Verbeel jou jy is ryk
- 8 hours ago
- 4 min read

’n Handvol gras en gedroogde blare
Maak my, wat arm was, koning-ryk.
C. Louis Leipoldt
Die res van hierdie gedig gaan baie aan oor waboom-blaar en ghnarrabos-blare en ek weet eintlik nie wat een van daardie plante is nie. Ek weet net dis nie die eerste soort blare wat by my opkom as ek aan rykdom dink nie. Ek dink aan blare met prentjies van buffels en luiperds op. Leipoldt het daai woorde al amper ’n honderd jaar terug gepubliseer, en nou nog resoneer iets daarvan.
Ryk in herinnering, ryk in verbeelding…
Tog wys onlangse studies dat die meeste mense maar sukkel om ryk in verbeelding te wees. As iemand vir my sou vra hoeveel ek moet verdien om tevrede te wees, dan kyk ek dalk na die buurman wat so kerf of drie bo my is. Vra jy vir die buurman dan kyk hulle ’n kerf of ses hoër en so hou dit aan. Totdat ons kom by mense wat, kom ons sê objektief, skatryk is. Met hulle gaan dit anders, maar ook dieselfde.
Finansiële welvaart kom met allerhande nuwe probleme: Ander se oordeel, ander se afguns, ander se smeek vir bietjie hulp, skuldgevoelens om daai hulp te weier, vrae soos: Waar kan ek veilig my duur vliegtuig parkeer? Of: Waardeer enigiemand my vir iets anders as net geld? Hoe dink so iemand dat hulle die probleem kan oplos? As hulle net nóg so paar miljard ryker kan wees natuurlik.
As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.
1 Timoteus 6:8 (1983 Vertaling)
Timoteus het geleef voor die tyd van Temu-teus. Paulus sou vir hom ’n ander brief geskryf het as hy gesien het watse deals hulle deesdae het, nie waar nie? Selfs ek wat, objektief, ver van die koning-ryk kerf af is, kan nou allerhande nonsens bekostig. Steeds is ek nie tevrede nie.
In die res van 1 Timoteus lees ons heelwat oor leiers wat dink dat ’n godsdienstige bestaan allerhande aansien vir hulle sal bring.
Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie.
1 Timoteus 6:6-7 (1983 Vertaling)
Daardie woorde herinner my aan die lydenstydwoorde uit Job: “naak het ek uit my moeder se skoot gekom en naak sal ek daarheen terugkeer.” Volgens die kerkkalender is ons eintlik al lankal uit Lydenstyd en nou in Koninkrykstyd. Die Engelse naam is meer dikwels “ordinary time”. Die gewone en die koninkryk of dan miskien, “koning-ryk”, hou verband met mekaar.
Ek en Zinelda koop graag kuns. Vir lank het ons kuns by die ramer gelê met die idee dat ons dit so stuk-stuk sal laat raam. Toe dit té lank lê, stoor ons dit maar eers weer by die huis. Uiteindelik het ons nou onlangs meer doelgerig by die ramer opgedaag met allerhande kunswerke. Sommiges wat vir ons regtig duur is. Ander wat ons self geskilder het, ander wat ons verniet gekry het.
Met die regte oog geraam is al hierdie kuns opnuut weer kosbaar en nou hang dit uiteindelik weer waar ons dit kan waardeer. ’n Ramer is terloops ook iemand wat skat. Een van ons gunstelingkunswerke was vir jare in ’n raam wat net nie eintlik vir ons gewerk het nie. In die nuwe raam kom daai werk ook nou tot sy reg.
Ek dink hier is ’n leidraad oor tevredenheid. Om te raam wat ek het. Om my skatte na waarde te skat. Die praktiese daarvan begin dalk by iets soos ’n dankbaarheidsjoernaal, maar dis ook dieper. Meer as manifesting. Dis om ryk in verbeelding te wees sodat ek kan sien waar my rame dalk my uitsig op my seëninge skeeftrek.
Wanneer ek sukkel om dit self te doen, dan raadpleeg ek ’n ramer. ’n Vertroueling, ’n Kenner of ’n gebed wat weer perspektief kan bring. Eerder as ’n winsgewende godsdiens, is die wins van ’n verhouding met God meer as my idee van voorspoed. Dis nie ’n eenmalige oplossing vir al my probleme nie. Dis daaglikse brood, dis lewende water wat die gewone lewe en die koninkryk by dieselfde adres laat inkom.
Van die kosbaarste goed in die lewe is goed waarvan ek nie genoeg kan kry nie: ’n Besonderse ete, ’n mooi konsert, ’n sonsopkoms, ’n glas water nadat ek moeg gewerk is, tyd saam met geliefdes. Dis nie die soort goed wat ek een keer kry en dan net besit nie. Die anderkant van die munt is dat al hierdie goed nie gratis is soos wat die bekende sêding lui nie. “The best things in life are free”. Dieselfde navorsing waarna ek hierbo verwys, doen ook moeite om te beklemtoon dat daar beslis iets soos te min ook is. Die wins van godsdiens herinner ons aan God se genade, Jesus se barmhartigheid.
Ons het vandag die Rupert Museum op Stellenbosch vol van kuns wat die meeste mense nie kan bekostig nie. Tog kan jy gratis daarna kyk. Hoe het die museum ontstaan? Nadat ’n brandskrik by die Ruperts se eie huis hulle laat besef het daar is ’n beter manier om die kuns te bewaar en te waardeer.
Dikwels is tevredenheid eintlik te vinde in verganklikheid. Soos wat ons lees in 1 Timoteus 6 ook. Hoe ek die wêreld ontmoet en verlaat is wat my herinner aan genoeg. Dis wat my herinner dat ek dikwels dit wat ek deel baie meer kan waardeer. Partykeer kort ek net die regte raam om te sien wat ek het. ’n Handvol gruis kan vandag baie anders as gister lyk. Ryk in herinnering, ryk in verbeelding.
- Deon Meiring




