Wysheid oor: Jou tong vertel alles
- 1 day ago
- 3 min read
Updated: 15 hours ago

"So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag." Jak 3: 5
Wat is 'n woord? Vra dit lank genoeg, en die vraag hou op om oor taal te wees. Dit word 'n vraag oor wie jy is wanneer jy jou mond oopmaak. Daar vloei iets uit jou binneste uit, hetsy om jou eie drome te volg of om aan iemand anders se wense te voldoen. Jou woorde laat óf jou eie werklikheid ontkiem, óf laat jou ware self verdwyn onder die gewig van ander se eise.
Jou woorde laat óf jou eie werklikheid ontkiem, óf laat jou ware self verdwyn onder die gewig van ander se eise.
Die kernvraag is bloot: Wat is die biologiese en emosionele koste van jou spraak? Woorde het nie klank nodig om krag te hê nie. Vir die dowe is die roete direk: van visuele simbool na neurologiese betekenis. Dit bewys dat die menslike psige geprogrammeer is om uit te druk wat binne sit. As jy een kanaal blokkeer, sal die drukking van die binneste bloot ’n nuwe uitlaatklep dwing.
Die Jode het hiervoor 'n woord: dabar. Nie net 'n klank wat na iets wys nie — maar ook 'n daad. God sê, en dit ís. "Laat daar lig wees," en daar was lig. Die rabbi's het geglo die wêreld is gebou uit twee-en-twintig letters van die alfabet. Ons woorde dra nie net boodskappe oor nie; hulle timmer aan die realiteit van ons bestaan.
Adam se eerste woorde aan die diere was nie ’n administratiewe plig nie, dit was ’n heilige uitnodiging om God se skeppingsverhaal saam klaar te skryf.
Jakobus probeer nie die geweld van ons daaglikse taal miskyk nie; hy loop saam met ons deur sewe verskillende spieëls van die tong. Die eerste vyf — die swaar roer, die verwoestende vuur, die stormagtige see — is harde, chaotiese kragte wat heeltemal buite ons beheer voel en diep krake agterlaat. Hy laat ons doelbewus eers in hierdie donkerte vertoef, sodat ons die verpletterende gewig van ons eie woordeskat aan ons eie bas kan voel. Dit is ’n ontnugterende terrein waar die wysheid van die Talmoed en die gees van Ubuntu mekaar ontmoet: ’n bose tong laat drie lyke in sy spoor agter — die spreker, die hoorder, en die een oor wie gepraat word. Wanneer ek jou menswaardigheid met my woorde afbreek, gebeur die versplintering eintlik eerste in my eie bors. Maar Jakobus los ons nie in die rook van die brand nie. Hy lei ons sagkens na die laaste twee beelde: ’n stil fontein en ’n vrugteboom. Hier raak die geraas stil. Ware transformasie is ’n reis uit die gewelddadige teater van die ego, na die stil, lewewandisende argitektuur van ’n geneesde hart.
Jakobus se analogie van die boom sny reguit na die kern van hoe verandering werk. Woorde is nie toevallig nie; hulle is die uiterlike simptoom van ’n innerlike wortelstelsel. As jy jou woorde wil verander, hou op om jou gedrag op ’n kosmetiese vlak te manipuleer. Woorde word gevoed deur die dikwels toksiese grond van onverwerkte trauma en ego-verdediging. ’n Gees wat deur vrees gedryf word, kan nie skielik genade produseer nie. Jou daaglikse taal is die stam van die boom—dit rapporteer bloot die status van jou psige. Om jouself te dwing om "vroom" te klink sonder innerlike transformasie, is soos om appels aan ’n doringboom vas te plak. Dit is ’n nare leuen. Die stelsel moet van die wortels af verander word. Eers wanneer die Gees die verborge hoeke deurlig en die vloei van jou binneste herstel, verander jou woorde van ’n wapen in ’n medisyne.
Komende Sondag gaan ons saam dink oor groot geheimenis: die wyse waarop God deur ons eie, brose menslike woorde aan die woord kan kom. Ons gaan kyk na Jakobus se organiese metafoor van die boom, hoe ons verby die uiterlike geraas van ons daaglikse spraak te beweeg en te kyk na die verborge argitektuur van ons binneste.
"Prayer is not primarily talking to God. It is learning to speak from a different place inside yourself — the place where you are already in union with God. That changes not just your prayers, but every word you speak." Ronald Rolheiser

- Theo Geyser




