Geld en vertroue: Vrygewigheid
- 11 minutes ago
- 5 min read

Jy is eers werklik vry wanneer jy kan gee. Solank jy nie kan gee nie, is jy 'n gevangene, al besit jy alles. Ons lewe ken maar twee posisies: die toe vuis of die oop hand.
Ons kom die wêreld binne met 'n vuis wat reeds toe is — so gevorm, lank voor ons eerste asemteug, in die moederskoot self — en daarheen keer ons ons hele lewe lank telkens weer terug. Selfbeskerming is ons eerste taal.
Maar die skepping is met 'n ander grammatika geskryf: 'n ritme van ontvang én gee, in-asem en uit-asem, twee bewegings wat mekaar nodig het om lewe te wees.
Ons tragiek lê juis hier: ons probeer ons lewe beskerm deur vas te hou, maar die hand wat krampagtig vasklou, kan nie oopgaan om te ontvang wat die Here in liefde wil gee nie. Die greep wat ons veilig moet hou, is presies wat ons uitsluit van die oorvloed.
Die Bybel sien hierdie greep skerp raak. Daar is 2 850 verse oor geld, besittings en skuld — teenoor net 700 oor liefde, 500 oor gebed en 500 oor geloof. Selfs die Skrif self, in hoe dikwels dit hieroor praat, verklap hoe diep hierdie stryd in die menslike hart lê.
'n Klein gemeente in Masedonië help ons verstaan hoe ons vrygewig kan wees. Paulus skryf omstreeks 55-56 n.C. vanuit Masedonië — waarskynlik Filippi of Tessalonika. Hy samel geld in vir die arm gemeente in Jerusalem: die moedergemeente wat alles gedeel het, hongersnood deurgemaak het, uit die sinagoge gesit is, en nooit 'n ekonomiese mag was nie. Die Masedoniërs self was arm. Rome het hulle uitgemelk. En tog gee hulle "bo hul vermoë." Paulus vertel dit vir die Korintiërs — mense met veel meer — asof hy sê: as húlle kon, met so min, wat van julle? In daardie wêreld het gee altyd iets teruggebring: eer, status, kliënte. Paulus vermy daardie taal heeltemal.
Hy gebruik een woord, sewe keer: charis — genade.
Korinte self was nie 'n stil dorpie op 'n heuwel nie. Dit was 'n plek waar geld deurgevloei het soos water — geleë op 'n smal stuk land tussen twee hawens, sodat byna alle handel tussen Rome en die ooste daardeur moes gaan. Amper soos die Straat van Hormuz vandag. Julius Caesar het dit in 44 v.C. as Romeinse kolonie herbou, en teen die tyd wat Paulus skryf, was dit 'n stad vol mense met geld, en mense wat geld wóú hê.
Paulus vra hulle om iets te doen wat byna ongehoord was: gee sonder dat jy iets terugkry, sonder dat iemand eers weet jy't gegee. In daardie wêreld het jy gegee omdat jy 'n guns gesoek het, of jou status wou wys, of 'n verhouding wou bou wat later sou vrugte afwerp. So het die wêreld geloop — nie heeltemal anders as vandag nie, as ons eerlik is.
En hulle sukkel met dieselfde twee dinge waarmee ons almal sukkel.
Eerstens, skaarste. "Ek het min, dus hoe kan ek gee?" Wat ons het of nie het nie, bepaal wat vir ons moontlik voel. Maar die Masedoniërs — arm mense, regtig arm, Paulus maak nie 'n grap daarvan nie — gee "bo hul vermoë" (v. 3). Hulle armoede was waar. Dit het net nie die laaste sê gehad oor hoe vrygewig hulle kon wees nie.
Tweedens, verskuilde intensie. Selfs ons geestelike gee kan uit die verkeerde plek kom — sodat ek van 'n skuldgevoel ontslae raak, sodat ek vir myself kan bewys ek's 'n goeie mens. Nie uit liefde nie, maar kompetisie om aansien, net in 'n vroom gedaante. Dis presies wat Paulus in vers 8 wil ontbloot as hy vra na "die opregtheid van julle liefde" — hy wil die eg van die nageboots onderskei.
Hoe help Paulus hulle om vrygewig te wees?
Paulus neem ons hier na Jesus toe, as die voorbeeld van wat gee eintlik beteken. Hy skryf: "Alhoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word." Dis nie toevallig dieselfde woorde wat hy in Filippense 2 gebruik nie, waar hy vertel hoe Jesus Homself leeggemaak het.
Daar is iets in ons self wat nie kan gee nie. Die ego kan geen model vind vir selfontlediging nie, want die ego se hele projek is selfhandhawing — dit bou, dit vergroot, dit beskerm. En dis presies hierdie gedeelte wat leeggemaak moet word.
Paulus identifiseer vyf sodanige leegmakers, uiteengesit in verse 3 tot 15. Hieroor gaan ons Sondag gesels.
Die mooiste metafoor vir gee is nie uit 'n kluis of 'n kluisenaar se skuur nie. Dit is 'n rivier. Dit is die beweging van water wat weier om vas te sit. Onthou jy vir Midas? Daardie man wat gewens het dat alles wat hy aanraak in goud moet verander, net om later uit te vind hy kan nie eens 'n sny brood eet of 'n glasie wyn drink sonder dat dit metaal word nie. En toe, op die einde, die grootste hartseer: hy omhels sy eie dogter en sy verstyf in 'n goue standbeeld. Hy het gedink hy besit die wêreld, maar toe besit die goud vir hóm.
Sy genesing het nie gekom deur die goud te vervloek of weg te gooi nie, maar deur 'n heel eenvoudige ding: hy moes gaan bad in die Paktolos-rivier. Hy moes homself gaan was.
En dié legende vertel dat die goudstof van sy hande af gewas het en op die rivierbedding gaan lê het. Vir eeue daarna kon die hele gemeenskap daar langs die oewer gaan goud skep. Dit was nie meer net een man se private, eensame kluis nie; dit het 'n hulpbron vir almal geword. Water is in die Bybel is nooit bloot 'n ritueel van die vel nie. Dit is 'n sakramentele meganisme. 'n Onthulling dat die verstopping gebreek is, dat die stroom weer koers kry — binne die mens se eie struktuur, en in die brose ruimte tussen mens en mens.
Dink aan die weduwee se olie in 2 Konings 4. Solank die olie geskink is, het dit gestroom. Dit was die vloei wat die lewe gered het. Dink aan die manna in die woestyn — niks om in skure te bêre vir later se sekerheid nie. Net 'n daaglikse ritme van genade wat jou leer om weer, en weer, en weer te vertrou. Paulus herinner die Korintiërs aan die manna-verhaal: “Die een met baie het nie oorvloed gehad nie, en die een met min het niks gekort nie.”
Jesus gebruik dieselfde beeld wanneer Hy in Johannes 7:38 sê dat uit die binneste van die een wat glo, strome van lewende water sal vloei — nie damme wat opgaar nie, maar riviere wat vloei. Selfs die profeet Amos, wanneer hy vir geregtigheid pleit, kies nie die beeld van 'n eenmalige daad nie, maar van 'n rivier: "Laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom" (Amos 5:24).
Ons lewe nie om te gee nie; ons gee om te lewe.
- Theo Geyser




