top of page

Toorwoorde: Ja!



Ja is ‘n oopmaak woord, ‘n groot woord.

Ons is geneig om maklik nee te sê, om toe te maak. Ons lewe eintlik meeste van die tyd ons lewens na binne.

Ons is binne ons huise, binne ons karre, binne ons kantore, binne ons estates. Ons is bang vir die wilde natuur en die vyande daar buite.

As mense is ons amper geprogrammeer om toe te maak en nee te sê om veilig te wees. Ons wil terugkeer na die moederskoot, terugkeer na die bron van lewe, waar ons veilig was met ‘geen’ gevaar.

Dit is amper asof ons die res van ons lewe spandeer in angs omdat ons weg is van die bron. Ons probeer tevergeefs terugkeer, maar is ook te bang om vorentoe te beweeg en dalk weer gewond te word.

Dit verg bewustelikheid om vorentoe te beweeg, om oor die rivier te gaan en groot te word. Om al hoe verder van ons letterlike en spreekwoordelike moederskote af te reis. Dit verg dat ons leer van ons wonde, ons herhaaldelike foute om sodoende tot by ‘n plek te kan kom waar ons JA kan sê vir GOD. Waar ons Ja sê soos Jesus Ja gesê het vir God se werk in Hom en deur Hom.

Ons word uitgenooi na ‘n groter pad, ‘n metanoia pad weg van ‘n paranoia pad af. ‘n JA wat deur ons gees uitgeroep word na Abba Vader toe, ‘n ja vir ‘n nuwe skepping wat oopbreek.

Om hierdie pad te loop moet ons ophou nee sê, ophou terugkyk maar vorentoe reik. Ons moet ophou beur teen wat gebeur het in die verlede, teen dit wat ons verloor het, die foute wat ons gemaak het, teen ons wonde. Ons moet liewer toelaat dat ons stories ons seile vul sodat ons die groot JA kan antwoord en aanhoudend verewig word met God self.

Kom kuier saam Sondag oggend 10:00 by die Protea Hotel in Stellenbosch, waar Theo aan die woord sal wees, en die aand 18:30 in die Old Biscuit Mill in Woodstock, waar ek sal deel.

bottom of page