Om te dobbel met ‘n doek aan ...
- 6 minutes ago
- 9 min read

What is enough?
Enough. These few words are enough.
If not these words, this breath.
If not this breath, this sitting here.
This opening to life
we have refused
again and again
until now.
Until now.
David Whyte
Daar is min plekke wat my so hartseer maak soos ‘n casino. Nie omdat ek die mense oordeel of neerkyk op hulle nie; dalk eerder omdat ek myself herken, omdat dit eintlik ‘n fisiese uitbeelding is van hoe dit in die wêreld is. Die ligte bly aan – niemand daarbinne moet herinner word aan die natuur se ritmes en aan lig en donker nie. Sommige mense dobbel met ‘n nappy aan. Nie omdat hulle siek is of nie toilet toe kan gaan nie; omdat hulle nie wíl gaan nie. Hulle is te bang hulle mis hulle volgende kans. Selfs die paar minute wat dit neem om badkamer toe te gaan, is te veel van ‘n risiko. Hulle kan nie die kamer verlaat nie. Miskien het jy nog nooit gedobbel nie en is dit vir jou verregaande. Maar is dit? Jy is so vasgevang deur die moontlikheid van “meer” en “nog” dat jy jou eie menslikheid – en menswaardigheid – prysgee.
Ons almal se doeke en dummies lyk anders – dit wat ons gebruik om ons menslikheid, ons afhanklikheid en behoeftes weg te steek, te onderdruk en stil te maak én dit wat ons gebruik om ons te angs en gewetes te sus. Die doek is eintlik net ‘n metafoor vir “Ek kan nie wegstap nie. Ek kan nie rus nie. Ek kan nie oorgee nie. Ek moet 24/7 op my hoede en waaksaam wees, anders stort die wêreld in.”
Dit gaan eintlik oor veel meer as geld; dit het alles te make met vertroue. Dis nie ‘n ekonomiese dilemma nie, dis ‘n geestelike een. Want al sê Prediker, “Hy wat geld liefhet, kry nooit genoeg geld nie” kan ons “geld” vervang met enigiets anders. By die AA sê hulle, “One drink is too many and a thousand is never enough.”
“Nothing is enough for the man to whom enough is too little.”
Epicurus
It's a mystery to me
We have a greed with which we have agreed
You think you have to want more than you need
Until you have it all you won't be free
Society, you're a crazy breed …
Eddie Vedder
Ons stry in ons gebeendere hiermee van kleindaggie af. “Myne. Myne. Myne.”
“Hê, mamma, hê! Hê hê hê!” Meer. Nog. Want, as less werklik more is, hoe hou ons dan score? En die score is deel van ons core. Dis die game wat ons hele samelewing speel. Soos Monopoly. Hoe lekker is daai pers straat?! Nes Monopoly. Behalwe dat ons nie die papiergeld en die bord en die mannetjies kan terugpak as ons klaargespeel het nie. Nou’s dit real. Nou lê ons wakker. En dis nie vreemd nie. Ek hoef amper nie eens skuldig te voel nie. Hoekom lê ek dan wakker? Ek het mos ARMED RESPONSE aan my kant.
We have a greed with which we have agreed.
Ek het vir baie lank myself gekasty oor my quest na meer-meer-meer. Tot ek besef het, die soeke is nie die probleem nie. My ware versugting is na heelheid, voltooidheid, diepte, waarheid (as jy wil). Dis ‘n edel soeke, een wat diep in ons elkeen geplaas is. Dis die maniere waarop ek soek en die goed wat die media op die rekenaar, die TV, die borde langs die pad asook die media in my kop, opdis wat my soeke in onversadigbare rigtings instuur. “Net nog daai boek, net nog daai gadget, net nog daai paar skoene, dan sal jy heel wees. Dan is die prentjie voltooi.” Die Eagles sing daarvan in Hotel California. Eddie Vedder in Society. Die lys gaan aan …
… greed and gold
forever the loneliest road … (Seth Lakeman)
Iemand het een maal gesê hebsug is ‘n vet demoon met ‘n klein mondjie. Wat jy hom ookal voer, gaan nooit genoeg wees nie. En as ons begin dink die demoontjie is net op ‘n geld-en-goed-dieet, het hy ons presies waar hy ons wil hê. Hy is ‘n totale omnivoor. Soos ‘n banter wat ‘n bietjie bant (bant mense nog?) en bietjie roomys eet. Bietjie vir bietjie word hy baie dik. Hy floreer ook op kennis, mag, moralisme, komplimente, enigiets wat nie versadigingspunt kan bereik nie. Enigiets wat jou verGENOEGdheid steel. Enigiets wat jou uiteindelik jou hart laat opgaar. Die Bybel sê, “Guard your heart”. Mammon sê, “Hoard your heart.”
