top of page

Wysheid oor: Donkie-ore

  • 11 minutes ago
  • 4 min read

Vandag praat ons oor ore — en oor die merkwaardige gawe wat God ons geskenk het: die vermoë om waarlik te kan luister.


In my eerste akademiese jaar het ek Grieks geneem onder leiding van prof. Jacques Pauw. Sy passie vir die vak het my so begeester dat ek uiteindelik vier jaar van my lewe aan hierdie antieke taal gewy het. Grieks is gewis geen maklike vak nie; dit kan dikwels taai en veeleisend raak. Maar prof. Pauw het die kuns verstaan om 'n klaskamer meesleurend te hou. Hy kon die energie in die kamer fyn aanvoel, en sodra die aandag begin dwaal het, het hy ons getrakteer op verhale uit die Griekse mitologie.


Een spesifieke verhaal het my altyd bygebly. Dit gaan oor die kuns van luister.

Pan, die herdersgod, was buitengewoon trots op sy rietfluit. Op 'n dag daag hy selfs vir Apollo — die god van musiek — uit tot 'n tweegeveg. Tmolus, die god van die berg, is as skeidsregter aangewys. Pan speel eerste: 'n meesleurende, dog growwe en aardse klank. Daarna neem Apollo sy lier op. Sy musiek is so verfyn, so louter en suiwer, dat Tmolus sonder skroom velt: Apollo is die wenner.


Almal stem saam. Almal behalwe Koning Midas. Hy was toevallig 'n toeskouer en hou koppig vol dat Pan s’n mooier was. Apollo, diep geïrriteerd oor hierdie gebrek aan insig, verloor sy geduld. So 'n onbeskaafde oor, beslis hy, verdien 'n sigbare merk van sy lompheid. Hy verander Midas se ore daar en dan in die ore van 'n donkie — 'n permanente, openbare getuienis van 'n man wat nie kon hoor wat werklik edel is nie, en daarom ook nie kon oordeel nie.


 

Koning Midas: Andrea Vaccaro (1604-1670)


Die vernederde Midas probeer sy skande onder 'n groot mus verberg. Slegs een mens ken sy geheim: sy haarkapper. Maar so 'n gewigtige geheim is 'n swaar las om alleen te dra. Uiteindelik kon die arme man dit nie meer uithou nie. Hy gaan na 'n stil plek, grawe 'n gat in die grond, buk af en fluister sy geheim vir die dieptes van die aarde.


Maar op daardie plek groei riete op. En elke keer as die wind daardeur waai, fluister hulle dit vir ewig verder: "Midas het donkie-ore."


Jesus sou tien teen een die storie geken het. Hy het immers self gestaan — daar, voor die god Pan se tempel, by Cesarea Filippi, met sy rug amper teen daardie groot rotswand vol afgode en holtes en die donker afgrond van 'n heidense onderwêreld — toe Hy die woorde uitgespreek het wat deur die eeue sou weerklink: "Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie" (Matt. 16:18). Die "poorte" verwys waarskynlik na die skeur in die rots waar Pan glo self gebly het. 'n Mens wonder: hoe sou mense wat die mitologie geken het, Jesus se woorde dalk kon verstaan het? Hier staan Hy by die plek van 'n god wat bekend was vir chaos en geraas — 'n god wat verantwoordelik is dat mense met donkie-ore kan leef. En Jesus verklaar: hierdie mag het geen houvas op my volgelinge nie.


Op 'n ander dag, in 'n ander stemming, vertel Jesus toe 'n gelykenis wat, by nadere ondersoek, ook net oor een ding gaan: luister. Die Gelykenis van die Saaier (Luk. 8). Ons moet onthou dat die opskrifte bo Bybelgedeeltes nie deel van die oorspronklike Bybel was nie. Die eerste Griekse manuskripte het geen hoofopskrifte, hoofstukke of versnommers gehad nie. Dit is eeue later deur vertalers en redakteurs bygevoeg om die teks makliker leesbaar te maak. Daarom is "Die Gelykenis van die Saaier" nie Jesus se titel nie, maar dié van die vertalers. As ek die opskrif moes kies, sou ek dit eerder "Die Gelykenis van die Donkie-ore" genoem het, want Jesus se klem val telkens op die vraag: "Wie ore het om te hoor, laat hom hoor." Jesus verduidelik hierdie gelykenis in detail asof Hy wil sê: dit is te belangrik om verkeerd verstaan te word. Hy wil hulle laat sien hoe gevaarlik dit is om met donkie-ore deur die lewe te gaan — nie omdat verveling die vyand is nie, maar omdat godsdiens self ons kan betower, ons kan vermaak, ons ore kan streel, sonder dat daar ooit, ooit vrug in die donker aarde van ons lewe kom.


Daarom die woorde wat soos 'n mes deur die stilte sny: "Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal ook weggeneem word wat hy meen hy het" (Luk. 8:18).


Let op die klein woordjie waarin die hele verskil skuil: nie wát julle hoor nie — hóé julle hoor. Dit is die afgrond tussen Midas en die goeie grond. Altwee het dieselfde musiek gehoor. Albei kon hoor, maar net een kon onderskei of waarlik luister. 


Ek wil Sondag gesels oor hoe ons moet luister. Die gelykenis van die saaier is nie 'n gelykenis van vier soorte mense nie — dit is 'n gelykenis van vier toestande wat binne een mens gelyktydig teenwoordig kan wees. Die werk dalk meer soos seisoene, die een gee geboorte aan die ander. 


- Theo Geyser


 

bottom of page