Die ewigheid in jou hart en die tyd op jou hande
- Jul 16
- 10 min read

Werkwoord
Van ek kon dink
het U my laat springmat
tussen die hemel
en die harde grond,
en dit was ekstase,
die wip en die bons albei,
want ek lewe dan eers voluit
wanneer U woel met my.
Sheila Cussons
Een van die skrifgedeeltes waaroor ek die meeste peins, begin met ‘n baie normale, praktiese vraag wat ons almal seker by tye vra: “Watter voordeel het die een wat werk, van dit waarmee hy hom afsloof?” En dan gaan die Prediker voort met die uitleg van die hele dilemma van menswees. God het die ewigheid in die mens se hart geplaas, sonder dat die mens enigsins die werk wat God van begin tot einde doen, kan peil.
Wat antwoord jy as iemand vra, "Vertel my van jouself?" Op die vliegtuig, om ‘n tafel langs ‘n vreemdeling by ‘n funksie, langs die sportveld terwyl jy fokus daarop om net iemand se ouer te wees. Meeste mense begin by wat hulle doen. "Ek is 'n dokter." Selfs as hulle afgetree is, "Ek was 'n rekenmeester." Min sal die vraag antwoord met, "Ek is Marta se man" of "Ek is Ben en Lara se pa."
Ons hoor by die kerk en by die gurus: Jy is nie wat jy doen nie – human doing vs human being (holruggery, en waar), maar of eerder en: ons weet ook wat ek doen, het 'n baie groot impak op wie ek is – wat ek maak, maak (of breek) my. Ek weet die vraag, “Wat gaan van my word?” is ‘n kleingelowige, aardse een. “Wie gaan ek word?” is die groot, ewige een. Maar hoekom vergeet ek dit so gou, veral by die werk? Ek weet dat baie van ons tans worstel met werk – die lading, die verhoudings, die spertye, die angs, die aanval op ons waarde en waardes in die kantoor, die uitputting, die inbraak wat dit maak op ons “regte lewe”. Ek wil dit op geen manier te eenvoudig en sonder nuanse “vergeestelik” nie. My enigste hoop is dat hierdie skrywe jou sal bemoedig en laat leef met groter vrae as dié wat jou werk nie kan beantwoord nie. Ek weet ook jou struggle voel diep persoonlik en dit kan jou uiters eensaam laat voel. Weet dis ‘n oeroue een waarmee mense deur al die eeue nog worstel.
He has made everything beautiful and appropriate in its time. He has also planted eternity [a sense of divine purpose] in the human heart [a mysterious longing which nothing under the sun can satisfy, except God]—yet man cannot find out (comprehend, grasp) what God has done (His overall plan) from the beginning to the end.
I know that there is nothing better for them than to rejoice and to do good as long as they live; and also that every man should eat and drink and see and enjoy the good of all his labor—it is the gift of God. I know that whatever God does, it endures forever; nothing can be added to it nor can anything be taken from it, for God does it so that men will fear and worship Him [with awe-filled reverence, knowing that He is God].
Eccl. 3:9-14
Die ewigheid (in die mens se hart) en die tyd (op sy hande) … tussen die hemel en die harde grond, die wip en die bons, die dilemma waarin alle potensiaal opgesluit lê.
Dit is wat aan die lewe betekenis gee en ook die mens laat voel daar’s meer.
Dis waaruit alle verrukking en verknogtheid (verslawings) spruit.
'n Reisiger besoek 'n groot onklaar katedraal, nog in die boufase.
Hy vra drie klipkappers dieselfde vraag.
“Wat doen jy?”
Die eerste antwoord: “Ek kap klippe.”
Die tweede: “Ek verdien my brood.”
Die derde kyk op, glimlag en sê: “Ek bou 'n katedraal.”
Al drie doen presies dieselfde werk, maar net een sien die groter storie.
Dis eintlik Prediker 3:
God plaas olam – die groter geheel – in ons harte, selfs wanneer ons hande net vandag se klip kap. Prediker vra nie in die eerste plek: “Hoe hard werk jy?” nie. Hy vra: “Watter storie dink jy is jou werk besig om te vertel?”
Is jy net besig om klippe te kap?
Is jy net besig om 'n salaris te verdien?
Of leef jy vanuit die ewigheid wat God reeds in jou hart geplaas het?"
Die spanning wat Prediker aanspreek (maar nooit heeltemal sal vasvang nie) is dat die mens leef binne chronologiese tyd, maar 'n verlange dra na ewigheid. Dit is juis hierdie spanning wat werk óf 'n vloek óf 'n roeping maak. Werk word meestal óf verafgod óf verafsku. Vir party mense is werk identiteit. Vir ander is dit bloot oorlewing. Vir ander is dit 'n wagperiode, of selfs detensie, tot die naweek aanbreek. Die gevaar met die woord “ewigheid” is dat ons nog steeds in kalenderterme daaraan dink. “Kom, kom, ek kan nie vir ewig hier wag nie.” “Ek al vir jou ewig en altyd liefhê.” “Dit gaan ‘n ewigheid vat om hierdie artikel te skryf.” Die woord is eintlik olam en beteken die onbegryplike duur, die oneindige, dit wat buite ons horison lê, die wêreld van God, die verborgenheid van die geheel. Dis eintlik ‘n term vir die grootheid wat buite my begrip bestaan. God het iets in die mens geplant wat nooit tevrede sal wees met nét vandag nie. Ons verlang altyd na meer, groter, dieper, meer omvattend en volledig.
