Goudkoors: Sukses van 'n dwaas
- 4 hours ago
- 5 min read

Ek het Fleetwood Mac in my hoërskooljare ontdek en hulle het my betower. Ek onthou nog graad tien, hoe hard ons gesing het — so hard dat die juffrou kwaad uitgestap het. Een reël uit "Gold Dust Woman" het my altyd bygebly, lank voor ek verstaan het waarom: iets van 'n silwerlepel wat 'n graf grawe. Eers 'n dekade later het ek geleer die lied is gebore uit 'n jaar van chaos — 1977, vol egskeidings, verslawing, gebroke harte. Stevie Nicks het self gesê dit gaan oor roem se donker kant: hoe begeerte 'n prys eis, hoe goud nie net glinster nie, maar verteer.
Dit herinner my nou weer aan nog ‘n mite van Midas. Hy wens dat alles wat hy aanraak goud word — en kry sy wens. Dit gaan goed, totdat hy sy kos aanraak, en later sy eie dogter. Die mite begin met 'n man wat besit, en eindig met 'n man wat besit word — 'n omkering wat die Psalmis reeds ken: "hulle wat afgode maak, word soos hulle" (Ps. 115).

Jesus het dieselfde waarheid baie goed verstaan. In Lukas 12 weier Hy om 'n erfenisgeskil te beslis, en vertel eerder 'n gelykenis (v. 14) — Hy skuif die vraag van "wie kry hoeveel" na "watter gesindheid dryf hierdie vraag." Dan lê Hy dit oop: "Pas op vir alle gierigheid — 'n mens se lewe lê nie in oorvloed van besittings nie."
Die Griekse woord hiervoor is pleonexia — saamgestel uit "meer" en "hê." Dit beteken letterlik "om altyd meer te wil hê." Dis nie 'n eenmalige daad nie, maar 'n deurlopende lewenshouding. Die Griekse filosowe het geglo die teenoorgestelde daarvan is geregtigheid: waar geregtigheid vra "wat is elkeen se regmatige deel," vra pleonexia altyd "hoe kry ek meer as myne." Dis dus nie werklik 'n vraag oor hoeveelheid nie, maar oor jou houding teenoor wat genoeg is.
Dit is 'n kategoriefout: om iets in besittings te soek wat net in verhouding — met God, en met ander — gevind kan word. En as dit wél gevind word? Dan word jy self die god wat jy najaag.
Wat beteken dit regtig om op jou hoede te wees vir "te veel"? Pleonexia – die drang na altyd-meer – is 'n gedaante-verwisselaar. Soms wys dit homself in die oopte, soos die man wat sy broer oor die erfenis hof toe wil sleep. Maar sy mees subtiele vorm is "deugsame gierigheid". Dit dra 'n netjiese pak klere, maak uitstekende finansiële voorsorg en bedrieg niemand nie. Dit lyk soos verantwoordelikheid, maar eintlik is dit niks anders nie as eksistentiële angs. Dit is wat Ernst Becker ons "ontsterflikheidsprojek" noem: die krampagtige poging om ons eie lewe en herinnering te beveilig teen die dood.
Ons sien hierdie vermomming selde in ons eie lewens raak. Daarom gee Jesus vir ons 'n gelykenis om die spieël voor te hou. Hierdie Sondag kyk ons na die lesse wat in die grond en die skure opgesluit lê – en wat dit werklik beteken om ryk te wees in God.
Kyk na die fyn besonderhede in die teks. Vers 16 begin met die aarde self: "'n Ryk man se grond het goed gedra." Die man is nie die held van die oes nie; die grond is die onderwerp van die sin. Tog val hy in die strik van sy eie ego. In verse 17-19 tel ons ses eerstepersoon-verwysings: my koring, my skure, my siel. Dit is 'n krampagtige gesprekslyn wat by homself begin en by homself eindig. Geen gebed nie, geen gemeenskap nie, net hy en sy besittings. Wanneer 'n mens 'n onverdiende gawe as 'n eie prestasie begin hanteer, krimp jou wêreld in tot die grootte van jou eie skuur.
Hy word 'n moderne Koning Midas. Alles wat hy aanraak, verander in 'n dooie bate – selfs sy eie siel. Maar die lewe is nie 'n besitting wat jy in 'n kluis kan wegbêre nie; dit is 'n vloei. Die kernwoord in Lukas 12:21 (εἰς θεὸν πλουτῶν) beskryf immers nie 'n hoeveelheid wat jy opgaar nie, maar 'n rigting: "ryk na God toe". Werklike rykdom is nie 'n som van wat jy versamel het nie, maar die vryheid van 'n lewe wat voortdurend na God en ander uitstroom.
God se adres is nie die materiële skure wat ons buite onsself oprig om ons angs te besweer nie; Sy woning is binne-in ons. Ons verwar dikwels die buitekant se akkumulasie met innerlike vervulling. Die ware kuns is om op te hou bou aan die skure daar buite, en te begin luister na die ruimte daar binne.
Lees vir oomblik hierdie gedig van David Whyte:
I awoke
this morning
in the gold light
turning this way
and that
thinking for
a moment
it was one
day
like any other.
But
the veil had gone
from my
darkened heart
and
I thought
it must have been the quiet
candlelight
that filled my room,
it must have been
the first
easy rhythm
with which I breathed
myself to sleep,
it must have been
the prayer I said
speaking to the otherness
of the night.
And
I thought
this is the good day
you could
meet your love,
this is the black day
someone close
to you could die.
This is the day
you realise
how easily the thread
is broken
between this world
and the next
and I found myself
sitting up
in the quiet pathway
of light,
the tawny
close grained cedar
burning round
me like fire
and all the angels of this housely
heaven ascending
through the first
roof of light
the sun has made.
This is the bright home
in which I live,
this is where
I ask
my friends
to come,
this is where I want
to love all the things
it has taken me so long
to learn to love.
This is the temple
of my adult aloneness
and I belong
to that aloneness
as I belong to my life.
There is no house
like the house of belonging.
Mens kan amper sê die gedig is die presiese teenoorgestelde van die Midas-mite. Dit voel of die gedig die genesing bring nog vóór die vloek kan tref: hier is iemand wat nie nodig het om aan goud te vat nie, want hy leef reeds in 'n baie ryker "goud" — die genadelig van die oggend wat niemand kan besit nie. Midas se goud is die produk van beheerdrang. Dit versteen alles wat dit aanraak: kos, wyn, sy eie kind. Whyte se spreker word egter bloot wakker in 'n goue lig wat hy nie geskep of verdien het nie. Dit is daar voordat hy enige prestasie lewer. Waar die dwaas se eensaamheid ("my koring, my skure, my siel") 'n krampagtige kluis is waarin hy homself opsluit, word Whyte se "tempel van volwasse alleenheid" 'n plek waar hy vriende ontvang. Midas se huis word 'n goue kluis; die dwaas se huis 'n graf van skure; maar Whyte se huis word die enigste plek wat werklik bewoon kan word.
Dit is die woning wat Jesus aan my en jou belowe het.
"Jesus antwoord en sê vir hom: ‘As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.’" Joh 14:23 - Theo Geyser