In hierdie hoofstuk in Lukas waarin Jesus waarsku, “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid” sê Hy ook, “Moenie julle bekommer (kwel) nie …” en die Griekse woord vir “bekommer” beteken letterlik om in verskillende rigtings uitmekaar getrek te word of om in stukke geskeur te wees. Soos die arme dobbeldrommel wat nie kan knyp nie én nie kan laat gaan nie. Wat nooit werklik hier is nie, altyd in die volgende hand leef. Die volgende belegging. Die volgende salaris. Die volgende bonus. Die volgende geleentheid. En tog gaan hierdie skrifgedeelte oor meer as bekommernis; dit gaan oor vertroue. Wat seker maar die teenoorgestelde, of die kuur, vir bekommernis ís. En vertroue lei altyd na rus. Die hoofstuk begin met die man wat sê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis te deel.” Hy dink sy probleem is geld. Jesus antwoord, “Wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid.” Die woord beteken letterlik “die begeerte om altyd meer te hê.”
En dan vertaal Eugene Peterson dit op sy wonderlike manier in die Message:
“What I’m trying to do here is get you to relax, not be so preoccupied with getting so you can respond to God’s giving. People who don’t know God and the way he works fuss over these things, but you know both God and how he works. Steep yourself in God-reality, God-initiative, God-provisions. You’ll find all your everyday human concerns will be met. Don’t be afraid of missing out. You’re my dearest friends! The Father wants to give you the very kingdom itself.”
God se realiteit.
God se inisiatief.
God se voorsiening.
Hoe lyk God se realiteit?
Wat is werklik? Mammon sê: Jou bankrekening. Jesus sê: Jou Vader. Dis twee verskillende realiteite. En nou het ek maar net die geldvoorbeeld ingespan. Daar is so baie stemme wat vir ons probeer sê wat vlietend is, is werklik. Maar soos A course in miracles mense leer: “Nothing real can be threatened. Nothing unreal exists. Herein lies the peace of God.” Ek het nodig om daagliks myself daaraan te her-inner en ek ken nie ‘n beter manier as om in stilte te gaan sit nie. Om alles wat ek dink en voel te sien kom en gaan, om die ritme van gee en neem wat my asem aangee te ervaar, om al my illusies in die gesig te staar en te weet EK. IS. NIE. DIT. NIE.
Henri Nouwen se advies, of eerder, hunkering: "Oh, if we could sit for just one half hour a day doing nothing except taking a simple word or phrase from the Bible and holding it in our heart and mind. “The LORD is my shepherd; I shall not want” (Ps. 23:1, NRSV). Say it three times. We know it’s not true, because we want many things. That is exactly why we’re so nervous. But if we keep saying the truth, the real truth—“The LORD is my shepherd; I shall not want”—and let that truth descend from our minds into our hearts, gradually those words will be written on the walls of our inner holy place. That becomes the space in which we can receive our colleagues and our work, our family and our friends, and the people we will meet during the day."
En terwyl hy ons nou aan Psalm 23 herinner het. My woord vir God se realiteit is: IS…
“What is, is plenty, but more is never enough.”
Marty Rubin
Hoe lyk God se inisiatief? Wel, om mee te begin: dis God s’n. God is die skepper. God roep ons altyd eerste. God het ons in wording gespreek en die beste wat ons kan doen is antwoord. Dis ons enigste ver-antwoord-elikheid. Ons kan net reageer op Sy roepstem. Wat dit verder beteken: wat ons het, kom van God. Is God s’n. Wie ons is, kom uit God. Is God s’n. Mammon sê: Jy moet eerste beweeg. God sê: Ek het reeds beweeg. Kyk na die voëls. Kyk na die lelies. Kyk na Christus. Die woord inisiatief beteken “om in te gaan” en dan dink ons aan Jesus wat ons menslikheid betree het, sy intrek in ‘n vel geneem het. God wat besluit het Hy bly nie op ‘n afstand nie – Hy kom dra ‘n doek, kom kry koud en warm, kom raak honger, kom slaap nodig kry, kom as mens genade betoon aan mense. Genade begin altyd by God. Nie by jou nie.
En hoe herinner ons onsself daaraan? Deur te gee. Jou goed, jou geld, jou tyd, jou self. Deur aandag te skenk. Veral vir mense van wie jy niks kan terugverwag nie. Jy rol ‘n klip uit iemand se pad wat dalk nooit ‘n klip uit joune sal kan rol nie. Dis wat die diepte van die tiende is. Dis meer as ‘n Ou-Testamentiese wet, of ‘n preek oor geld, dis ‘n oefening in onthou en ont-hou: Wat ek het, is God s’n. My lewe is ‘n antwoord op Sy inisiatief.
Peterson noem dit, “’n Bank waarop jy kan bank!”
