Jesus kort werk. Jesus is meer as Liewe Jesus. Jesus is radikaal. Sy koninkryk is anders as die wêreld wat ons ken. Dit is vir ons vreemd en soms ontstellend. Jesus is baie dinge, maar gemaklik? Glad nie.

Kom luister en kuier Sondag saam oor twee van Jesus se mees irriterende stories: Die gelykenis van die Talente 10:00 by die Protea Hotel in Stellenbosch, en die verhaal van die werkers in die wingerd, 18:30 by die Old Biscuit Mill in Woodstock.

bottom of page