Dis waar werk gevaarlik raak. Ons probeer daardie verlange na diepte anderkant ons begrip stilmaak met nog sukses, nog projekte, nog inkomste, nog erkenning.
Maar werk kan nooit die ewigheid vul nie, want werk behoort aan tyd. Terwyl ons hart na iets groter verlang. “Maar die mens kan dit nie uitvind nie …” Dit beteken nie ons moet ophou droom en dink en uitvind nie. Dit beteken net ons kan nooit die geheel sien nie omdat ons binne tyd leef.
Prediker vra egter 'n dieper vraag: “Wat kry die werker vir al sy moeite?”
Dis nie 'n ekonomiese vraag nie; dis 'n eksistensiële vraag.
Waarvoor werk ons eintlik? Want die Hebreeuse woord vir “moeite” beteken swoeg, inspanning, uitputtende arbeid wat jou kan opvreet en Prediker gebruik hierdie woord meer as dertig keer. Werk is dus nie die probleem nie; werk wat jou leegmaak, is.
En dan kom die verrassend eenvoudige stuk wysheid:
‘Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk; dit is wat hom toekom. Wie kan hom laat sien wat ná hom sal gebeur?’
Wees bly. Geniet die lewe. Eet. Drink. Geniet jou werk. Die Hebreeuse woord beteken letterlik, “Sien die goeie.” Nie: beheer alles en maak alles goed nie. Leer om die goeie raak te sien. Werk word hier nie gelyk gestel aan betaling, prestasie of sukses nie. Prediker beskryf dit as ‘n gawe van God. Ek vind nie my waarde in werk (my hande) nie; ek vind dit in my hart. Ek kan heelhartig en voluit werk omdat ek reeds my waarde en identiteit in God gevind het.
Kahlil Gibran skryf hierdie aangrypende woorde in Die Profeet:
Julle werk sodat julle kan tred hou met die aarde en die siel van die aarde. Want om ledig te wees is om ‘n vreemdeling vir die jaargetye te word en om uit te tree uit die optog van die lewe wat majestueus en met trotse gehoorsaamheid na die oneindige voortmarsjeer.
Wanneer jy werk is jy ‘n fluit deur wie se hart die fluistering van die ure in musiek verander. Wie van julle sou ‘n riet wou wees, stom en stil, terwyl al die ander in harmonie saamsing?
Dit is altyd aan julle gesê dat werk ‘n vloek en arbeid ‘n ramp is. Maar ek sê vir julle dat wanneer julle werk, julle een van die aarde se grootste drome verwesenlik wat aan julle toegewys was toe daardie droom gebore is. En deur te arbei bewys julle werklik dat julle die lewe liefhet, en om die lewe deur arbeid lief te hê, is om intiem kennis te dra van die lewe se diepste geheim.
Ons is gemaak om so te bons. God woel so met ons en ek sal aanhou worstel tot dagbreek. Tot my heup uit sy potjie is. Tot Hy my seën. Ek kan nie die ewigheid uit my hart ruk nie – Hy het my so gemaak. Ek kan ook nie die horlosie van my pols af ruk nie – Hy het my so laat staan. Die ewigheid klop binne-in die ritme van my hart (wat in tyd gemeet word) en wat eendag sal gaan staan. “May it be infinite while it lasts.”
Die Benediktynse orde het die wêreld geseën met ‘n baie eenvoudige ritme van lewe: Ora et labora. Bid en werk. Bid en werk.
Dit leef in antwoord op die vrae wat ons dikwels vra: Is "bid" die regte werk van Christene? Moet ons soveel as moontlik van ons tyd daaraan spandeer terwyl ons "daaglikse take" eintlik die sleurwerk is – iets wat ons ongelukkig net moet doen om te oorleef sonder dat God werklik daarin belangstel? Of kan die teenoorgestelde waar wees? Is "bid" die weg om krag en wysheid te ontvang vir ons daaglikse lewe en take? Is daar 'n gevaar om so betrokke te wees by hemelse sake dat ons nie meer 'n doel hier op aarde het nie?
"Werk dag en nag" (2 Tess. 3:8)
"Bid sonder ophou" (1 Tess. 5:17)
Rêrig? Hoe?
Hierdie spanning tussen bid en werk, tussen geloof en lewe, kom dikwels na vore. En tog: God roep nie mense uit die wêreld uit nie, maar in die wêreld in.
"Trust in the Lord and keep at your toil.”
Iemand het gesê: “Geen transformasie sonder skoon skottelgoed nie”.
Jy is nie opgewasse as jy nie kan opwas nie.
"To pray without working is to lift up one's heart without lifting up one's hands; to work without praying is to lift up one's hands without lifting up one's heart, therefore it is necessacry both to pray and work.”
