top of page

Ruswoorde: Stilte



In Markus 1:12-13 lees ons hoe Jesus deur die Heilige Gees in die woestyn ingelei word. Dit is nogal vreemd dat die Heilige Gees hom juis soontoe lei, aangesien die woestyn uiters gevaarlik is. Dit was bekend dat jy die grootste respek vir die wilde diere moes hê en ook baie versigtig moet wees vir rowers en moordenaars wat daar weggekruip het.

In die woestyn kyk jy die dood reguit in die oë.

‘n Mens kan nie anders nie as om te wonder hoekom word Jesus dan hierheen gelei? Wil God hê dat Jesus moet swaarkry? Moet Jesus sy vrese oorwin?

Die woord woestyn (eremos) beteken stilte of afsondering. Die plek dui op die stroping van al die stemme in ons lewe sodat ons God se stem kan hoor. Die woestyn was altyd die plek van: voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, transformasie, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God).

Jesus nooi ons almal uit om Hom te volg – en dit sluit die woestyn in. Albert Nolan sê die volgende: “If we wish to follow Jesus, we need to follow Him first and foremost into the desert. “

Ons gesels Sondagoggend oor hoe ons Jesus volg - ook in afsondering en stilte. Die woestyn help ons om die realiteit van ons eie bestaan, ons eie gevoelens, ons eie denke en dit wat met ons gebeur, te erken. Die woestyn is God se gawe aan jou om dit te ontdek.

Dit is tragies dat ons eerder die geraas van die stad bo die stilte verkies, en soms ons eie lewe ontken en dit nog boonop geloof noem…

Lent nooi ons uit na ‘n ander lewe…

“If you want to ascend to God, you have to descend into your own reality. God is too real to be found anywhere else but in reality.”

Thomas Merton

bottom of page