top of page

Op, Af, Heen En Weer. 'N Lewe In Vier Bewegings: Gees



Hoe praat die Here met my? Hoe wandel ek in die Gees? Hoe ken ek die wil van die Here? Hoe weet ek wat is die plan van God vir my lewe? Hoe sien ek wat God raaksien?

Deur jou hart of ware self.

Dit is nie ‘n plan of bloudruk nie, maar eerder die ontvouing van ‘n droom wat binne ‘n liefdevolle verhouding met God uitgewerk word. Dit is vloeibaar, aanpasbaar en is gedurig besig om te ‘toets’ en ‘beproef' wat die goeie, welgevallig en volmaakte wil en uitnodiging van God aan my lewe is (Rom 12:1-3).

Ons natuurlike neiging is om weg van ons hart of ware self te beweeg. Ons beweeg veel eerder na die gedisorïenteerde behoeftes van die liggaam, verlanges van die siel en gedagtes van die intellek. Dan het die liggaam, siel of kop die laaste sê, en heers oor die belange van die hart. Paulus praat dikwels van hierdie spanning waarin hy beland (Rom 8:6, Gal 5:5, 1 Kor 14:15 en Rom 7)

Die beeld wat ons kan help om die hart beter te verstaan, is die van ‘n arend. (Mag die liedjie ‘Sweef soos ‘n arend’ nie nou hierdie mooi beeld vergruis nie!) Die arend of hart vloei, is lig en vry, sien die groter prent en ook die fynste detail uit die lug en gebruik die wind om moeiteloos en sorgvry te sweef.

Jy hoef nie die wind te maak nie, dit bestaan reeds. Jy hoef nie die wind te ‘vat’ nie, die wind vat jou…

Jy ontdek nie die wil van God nie, dit ontdek jou.

Die wind waai vanself wanneer jou liggaam, siel en verstand nie meer teen die hart werk nie, maar wanneer hulle oorgee aan die hart.


bottom of page