St Isidore of Seville
"While our hands are occupied in work, we can praise God with psalms and hymns and spiritual songs, with the tongue if it is possible, but if not, then in the heart. In this way we thank Him who has given both strength of hand to work and wisdom of brain to know how to work, and also bestowed means by which to work both in the tools we use and the arts we practice, whatever the work may be. We pray moreover that the works of our hands may be directed towards the mark of pleasuring God."
St Basil
Weer Die Profeet:
Aan julle is ook vertel dat die lewe ‘n duisternis is en in julle vermoeidheid herhaal julle die woorde van die vermoeides.
En ek sê dat die lewe inderdaad duisternis is tensy daar ‘n drang is.
En alle drange is blind tensy daar kennis is.
En alle kennis is nutteloos tensy daar werk is.
En alle werk is betekenisloos tensy daar liefde is.
En wanneer julle met liefde werk, bind julle julleself aan julself, en aan elkander, en aan God.
En wat beteken dit om met liefde te arbei?
Dit is om ‘n kleed te weef met drade wat uit die hart getrek is net asof jou beminde daardie kleed sal dra. Dit is om ‘n huis met toegeneëntheid te bou, net asof jou beminde in daardie huis sal woon. Dit is om die saad met teerheid te saai en die oes met blydskap te maai, net asof jou beminde die vrug sal eet. Dit is om die asem van jou siel te blaas in alle dinge wat jy vervaardig. En om te weet dat die geseënde afgestorwenes rondom jou staan en toekyk.
‘n Ander “profeet”, David Whyte bewoord dit so:
The soul of an individual is the longing inside each person for a greater sense of belonging, for a new country. We go through most workdays forgetting that this grand migratory force exists within us. We may feel a small satisfaction in a step taken, while the soul feels as if it is anchored off the promised land, with just a short row to bring it home. At the level of our souls, no matter the difficulty in our work, or the responsibilities, or the possibility of failure, entire new worlds are coming into being.
In order to continually re-imagine ourselves through our work lives, we must have a part of us that belongs to something beyond the status quo. Something over the horizon or, paradoxically, beneath us, in the ground of our life. Something as yet hidden, yet to be brought to light. Something which is governed by other laws than the ones we so assiduously obey every day. Something to do with the laws that govern the way we belong to this stubborn and beautiful world.
To have a firm persuasion in our work – to feel that what we do is right for ourselves and good for the world at exactly the same time – is one of the great triumphs of human existence... To have a firm persuasion, to set out boldly in our work, is to make a pilgrimage of our labours, to understand that the consummation of work lies not only in what we have done, but who we have become while accomplishing the task... Work, at its best, is one of the great human gateways to the eternal and the timeless.
Werk is die plek waar die self die wêreld ontmoet. Dis die binnekant wat omgedop word en sigbaar word. Wat jy vorm, vorm jou. Liefde spruit uit liefhê. Ironies genoeg is dit waarvoor ek omgee, dit waaroor ek omgee. Die lewe is ‘n oefening in mede-skepping. En dit verg werk. Werk is jou antwoord op jou roeping. Jou ver-antwoord-elikheid. Selfs in ‘n ideale wêreld (voor die sondeval) het God van ons verwag om deel te neem in die medeskepping van die wêreld. Dis nie ‘n straf of ‘n boetedoening nie; dis ‘n voorreg.
“Vocation (calling) is responsibility and responsibility is the total response of the whole man or woman to the whole of reality.”
Dietrich Bonhoeffer
Werk is liefde sigbaar gemaak.
Want as jy brood onverskillig bak, bak jy ‘n bitter brood wat net die helfte van ‘n mens se honger stil. En as jy met teensin die druiwe pars, dan stook jou teësin ‘n gif in die wyn. En al sou jy soos die engele sing, maar sang nie liefhê nie, dan sou jy mense se ore sluit vir die stemme van die dag en die stemme van die nag.
David Whyte vra die vraag: “Who am I practicing becoming at work?”
Dis Prediker se taal. En Gibran s’n. Werk is nie bloot produksie nie. Werk is liefde wat vorm kry. Werk, sonder hart, put jou uit. Werk met liefde word deelname aan God se skeppende werk. Ons grootste versoeking is om werk die draer van ewigheid te maak. Prediker sê: Jou hande dra nie die ewigheid nie; jou hart dra dit.
Werk is net die plek waar daardie ewigheid sigbaar word. Dit is dalk die diepste wysheid van Prediker: Jy hoef nie jou werk te gebruik om die oneindige te bereik nie. Jy mag jou beperkte dae met oop hande ontvang, jou arbeid met liefde verrig, en die vrug daarvan geniet as 'n gawe. Die ewigheid waarna jy hunker, is nie iets wat jy deur harder werk verdien nie; dit is reeds deur God as 'n verlange in jou hart geplant. Daarom kan jy werk sonder om daardeur verslaaf te word, en rus sonder skuldgevoel, want jou lewe word uiteindelik nie deur jou prestasies gedra nie, maar deur God se werk wat “vir ewig sal bestaan.”
- Frieda van den Heever




