Mites oor genesing: Geheel... en al
- 11 minutes ago
- 3 min read

Op een of ander stadium in ’n reality game show (soos Survivor) sal van die deelnemers iets doen wat in die gewone lewe teen hulle beginsels sou wees. Selfs iets immoreel. Dikwels iets wat maak dat ek my oë toeknyp. In hulle onderhoud met die kamera trek hulle dan net hulle skouers op en sê: “It’s the game…”
Don’t hate the player, hate the game. Dit geld selfs in sporte waar idees soos sportmanskap hoog geag word. In rugby kan jy iemand tackle laat hulle tande klap en natuurlik sal niemand dink jy’s ’n slegte mens nie. Eerder ’n goeie speler. Een span kan ’n ander verneder op die telbord, maar na die tyd skud almal hand en glimlag vir ’n foto.
Maar wat as daar ’n speletjie is wat die meeste van ons, die meeste van die tyd speel en dit amper nie eens agterkom nie? ’n Stel reëls wat maak dat ons makliker dinge doen wat ons nie andersins sou nie. Lorenzo Fioramonti, ’n professor in politieke ekonomie gebruik hierdie beeld vir die ekonomie:
“The game is divided into producers and consumers. All other potential roles you may want to play (for instance, parent, spouse, community member, friend) are not accepted in this game.”
Natuurlik kan ons soms die spel verlaat of ’n breek daarvan neem, maar ons samelewing werk so dat ons ’n disproporsionele deel van ons lewe waarskynlik aan ons ekonomiese rolle sal wy.
Watter dele van my lewe gee ek prys as gevolg van hierde speletjie? Watter dele van ander se menswees kyk ek mis as gevolg daarvan? Fioramonti en sy kollegas waarsku dat dit veral ons welstand is wat hieronder ly.
Saggeus se bekende storie het iets daarvan. Sy naam beteken “onskuldig” of “suiwer”, maar sy ekonomiese rol is “tollenaar”. Die storie loop so: Niemand hou van tollenaars nie. Hulle buit ander mense uit. Hulle moet reggesien word.
Dan kom sien Jesus vir Saggeus reg. Nie soos wat almal wil hê nie. Hulle grom daaroor:
Almal wat dit gesien het, het gemor en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis.”Lukas 19:7
Jesus sien hom eintlik regtig, verby net die speletjie. Sommiges interpreteer Saggeus se storie as ’n bekeringsverhaal. Ander sê weer sy onskuld (soos wat sy naam voorstel) word bewys. Wat my nou opval is dat dit nie die een of die ander hoef te wees nie. Of Saggeus nou bekeer is of goedgekeur is: Hy’s uitgedaag om anders te leef.
Our purity systems, even those established with the best of intentions, do not make us holy. They only create insiders and outsiders. - Nadia Bolz Weber
Jesus sien vir Saggeus die mens met ’n hele lewe raak. Hy noem hom op sy naam, gaan in sy huis in en eet saam met hom. Hy sien Saggeus binne én buite. In hierdie opsig is dit ’n storie van genesing. ’n Mite van genesing is dat ons net fisies gesond moet word. Deesdae is mental health darem ook deel van die gesprek, maar dis nie die een of die ander nie. Dis meer. Heelheid het te make met ons hele menswees. Wanneer enige deel van my lewe die res van my lewe oorskadu, dan raak heelwat verlore.
Dis genade om na hierdie verlore dele te soek. Ons daag op in ’n wêreld met allerhande paadjies, bane en loopbane wat vir ons wys waar om te gaan. Hou hiervan, soek hierna, kry hier rigting. Dan gaan ons eendag op ’n side quest soos Saggeus en ’n nuwe wêreld gaan oop. Saggeus ontdek dat hy nie méér nodig het nie, hy ís meer as wat dit op die oog af sou lyk. Dit laat hom toe om onverklaarbaar vrygewig te wees.
Die paadjies wat mense en diere in grasperke of sneeu uittrap ten spyte van voorafbeplande, plaveide paadjies word desire paths genoem. Begeerte klink so maklik soos alles wat sleg is, maar Saggeus volg sy hartsbegeerte soos ’n desire path. Weg van die skare, weg van sy een-dimensionele rol as tollenaar. Dit bring vir hom genesing. Wat is sy begeerte? Om te sien wie Jesus is. Waarheen volg hy dit? Tot binne-in ’n boom. En dan word hy gesien deur Jesus. Regtig gesien. Al wat hy is en ook die geheel van wie hy is. Geheel en al.
- Deon Meiring




