Die storie van Maria begin nie goed nie. Sy ontvang ontstellende nuus wat haar lewe kon kos. Tog kies sy om met daardie spanning te leef en die slegte nuus te verken en begroet haar noodlot met ‘n duidelike ‘ja’!
Dit is moeilik om spanning in ons lewe te dra. Die spanning van ons vriendskappe, huwelike, geloofsgemeenskappe en politieke dampkringe laat ons veel eerder nee sê. Ons dra gewoonlik die spanning met genade en verdraagsaamheid, maar slegs vir ‘n kort rukkie! Dan verruil ons verdraagsaamheid vir ongeduld.
Maria kies eerder om geduldig te wag en te glo dat die Here ten spyte van onstellende nuus, haar lewe kan uitwerk. Sy kies die pad van eensaamheid en onsekerheid.
Die keuses tussen opgee of aanhou, en laat gaan of vashou bepaal die grootte van ons hart. Die paradokse van ons lewe is die geboortekanaal van God. Daar ontdek ons God se groot ‘ja’ vir ons lewe!
"Stand in awe of God’s Yes!" Ps 128:4
Maria se storie eindig mooi. Haar ‘ja’ bring Jesus na die aarde!
Net so word ons ‘ja’ vir God ook die geboorte van Jesus in ons lewe en ook vir hierdie wêreld!