“Be generous. Give to the poor. Get yourselves a bank that can’t go bankrupt, a bank in heaven far from bankrobbers, safe from embezzlers, a bank you can bank on. It’s obvious, isn’t it? The place where your treasure is, is the place you will most want to be, and end up being.” MSG
Die meeste Enneagram-leermeesters tref dan ook ‘n interessante onderskeid as hulle sê dat vrygewigheid nie die virtue is wat aan die ander kant van die munt (pun intended) van hebsug lê nie, maar onverknogtheid. Of non-attachment. Die vraag is nie eintlik hoeveel ek gee nie, maar hoeveel ek terughou. Dis duidelik uit ‘n klomp van Jesus se gelykenisse. Is my hart oop en vry en vol ruimte vir watookal Lewe vandag inhou, of is dit benoud en beknop en uit asem uit?
“We ask how much a man gives; Christ asks how much he keeps.”
Andrew Murray
Wat hou jou terug?
Wat hou jy terug?
Henri Nouwen se gebed omdat hy weet hoe moeilik dit is:
Here,
ek is so bang om my geklemde, gebalde, geswete vuiste oop te maak!
Wie sal ek wees as ek niks meer het om aan vas te klou nie?
Wie sal ek wees as ek voor U staan met leë hande?
Help my om stadig maar seker my hande oop te maak
en te ontdek dat ek nie is wat ek het,
wat ek doen
of wat ander mense van my sê nie,
maar wat U vir my wil gee.
My woorde vir God se inisiatief (op grond van Psalm 23) is eenvoudig: die Here …
Hoe lyk God se voorsiening? In Luk. 12:30 lees ons, “want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Maar soek die koninkryk van God en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”Die Griekse woord beteken “hulle jaag voortdurend daarna”. Jesus sê, “Julle Vader weet reeds. Meer letterlik: Hy síén reeds. In Genesis 16 noem Hagar God El-Roï – "die God wat my sien." In Lukas 12 herhaal Jesus oor en oor: “Julle Vader weet.” Mammon sê: “As jy nie self voortdurend waak nie, sal niemand na jou omsien nie.” Jesus sê: “Nog voordat jy vra, nog voordat jy jaag, nog voordat jy bereken, sien jou Vader reeds.”
En hoe word ons hieraan her-inner? Deur die eenvoudige ritme van ‘n week (ons lewensdae) wat God ingestel het. Ek ken geen ander manier nie! Die sabbat. Die rusdag. Nie bloot 'n afdaggie nie; die weeklikse oefening om te glo dat die wêreld nie deur my waaksaamheid aanmekaar gehou word nie, maar deur die God wat reeds sien, reeds weet en reeds voor-sien. Ek vermoed dit is die diepste betekenis van God se realiteit, God se inisiatief en God se voorsiening: om in 'n wêreld te leef waarin God altyd eerste aan die werk is, sodat ons uiteindelik die vrymoedigheid het om op te staan van Mammon se tafel, van Black Jack se tafel, van my eie werkstafel en om aan God se tafel te gaan sit.
Miskien wonder jy hoe mens kan weet dat jy God nie vertrou nie of dat jy by iemand anders se tafel sit? Nie wanneer jy baie geld het nie (ontspan!)
Wanneer jy nie meer kan wegstap nie.
Nie van jou werk nie. Nie van jou foon nie. Nie van jou portefeulje nie. Nie van jou e-pos nie. Nie van die markte nie. Nie van jou angs nie. Nie van die casino nie.
Dan dra ons almal, op een of ander manier, 'n volwasse doek. Want ons glo dat as ons net vir vyf minute opstaan, die wêreld uitmekaar gaan val.
Die Sabbat is nie net rus nie; dis vertroue in praktyk. Walter Brueggemann skryf dat Sabbat die daad is waarmee Israel verklaar: "Farao is nie meer my voorsiener nie."
Dis geweldig. Want Egipte het gesê: Meer. Nog. Produseer. Bakstene. Meer bakstene.
Nog bakstene. Jy’s ‘n slaaf! God sê: Genoeg. Hou op. Vir een dag. Niks sal ineen stort nie. Kyk hoe draai die wêreld sonder jou. Wees vry! Kyk gou. Sien jy? Is dit ongelooflik bevrydend nie? Jy’t nie ‘n doek nodig nie. Jy kan gaan piepie. Jy hoef nie meer te knyp nie. Jy kan laat gaan. Jy kan bietjie bene rek en opstaan. Of as jy heel week gehardloop het op die hamsterwieletjie en jou bene is lam, kom lê bietjie. Draai gou jou rug op “meer” en kyk hoe lyk “genoeg”. Dit sal jou nie lamlê nie, dit sal jou vrymaak!
"Keep your lives free from the love of money and be content with what you have, because God has said, “Never will I leave you; never will I forsake you.”
Heb. 13:5
My woorde vir God se voorsiening (op grond van Psalm 23): my Herder…
En so vorm die woorde ‘n vraag waarmee ek die oorvloedigheid van my lewe kan “meet”.
Is die Here my herder?
En hoe weet ek?
Want ek kom niks kort nie. Niks sal my ontbreek nie.
Die Here se IS, word my SAL.
Dan kan ek saam met 1 Tim. 6:6 vry bely:
Die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. - Frieda van den Heever




